Partye roep metro tot verantwoording vir wanbestuur
Die DA en VF Plus beskuldig die Tshwane metro van stelselmatige verval in finansiële bestuur en wanbestuur van projekte. Die DA oorweeg ’n mosie van wantroue teen Eugene Modise, terwyl die VF Plus aandring op ’n forensiese ondersoek na waterkontrakte en beter toesig oor kapitaalbesteding.
Opposisiepartye in Tshwane, insluitend die DA en die Vryheidsfront Plus, het hul druk op die metro verskerp ná raad- en komiteevergaderings aan die einde van September.
Albei partye het aangekondig dat hulle gereed is om op te tree teen wat hulle beskryf as stelselmatige verval in bestuur, aanspreeklikheid en dienslewering.
Die DA fokus op die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, se hantering van ernstige bewerings teen haar adjunk en burgemeesterskomiteelid vir finansies, Eugene Modise, wat na bewering finansiële belange het in ’n maatskappy wat sekuriteitsdienste aan die stad lewer.
Die DA se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, sê daar is bewerings dat ’n interne ondersoek deur die metro bevind het dat Modise nie sy belange in Triotic, die sekuriteitsfirma, korrek verklaar het nie, wat ’n oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur sal wees.
Volgens Brink versuim Moya om op te tree en ’n spesiale raadsvergadering waarin die verslag glo verlede week sou dien, is skielik die vorige aand gekanselleer.
“Die burgemeester het genoeg tyd gehad om verantwoordelikheid te neem. Indien daar ’n verslag is wat Modise impliseer, moes hy reeds afgedank gewees het,” sê Brink.
Die DA beplan om ’n mosie van wantroue teen Modise in te dien en het ook die kwessie van Mzansi Resorts se skuld geopper. Die toerisme en funksie-bestemming op ’n perseel in Mabopane word glo met Modise verbind waar daar miljoene rande se agterstallige skuld aan die metro is, maar geen dienste afgesny is nie.
In reaksie op die aantygings oor Triotic en Mzansi Resorts, het Modise aan Rekord gesê dat die kontrak met die sekuriteitsmaatskappy, Triotic, reeds lank voor sy ampstermyn deur ’n hofbevel toegeken is.
“Ek het alles verklaar,” sê Modise. “Die DA sal altyd bose mosies instel teen Afrika-leierskap en hierdie mosie sal faal soos die onlangse een teen die Speaker. Ek is nie hieroor bekommerd nie. Hulle sal geen leierskap aanvaar behalwe hulle eie nie.”
Modise het bevestig dat Mzansi Resorts wel sy maatskappy is. Hy sê sy maatskappy het egter geen direkte rekening met die metro nie en die opgehoopte skuld is nie vir sy maatskappy se rekening nie, maar vir die van vorige huurders van die perseel.
Volgens hom is die Noordwes Behuisingskorporasie as eienaar van die perseel waarop die vakansie- en geleentheidsbestemming Mzansi Resorts is, tans in regsgedinge rondom die agterstallige bedrae betrokke.
Biskop Sello Mogodiri, hoof uitvoerende beampte van die Noordwes-Behuisingskorporasie, het aan Rekord bevestig die korporasie “het geen verhouding met die adjunk-uitvoerende burgemeester van Tshwane, Eugene Modise, nie”.
Oor die Morula Hotel wat nou as Mzansi Resorts bekend staan en deur die korporasie besit word, bevestig Mogodiri dat “die korporasie bespreek nie die verpligtinge van gekontrakteerde partye in die openbaar met die derde party nie. Maar wat ons wel kan openbaar, is dat daar tans litigasie tussen Mzansi Resorts en die Noordwes-Behuisingskorporasie is. As sodanig is die saak sub judice”.
Intussen het die VF Plus hul eie reeks ernstige bekommernisse uitgespreek oor die toestand van bestuur en dienslewering in die metro.
Nick Pascoe, VF Plus-raadslid, sê dat die jongste kapitaalbegrotingsverslag aantoon dat 95% van die metro se aangepaste kapitaalbegroting van R2.3-miljard reeds bestee is, maar dat minder as die helfte van die projekte hul beplande mylpale bereik het.
“Die party is met goeie rede bekommerd oor die metro se aanhoudende versuim om die beginsels van gesonde finansiële bestuur, doeltreffende projekuitvoering en grondwetlike dienslewering na te kom,” sê Pascoe.
Hy het gewaarsku dat meer as R1-miljard se besteding nog nie in volhoubare of voltooide infrastruktuur omgeskakel is nie.
“Die afwesigheid van oorsaak-analises, herstelplanne en gevolgebestuur dui op ’n kultuur van traagheid en onverantwoordelikheid.”
Sy partygenoot, Johann van der Spuy, het die fokus verskuif na die regsafdeling van die metro, waar meer as 3 473 regsgedinge hangende is, sommige reeds sedert 2008.
Die moontlike finansiële blootstelling beloop meer as R12.5-miljard.
“Hierdie verslag is nie net ’n lys nie, maar ’n aanklag teen ’n stelsel wat verval het in wanbestuur, roekeloosheid en korrupsie,” sê Van der Spuy. “Kaderontplooiing het die regsafdeling verander in ’n voertrog vir polities-verbonde kaders.”
Hy sê dat plaaslike regskundigheid sistematies geïgnoreer word, terwyl regslui van Sandton en Johannesburg aangestel word teen hoë koste.
Die VF Plus dring aan op die aanstelling van bekwame, interne regsbeamptes teen ’n fraksie van die huidige koste.
Peter Meijer, ook ’n VF Plus-raadslid, het gewaarsku teen die enorme kostes van wateraflewering per tenkwa.
Volgens hom betaal die metro 1c per liter vir water, maar 10c per liter om dit af te lewer, wat op meer as R530-miljoen per jaar te staan kom.
Hy sê daar is bewyse van onreëlmatighede waaronder stilstaande voertuie en moontlike dubbele fakturering, en dat geen behoorlike kontrakdokumentasie of monitering bestaan nie.
“Wanneer aflewering 10 keer duurder is as die produk self, is dit duidelik iets is verkeerd,” sê hy.
Die VF Plus het aangedring op ’n onafhanklike forensiese ondersoek na alle watertenkwa-kontrakte sedert 2021, asook die onmiddellike skorsing van amptenare wat by wanpraktyke betrokke is.
Die party beskou die verskeidenheid probleme as ’n ernstige verbreking van vertroue in die metro en ’n skending van grondwetlike verpligtinge.
“Die inwoners van Tshwane verdien infrastruktuur wat werk, nie hol beloftes en misleidende verslae nie,” sê Pascoe. “Ons sal aanhou om ons waghondrol te vervul en sal nie rus voordat daar werklike verantwoording is nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.




