Local news

Twee Pretoria-skole blink uit by ATKV-Sêr

Hoërskool Garsfontein het die ATKV-Sêrkompetisie gewen met ’n produksie vol kreatiwiteit en samewerking. Hoërskool Zwartkop het die prys vir die beste musikaliteit gewen.

Nasionale sêr-mentors Frieda van den Heever en Francois van der Merwe moes vanjaar hul kreatiewe kompas aanskakel om die wenners van die 2025 ATKV-Sêrkompetisie, ’n sangkompetisie gekombineer met toneel vir groepe, aan te wys.

Twee Pretoria-skole het met trofeë by die kompetisie weggestap: Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Zwartkop.

ATKV-woordvoerder Mercia Eksteen sê dit is te danke aan jong talentvolle sêrgroepe wat die verhoog “laat vlamvat het met hul magnetiese energie en kragtige klankgolwe”.

Die Hoërskool Garsfontein van Pretoria-oos met hul tema oor fratse (freaks) het daarin geslaag om die beoordelaars met hul harmonieë en toneelvaardighede te oorrompel en is as die nasionale ATKV-Sêrwenners aangewys.

Regisseurs van die Hoërskool Garsfontein se nasionale ATKV-Sêrwengroep: Da Nielle Jordaan en Ruan Odendaal. Foto: Verskaf

Ruan Odendaal was die musiekregisseur en Da Nielle Jordaan die musiekregisseur van die groep.

Jordaan sê vanjaar was ’n lang jaar met strawwe oefeninge om die wenstreep te bereik en dit is juis hoekom die groep sukses kon behaal.

“Die metodiek en fokus van die leerders en die afrigtingsroep is deel van die sukses. Die kompetisie is ook nuut en in sy babaskoene by ATKV. Ons wil graag ’n hoë standaard stel vir die toekoms en dis ook die basis van hoekom ons suksesvol is,” verduidelik Jordaan.

Hy skryf ook die wegstap met die trofee aan die inkoop van kinders en afrigtingspan en sowel as die komposisies en toneelvernuf toe.

Hy glo die feit dat groeplede ook verplig is om in die koor te sing en so die musikale vernuf opbou, veel daarmee te make het.

“Hulle ken mekaar en kan besonders goed met mekaar skakel. Die dinamika van die groep het dit makliker gemaak om goeie beplanning te doen,” vertel Jordaan.

Vanjaar se tema van Odendaal en Jordaan se skoolgroep, was die bekende toneelstuk van Reza de Wet Mis.

Vir De Wet het die fratse in haar stuk ’n versinnebeelding van die mens se onvolmaaktheid geword.

Jordaan verduidelik hul uitgangspunt was elke individu het ’n fratsidentiteit iewers in hom op soek na aanvaarding en liefde en het die musiek en dramaspel daarrondom gesentreer.

Hy wys ook daarop dat die groep se werkdinamiek gewys het hulle wil presteer en bewys hulle skool is meer as net ’n sportskool.

“Ons wil ons skool wys as ’n dinamiese en veelsydige skool wat op alle silinders funksioneer,” sê Jordaan.

Hoërskool Zwartkop van Centurion het beïndruk met uitstaande musikaliteit tydens hul Jedi-oefenkamp-vertoning by die ATKV-Sêrfinaal. Foto: Verskaf

Die ATKV-Sêrfinaal het op 6 Oktober in die Pam Golding Baxter-teater in Kaapstad plaasgevind.

Die akteur en komediant, Solomon Cupido, het as seremoniemeester gesorg vir ’n onvergeetlike, magnetiese ATKV-Sêr-ervaring.

Sêrgroepe van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die deelgeneem en die topvier produksies is na die nasionale finaal genooi.

Soos reeds genoem, was Hoërskool Garsfontein se Die Fratse die beste produksie en wenner van R20 000, asook die ATKV-Sêrwisseltrofee.

Die ander was: Die beste hantering van tegniese aspekte: Die Hoërskool Parel Vallei met hul tema, St(ê)r; Die beste musikaliteit: Die Hoërskool Zwartkop met hul tema, Jedi-oefenkamp; Die beste nuwe komposisie: Die Hoërskool Parel Vallei met hul lied Ruimtereis.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button