Indringerboom in noord-area is steen des aanstoots
’n Probleemboom in Riekertlaan, in die noorde van Pretoria, veroorsaak skade aan plaveisel, blokkeer stormwaterdreine, en veroorsaak gesondheidsprobleme. 'n Inwoner wat die boom al vyf maande gelede aangemeld het, pleit vir die verwydering van die nie-inheemse boom, wat ook ’n veiligheidsrisiko vir voetgangers inhou.
’n Probleemboom in Riekertlaan in die noorde van Pretoria wat al vyf maande gelede aangemeld is, bly ’n bron van frustrasie vir inwoners.
Ondanks herhaalde versoeke vir onderhoud aan die boom, het die metro nog geen permanente oplossing gebied nie.
Volgens ’n inwoner wat anoniem wil bly, veroorsaak die boom verskeie probleme wat haar alledaagse lewe en dié van haar bure negatief beïnvloed.
Die betrokke boom is ’n Londonse Plataanboom, ’n hoë boom wat ernstige skade aan die plaveisel en die sypaadjie veroorsaak.
Die inwoner vertel dat die wortels van die boom die sypaadjie se grondoppervlak en plaveisel opdruk, wat dit moeilik maak om in en uit haar erf en op die sypaadjie te beweeg.
“Ek het die metro reeds verskeie kere hieroor gekontak. Die laaste wortelsnywerk aan hierdie boom was in 2023, maar dit het slegs aan een kant plaasgevind. Die wortels aan die ander kant is nog steeds ’n probleem,” sê sy.
Vir die inwoner is hierdie ongelyke sypaadjie nie net ongemaklik nie, maar hou dit ook ’n veiligheidsrisiko in, aangesien mense daaroor kan struikel.
“Die boom se blare val ook in die winter in groot hoeveelhede, wat die stormwaterdreine blokkeer en ’n oorstromingsrisiko veroorsaak,” verduidelik die huiseienaar wat al ’n geruime tyd in die omgewing woon.
Die inwoner sê die ekstra blaarval beteken sy moet sowat sewe ekstra sakke tuinvullis per maand verwyder, waarvoor sy R200 per maand aan ’n privaat vullisverwyderingsdiens betaal. Dit omdat die metro nie toelaat dat dié vullis in gewone afvalverwyderingstrollies gegooi mag word nie.
Die inwoner voel ook dat die boom ’n gesondheidsrisiko is. “Dit produseer klein bolletjies met harige sade wat sinusallergieë veroorsaak. Die sade beland selfs in ons hond se waterbak, en die hond het by ’n geleentheid amper daaraan versmoor”.
Sy wys ook daarop dat die boom ’n nie-inheemse spesie is, en vra waarom die metro steeds sulke bome in stand hou terwyl dit andersins indringerspesiebome soos Jakarandas verwyder.
Volgens haar is die beste oplossing dat die boom heeltemal verwyder word, aangesien die huidige praktyk om net die wortels elke paar jaar te sny nie ’n volhoubare oplossing is nie.
“Bo en behalwe al hierdie probleme, is ek ook moedeloos oor die gebrek aan reaksie van die metro op my versoeke, e-posse en verslae. Dit blyk niemand gee om nie.”
Kommentaar is by die metro aangevra maar geen is ontvang teen druktyd nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
