Local news

Plante bemoedig en genees nou by Irene Homes

Die Blomme van Bemoediging-projek by Irene Homes het ’n kaal grasperk in ’n kleurvolle sensoriese tuin verander, wat hoop, rustigheid en terapeutiese waarde bied. Met samewerking van vrywilligers, Sol-Tech-studente en plaaslike besighede het hierdie tuin ’n simbool van sorg en gemeenskapsamewerking geword.

Waar daar vroeër net ’n eenvoudige, kaal grasperk was, het daar nou ’n kleurvolle en betekenisvolle tuin tot stand gekom by Irene Homes in Centurion.

Die projek, bekend as Blomme van Bemoediging, is net voor die Nasionale Tuindagvierings deur Solidariteit Helpende Hand se Groter Centurion-streek van stapel gestuur, saam met Sol-Tech-studente, plaaslike ondernemings en toegewyde vrywilligers.

Dié span het kragte saamgesnoer om ’n sensoriese tuin te skep by die spesiale tehuis vir bejaarde vroue met intellektuele gestremdhede.

Irene Homes is al vir dekades ’n veilige hawe vir vroue wat spesiale versorging nodig het.

Met deernis en liefde word hier na hulle omgesien, en nou het die inwoners iets besonders bygekry: ’n tuin wat hulle sintuie prikkel en emosionele welstand bevorder.

Die tuin is nie net ’n estetiese toevoeging tot die terrein nie, maar ’n plek van genesing en vrede waar vroue weer met die natuur kan skakel.

Volgens Liani Louw, streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand, was die hele proses ’n bewys van wat moontlik is wanneer mense uit verskillende sektore saamwerk.

“Ons glo hierdie tuin gaan nie net groei nie, dit gaan lewens aanraak,” sê sy. “Om te sien hoe die hele gemeenskap betrokke raak, was beslis ’n hoogtepunt.”

Sy noem ook dat plaaslike ondernemings belangrike bydraes gemaak het: van plantskenkings tot kos en toerusting.

Die aanleg van die tuin het met harde werk begin. Boomwortels is verwyder, grond is voorberei en plante met uiteenlopende kleure, geure en teksture is gekies om die sintuie te stimuleer.

Vandag loop daar kronkelpaadjies tussen geurige blomme en kruie, en die son val sag op ’n ruimte wat bedoel is om rustigheid en vreugde te bring.

“Die Blomme van Bemoediging-projek het Irene Homes se erf in ’n lewende monument van sorg en samewerking verander,” sê Louw trots.

Studente hard aan die werk in die tuin. Foto: Verskaf

Heléne Marnewick, projekorganiseerder van die Centurion-tak, beklemtoon hoe die projek mense op ’n diep vlak verbind het.

“Die natuur voed ons siel,” sê sy. “Die groep jong vrywilligers wat saamgewerk het, was ’n riem onder die hart en ’n ware uitbeelding van welwillendheid en uithouvermoë.”

Volgens Zané Babiniszky, maatskaplike werker by Helpende Hand, is die terapeutiese waarde van so ’n tuin besonders.

“’n Sensoriese tuin help met geheue, aandag en emosionele gesondheid – iets wat veral belangrik is vir mense met gestremdhede,” verduidelik sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button