Tugverhoor van onderwyser aangekla van verkragting volgende week
’n Hoërskool Centurion-onderwyser, aangekla van verkragting, is geskors en sy tugverhoor is vir 29 September vasgestel. Hy is op borgtog vrygelaat terwyl die ondersoek voortgaan. Die Onderwysdepartement neem die saak ernstig op.
’n Onderwyser van Hoërskool Centurion het verlede week op ’n aanklag van verkragting in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat nadat hy van die verkragting van ’n matrikulant aangekla is.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gauteng Department van Opvoeding, sê die onderwyser is ’n beheerliggaamaanstelling en is dadelik geskors toe die bewerings en aantygings aan die lig gekom het.
Mabona het bevestig dat die onderwyser se dissiplinêre verhoor op 29 September sal plaasvind.
“Die onderwysdepartment sien sulke beweerde oortredings van hierdie aard in ’n ernstige lig en sal nie huiwer om op te tree indien die aantygings waar is nie.”
Die onderwyser het al vir ’n paar jaar volgens Mabona aan die skool klas gegee vir graad 8 tot 12-leerders.
Mabona het aangeraai dat ouers wat bewerings maak dat die onderwyser steeds met leerders kommunikeer, hierdie bewerings by die polisie moet gaan aangee.
Lumka Mahanjana, Gautengse Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, het aan Rekord bevestig dat ’n onderwyser in sy 30s op ’n verkragtingsklag op 15 September verskyn het en die saak is weer op 16 September vir sy borgtogaansoek aangehoor.
“Borgtog van R3 000 is toegestaan. Daar is beweer hy het seksuele omgang met ‘n 18-jarige leerder gehad nadat hy haar met lae punte in die vak wat sy by hom neem, gedreig het.”
– Die skool se beheerliggaam het navrae van Rekord na die department verwys.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
