Local news

Resensie: Kemp se ‘Klein konings’ vra wie is skurke en wie is helde

Klein konings is ’n veeleisende, maar uiters belonende leeservaring. Dit is ’n boek wat vra dat ons leer saamleef met meervoudige waarhede en die strukture moet bevraagteken wat bepaal wie as held of skurk onthou word.

Theo Kemp se nuutste roman, Klein konings, is ’n meervlakkige (geologies én sielkundig) literêre reis deur die Suid-Afrikaanse landskap.

Kemp verken in hierdie werk die simboliek van standbeelde en monumente, die gewig van die geskiedenis daarondom, en die stille individuele oorlog wat ons elkeen dikwels met ons eie en ons land se verlede voer.

Hy is bekend vir sy ontstellende romans Skool en die Jan Rabie-Rapport-pryswenner Strafjaart.

Sy roman het onverwags ook relevansie gekry met die skuif van ’n replika van die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein na die kultuurgemeenskap, Orania sowel as die vandalisme rondom die krygersbeelde op die plein se beeldegroep.

Klein konings sentreer rondom twee amptenare: Joubert, ’n Afrikaanse boekhouer, en Pixley, ’n ambisieuse amptenaar wat van die kuns en kultuur minister die opdrag ontvang om standbeelde landwyd te besoek, ’n inventaris te maak en hul voortbestaan te ‘herbedink’.

Die twee hoofkarakters ervaar die onsigbare kragte van plekke: die herinneringe, geskiedenis en atmosfeer.

Albei dra ongesiene bagasie. Joubert los sy sterwende waterwyser-vader by sy medium-vrou agter. Pixley worstel met sy pa se revolusionêre nalatenskap en ’n onstuimige liefdesverhouding met die enigmatiese Memory, ’n Rwandese weeskind aangeneem in Nederland, sowel as sy verhouding met sy vriend wat moontlik ’n ondernemende tenderpreneur op sy eie manier is.

In romans met so baie karakters is dit ’n kuns om die karakters elk gestalte te laat kry. Hierdie kuns lê daarin om karakters kenmerkend iets te laat doen of praat. Só leer die leser hulle ken deur hul dialoog en hul verhoudings met ander. Hierin slaag Kemp uitmuntend. Dis veral Joubert se eggenoot, Alet, wat met haar kommunikasie per selfoon gou haarself en haar veranderende lewe in Joubert se afwesigheid vestig.

Wat Kemp ook hier regkry, is meer as net ’n padroman met ’n staatskar. Dit is ’n ontluisterende psigogeografie van skuld, geheime en herinnering.

Soos Arundhati Roy se karakters wat dikwels vasgevang is tussen tradisie en moderne politiek, so is Joubert en Pixley ook gevange: nie net in elk se kultuur nie, maar in hul menswees.

Die roman Klein Konings van Theo Kemp ondersoek standbeelde en monumente se rol vandag in Suid-Afrika via die reis van twee karakters. Foto: Verskaf

Skuld is een van die bewussynstrome wat deur die roman vloei.

Die skuld van die verlede, die ‘nasionale’ skuld, meng onafwendbaar met persoonlike skuld van die twee karakters veral tydens besoeke aan KwaZulu-Natal waar Pixley vandaan kom. Hier besoek hulle onder meer die Msunduzi-museum in Pietermaritzburg, Piet Retief se beeld in die Geloftekerk en Bloedrivier se erfenisterrein.

Kemp stel nie bloot eenvoudige vrae nie; hy hou die leser lank genoeg binne die ongemak van daardie vrae sodat daar selfondersoek kan plaasvind: Wie besluit wat ’n monument werd is? Wie kry die reg om ’n ander se geskiedenis op te rig of af te breek?

Sy insigte resoneer met die woorde van Margaret Atwood, wat in haar romans met die ondersoek van politieke temas, dikwels skryf met hierdie insig: “Witness is what you must bear”.

In die proses daag hy die leser uit om ook getuienis af te lê: van hul eie aannames, bevoorregting en selfs onkunde oor die geskiedenis.

Kemp, ook die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, skryf uit ’n plek van waarneming en geheue. Geensins as toeris in sy eie land nie, maar eerder as ’n mens wat diep bewus is van die stories onder die oppervlak van standbeelde, museums en monumente.

Hierdie stories word die lae van sy karakters se lewens en dis veral die stilhou by Vereeniging (‘hierdie ontroosbare stuk plat aarde’) wat beide terugdink. Joubert aan die vredesverdrag na die Tweede Vryheidsoorlog en Pixley aan die ondertekening van die Grondwet in Sharpeville.

Theo Kemp

So is die roman dan ook gebou op die fyn waarneming van mense en plekke, van stiltes en spanning wat net ervaar en nie beskryf kan word nie.

Kemp slaag veral met waarnemings oor plekke soos Winburg en Kroonstad, ietwat onbekend dalk landwyd vir hul monumente en beelde, om met sekure trefhale die verval van die platteland te teken asook wanneer hy skryf oor die hoofkarakters se besoek aan Polokwane.

Die roman bevat ook ’n bykomende narratieflyn: dagboekinskrywings, geskryf in die derde persoon, wat randfigure laat opstaan wie se stories dikwels verlore gegaan het in die groter vertellings van ons land se geskiedenis.

Hierdie inskrywings funksioneer as ’n laag bykomend tot die hoofverhaal. Die sogenaamde stiller samelewingstemme, soos die van ’n rentboy, Freddie, word weergegee.

Kemp se styl is sonder pretensie en satiries. Die dialoog tussen Joubert en Pixley is ’n hoogtepunt: hul wantroue, wedersydse nuuskierigheid en uiteindelike begrip vorm die emosionele spilpunt van die roman.

Soos Danie Marais skryf oor Strafjaart, “wys Kemp hoe kragtig fiksie ingespan kan word om die ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan”.

Klein konings bevestig Kemp se plek as een van die belangrikste stemme in hedendaagse Afrikaanse letterkunde en juis nie net as waarnemer nie, maar as deelnemer in die proses van herbesin en herstel.

Uiteindelik is Klein konings ’n roman oor ons almal as Suid-Afrikaners: ons geheue, dikwelse verwarring oor identiteit, skuld en menslikheid.

Uitgegee deur Protea Boekhuis.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button