Local news

Wonderboom-Suid inwoners teken petisie teen oorontwikkeling

Oorontwikkeling op ’n erf in Vyfde Laan jaag die gemeenskap die harnas in. Die saak is na die metro se beplanningstribunaal verwys, maar geen verhoordatum is nog vasgestel nie. Inwoners en raadslede waarsku teen druk op infrastruktuur en wetsoortredings.

Inwoners in die omgewing van Vyfde Laan, Wonderboom-Suid, het ’n lys van e-pos-besware en ’n formele petisie by die metro ingedien teen die oorontwikkeling van ’n residensiële erf in die area.

Beide is vir oorweging na die metro se Beplanningstribunaal verwys.

Hoewel die besware amptelik ontvang is, is daar nog geen datum vir die verhoor aangekondig nie.

Die eienaar beoog om aansienlik meer as die toegelate aantal wooneenhede vir ’n residensiële omgewing, naamlik ’n enkel woonhuis op te rig, ’n voorstel wat inwoners glo die ouer en meer gevestigde aard van die buurt radikaal sal verander.

Die gemeenskap is veral bekommerd dat die tipiese gesinsvriendelike aard van die omgewing sal verdwyn.

“Ons is bekommerd dat hierdie tipe ontwikkelings lawaai, parkeerprobleme en sosiale probleme meebring,” sê ’n inwoner wie se familie al 79 jaar in dieselfde omgewing en spesifiek dieselfde huis woon.

Die inwoners met wie Rekord gepraat het, het verkies om anoniem te bly.

Die petisie is opgestel deur ’n groep inwoners, wat hulself die ‘Concerned Residents of Wonderboom South’ noem.

Die beswaarmakers is ook bekommerd omdat die eienaar van die betrokke erf reeds begin bou het sonder finale goedkeuring deur die metro.

In die petisie voer hulle aan dat die ontwikkeling en bouery op die erf volgens hul inligting ’n oortreding van soneringsregulasies is deurdat die erf tans gesoneer is as ‘Enkel Residensieel’ (SR1), wat slegs een huishouding per erf toelaat.

Die ontwikkeling van verskeie huureenhede op die erf soos deur die eienaar beoog en aangedui volgens ’n kennisgewing op die heining van die erf, is dus in stryd met die bestaande regulasies.

Van die beswaarmakers lig uit dat hulle ook bekommerd is oor druk op openbare dienste en veiligheid, ’n afname in eiendomswaardes en lewensgehalte, en moontlike swakker rioolverwydering en stormwaterprobleme as gevolg van oorbevolking op een erf.

Een van die inwoners glo enige toestemming hieroor kan ’n gevaarlike presedent skep. “As hierdie tipe onwettige ontwikkeling toegelaat word sonder behoorlike hertoewysing van sonering en gemeenskapskonsultasie, kan dit ander eienaars aanmoedig om ook die regulasies te ignoreer.”

Raadslid Mari Joubert van die VF Plus het haar duidelik uitgespreek teen die ontwikkeling.

“As verteenwoordiger op Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanningskomitee van die metro, wil ek ’n beroep doen op inwoners om asseblief gehoor te gee aan die soneringsbeleide en grondgebruikregulasies. Hierdie tipe huise wat omskep word in laekostebehuising sit enorme druk op die infrastruktuur. Ons ervaar reeds kragonderbrekings, rioolprobleme en watertekorte in van die areas in die Moot waar sulke onwettige ontwikkeling is. Inwoners moet hierteen waak,” sê Joubert.

Sy het die gemeenskap geloof vir hul vinnige reaksie en het die petisie as ’n positiewe voorbeeld van burgerlike betrokkenheid beskryf.

Die eiendom word bestuur deur die maatskappy Dice Innovations, wat die beplande ontwikkeling verdedig.

Volgens hul bestuur wag hulle tans op die uitslag van die formele munisipale proses.

“Die datum vir die Munisipale Beplanningstribunaal is nog nie deur die stad gekommunikeer nie. As aansoekers het ons nog geen bevestiging van die verhoordatum ontvang nie.”

Hulle ontken dat daar oortredings is in terme van bevolkingsdigtheid. “Ons is nie in stryd met die bepalings van die aantal mense wat op die erf mag woon nie. Elke eenheid het ’n huurooreenkoms wat die aantal inwoners per eenheid beperk. Die voorgestelde ontwikkeling is in lyn met Skedule 2 van Tshwane se Grondgebruikskema van 2024.”

Op die vraag of daar reeds sonder toestemming gebou is, erken Dice Innovations dat daar ’n kennisgewing van die stad ontvang is om op te hou bou.

Die bouplanne self, sê hulle, sal eers ná die goedkeuring van die grondontwikkelings- en grondgebruiks-aansoek ingedien word.

Wat betref die openbare deelnameproses, sê die bestuur die kwessies wat geopper is, is aangespreek tydens ’n openbare konsultasievergadering op die terrein met die gemeenskap.

“Die gemeenskap het ingestem om hul besware formeel terug te trek met voorwaardes wat in hul terugtrekkings bepaal sal word, maar geeneen van hulle het hul besware teruggetrek soos mondelings ooreengekom nie,” het die bestuur Rekord megedeel.

Verskeie inwoners sê egter hulle is teleurgesteld in hoe Dice Innovations die gesprekke van die openbare vergadering weergee.

“Ons het ’n vergadering met die eienaar op die terrein gehad, maar ons is glad nie tevrede met hoe hy dit in e-posse uitbeeld nie. Niemand het ingestem tot die veranderinge nie,” sê een inwoner.

Die inwoners van Wonderboom-Suid sê hulle is nou meer bewus van die vereistes rondom die ontwikkelings en moontlike oorontwikkelings in die area.

Hulle is die sektorbestuur van die buurt en raadslid Mari Joubert dankbaar vir die leiding om die voorlopige bouwerk te laat stop.

“Ons is bekommerd oor die toekoms van ons buurt, en ons wil hê die metro moet die reëls toepas. In afwagting van die verhoordatum, sal ons die situasie fyn dophou. Die uitslag van die tribunaal sal waarskynlik as ’n toetsgeval dien vir soortgelyke ontwikkelings regoor die Moot en verder,” glo ’n inwoner.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button