Local news

Mara deel eeufeesverjaarsdag met Afrikaans

Mara Terblanche vier op 27 Oktober haar 100ste verjaardag met ’n glimlag en dalk met ’n dansie voor haar hangkas se spieël. Sy bly trots op haar Afrikaanse erfenis en dat sy en haar geliefde taal dié jaar saam hul eeufees vier.

Op 27 Oktober vier Huis Herfsblaar in die Moot ’n besonderse mylpaal saam met Mara Terblanche wanneer sy 100 jaar oud word.

Met haar skerp geheue, aansteeklike sin vir humor, en liefde vir ’n bordjie pap soggens, is sy die toonbeeld van volgehoue vreugde en lewenslus.

Sy het haar kinderjare in ’n hegte gesin in Bethlehem in die Vrystaat deurgebring. Sy en haar man het drie kinders grootgemaak in Naboomspruit, twee seuns en een dogter. Albei haar seuns is reeds oorlede, maar haar dogter, Magdél Fraser, woon vandag in die Moot en is steeds ’n belangrike deel van haar lewe.

Terblanche se nageslag is indrukwekkend: vyf kleinkinders en agt agterkleinkinders wat almal op een of ander manier die sagte invloed van hul ouma en oumagrootjie aanvoel.

Sy woon al 23 jaar by Huis Herfsblaar, ’n warm en innige aftree-gemeenskap waar sy haar plek gevind het ná die afsterwe van haar man vroeg in 2000.

Op 77-jarige ouderdom het sy alleen vanaf Naboomspruit na Pretoria verhuis, ’n moedige stap vir iemand wat so diep gewortel was in die plattelandse leefwyse.

“Maar eintlik voel dit soos gister. Die tyd vlieg soos ’n vinnige windvoël.”

Een van haar mooiste herinneringe is hoe mense op die draai van die eeu gesukkel het om aan te pas by die nuwe jaartalle.

“Ons was so gewoond aan 1999,” lag sy, “dat ons gewonder het hoe op aarde ons die jaar 2000 en verder gaan uitspreek!”

Hierdie eenvoudige herinnering weerspieël nie net haar skerp humorsin nie, maar ook haar aanpasbaarheid in ’n wêreld wat konstant verander.

Haar jeug was een sonder elektroniese media. “Ons het net koerante gehad vir nuus – nie eers ’n telefoon nie!” vertel sy.

Sy vertel om ’n telefoonlyn te kry, moes ses huishoudings in dieselfde distrik saam aansoek doen, ’n taak wat nie maklik was in tye toe geld maar skaars was nie.

Selfs ’n motor het nie net ’n goeie bestuurder geverg nie, maar ook petrolkoepons en wielbelasting. Haar pa het met ’n perdekar na die stasie gery om van die publieke foon gebruik te maak, ’n toneel wat vandag amper ondenkbaar is.

Al gebruik sy vandag ’n rolstoel, sal enigiemand by Huis Herfsblaar vir jou sê wanneer sy opstaan, stap sy “kiertsregop”.

Haar sig en gehoor is wel nie meer wat dit was nie, maar haar geheue bly fyn ingestel op staaltjies van haar leeftyd. Sy onthou nog hoe haar ma klein partytjies by die huis gereël het vir verjaarsdae, ’n tradisie wat haar liefde vir musiek en vreugde steeds voed.

Sy hou nou nog daarvan om so af en toe voor haar hangkas se spieël te dans, net so vir die lekkerte.

Mara Terblanche van Huis Herfsblaar. Foto: Elize Parker

Van die hoogtepunte van haar lewe was die ontmoeting met haar man, en die geboortes van haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Sy is dankbaar vir elke dag se gesondheid.

Sy is steeds dol oor mooi juwele en sal nie sommer ’n dag sonder haar oorringe of halssnoer deurbring nie.

Elke oggend eet sy haar geliefde maltabellapap saam met haar twee tafelmaats, ’n ritueel wat sy glo is gesonder as brood. “’n Mens moet eerder pap eet as brood, dis mos so,” glimlag sy ondeund.

Sy het graag jukskei gespeel. “Dit was lekker om ander uit te daag.”

Wanneer sy terugdink aan haar kinderdae, onthou sy hoe hulle as kinders heerlik speletjies gespeel en geëet het. Een van haar kosbaarste herinneringe is hoe sy haar eie kinders op haar rug geabba het.

Een van die dinge wat haar steeds opgewonde maak, is die feit dat Afrikaans as amptelike taal ook vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier.

“Dis vir my lekker dat ek en my mooi taal ’n eeufeesverjaarsdag deel. Ek hou van die gedagte,” sê sy met ’n glimlag wat spreek van trots.

Sy is nie meer in staat om self te lees nie, maar haar vriendin lees elke dag vir haar uit die Bybel.

“Dis vir my baie kosbaar,” sê sy sag. “As jy die Here in jou lewe het, is jy altyd op ’n goeie plek in jou lewe.”

OOK GELEES: Indringerboom in noord-area is steen des aanstoots

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button