Local news

Kruger-beeld vertrek simbolies tydens Erfenisvieringe

Die FAK het Erfenisdag 2025 gevier met meer as 6 000 besoekers by die Voortrekkermonument. ’n Replika van 'n Kruger-beeld is simbolies op reis gestuur na Orania, met kultuurvertonings, ’n parade en insiggewende toesprake wat geskiedenis vir die besoekers lewendig gemaak het.

Erfenisdag 2025 is vanjaar met besondere betekenis deur die FAK gevier, aangesien dit saamgeval het met die vieringe rondom die 200ste geboortedag van oud-president Paul Kruger, wat op 10 Oktober val.

Die Voortrekkermonument het as middelpunt van die vieringe gedien, waar meer as 6 000 besoekers ’n propvol program bygewoon het wat geskiedenis en kultuur op treffende asook prettige wyse saamgeweef het.

Die feesvieringe het afgeskop met ’n simboliese staatsrede deur ’n vertolker van president Kruger self, Louis Engelbrecht, wat met sy rede die gehoor op die Markplein teruggevoer het na ’n era van vasberadenheid en visie.

Talle items het gevolg, insluitend ’n opvoering deur Steve Hofmeyr en danse deur verskeie volkspelegroepe. Kanonsalvo’s het weerklink oor die terrein.

Een van die mees opvallende elemente van vanjaar se vieringe was die bekendstelling van ’n 1,5 ton replika van die ikoniese Paul Kruger-standbeeld wat op Kerkplein in Pretoria staan.

Hierdie replika van die beeld, wat die afgelope twee jaar by die monument gehuisves was, het simbolies vertrek op ’n toer waarna dit op die kultuurdorp, Orania, ’n tuiste sal vind.

Die eerste stop ná die Erfenisfees was later die middag weer op Kerkplein, waarna dit op 25 September op reis sal vertrek na Rustenburg en verder na nege ander dorpe.

Opvoeringe van die toneelstuk Kruger breek die pad oop deur NP van Wyk Louw sal ook saam op die beeld se reis aangebied word.

Die stuk ondersoek Kruger se lewe en die moeilike besluite wat hy moes neem om wet en orde in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek te handhaaf.

Neil Langner en Ruan de Wet
Die gelukbringers van die Voortrekkers, Renostertjie, Kuifie en Faf het die gehoor vermaak.

Dit dien as ’n dramatiese herinnering aan waarom Kruger ’n figuur van sulke gewigtigheid in die breër Suid-Afrikaanse geskiedenis is.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, het gesê dat die besluit om die replika na ’n permanente en veilige tuiste in Orania te verskuif, uit ’n behoefte aan bewaring en beskerming voortgespruit het.

“Ons neem vandag die mooi van die geskiedenis en bou verder aan ’n nalatenskap,” het Müller benadruk.

Die vertrek van die beeld is gekenmerk deur ’n parade met perderuiters, ou staatsmotors, hondegeleiers en ‘n spoggerige koets.

’n Unieke bydrae tot die dag was die deelname van SANparke se veldwagters en Genesys K9 se honde-eenheid. Die veldwagters ondergaan tans opleiding vir die voorkoming van wildlewemisdaad in Pretoria.

Tant Gezina se teetuin het besoekers bederf met heerlike tradisionele lekkernye en daar was ook Krugerkolwyntjies en Krugermelkies te koop – ’n eerbetoon aan die president se gewoonte om sy brood in melk te doop ná ete.

Die formele program is afgesluit met ’n insiggewende toespraak deur Carel Boshoff, voorsitter van die FAK, wat gesê het dat die verwydering van die beeld meer as net ’n logistieke skuif is en ’n refleksie is van groter kultuurverskuiwings soos wat nou regdeur die wêreld ervaar word.

“In die oorgang tussen ordes is die kragte van ontbinding sterker as dié van binding omdat die nuwe orde nog buite sig bly,” het hy gesê.

Boshoff het die gehoor aangemoedig om sulke hedendaagse uitdagings as boustene vir die toekoms te sien. Hy het afgesluit met ’n aanhaling van Kruger self en die gehoor aangemoedig om die mooi en goeie uit die verlede te neem en daarop te bou.

– Kliek hier om ‘n salvo van die kanon te sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button