Metro moet onregverdige belasting op kleinhoewes regstel – VF Plus
Die VF Plus en TLU SA eis dat die metro die onregverdige herklassifikasie van sommige kleinhoewes na residensieel onmiddellik regstel. Volgens Grandi Theunissen en Bennie van Zyl word bona fide landbouers onregmatig belas, in stryd met wetgewing wat ’n 75%-korting vereis. Hulle glo kleinhoewe-boere voorsien kos; hulle verdien beskerming, nie straf nie.
Die jongste eiendomswaardasierol van die Tshwane-metro het groot ontsteltenis onder kleinhoewe-eienaars veroorsaak.
Die herklassifikasie van talle kleinhoewes, wat vir jare as landbougrond beskou is, na residensiële eiendomme, het daartoe gelei dat sommige grondeienaars nou skielik onder veel hoër eiendomsbelasting val.
Hierdie optrede, sê verskeie organisasies en politieke partye, is nie net onregverdig nie, maar moontlik ook onwettig.
VF Plus-raadslid Grandi Theunissen stel dit duidelik: “Die VF Plus neem met kommer kennis van die metro se herklassifikasie van kleinhoewes na residensiële eiendomme in die 2025-eiendomswaardasierol wat lei tot aansienlik hoër eiendomsbelastingtariewe. Alhoewel die waardasierol oop was vir inspeksie, was direkte kommunikasie aan eienaars ontoereikend.”
Volgens Theunissen druip die metro in sy plig om eienaars regverdig en deursigtig te behandel.

Die ANC/ActionSA/EFF-koalisieregering se hantering van die saak is volgens hom “onregverdig en moontlik in stryd met die Munisipale Eiendomsbelastingwet, veral waar bona fide landbouhoewes betrokke is”.
Die kwessie gaan oor meer as bloot belasting.
Dit raak die kern van grondgebruik en bestaansboerdery.
Baie van hierdie kleinhoewes in Pretoria-Noord, Pretoria-oos, Rayton, Cullinan en Bronkhorstspruit is nie luukse residensiële erwe nie, maar werklik produktiewe stukke grond waar melk, hoenders, eiers, groente en vrugte vir plaaslike markte geproduseer word.
Theunissen verwys na die Grondwet-hofuitspraak van 24 Maart in die saak Ekapa Minerals teen die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, waar die hof beslis het dat munisipaliteite nie onredelik mag diskrimineer tussen eiendomskategorieë nie.
Hy glo hierdie uitspraak gee duidelik rigting: waar ’n eiendom vir bona fide landboudoeleindes gebruik word, geld ’n verpligte belastingkorting van minstens 75%.
“Waar die metro hierdie korting ontken en landbougrond na residensieel herklassifiseer sonder voldoende bewys van primêre residensiële gebruik, is onwettig,” sê Theunissen.
Hy voeg by dat die metro ook nagelaat het om voldoende direkte konsultasie met grondeienaars te voer, ’n vereiste ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet.
Die gebrek aan effektiewe openbare deelname maak die proses volgens hom ‘prosedureel onregverdig en regtens aanvegbaar’.
Die VF Plus dring dus aan dat die metro onmiddellik die 75%-belastingkorting herstel vir alle bona fide landbouhoewes, soos deur wetgewing vereis.
Daarbenewens moet die metro duidelike riglyne publiseer oor wat as bona fide landboudoeleindes kwalifiseer en ’n regverdige, inklusiewe konsultasieproses volg voordat enige verdere klassifikasie- of tariefveranderinge gemaak word.
Theunissen sê hy weet van minstens vyf gevalle waar kleinhoewes onregverdig herklassifiseer is, en nog verskeie ander gevalle het ook aan die lig gekom tydens ’n petisie wat die party uitgeskryf het.
Die VF Plus het intussen ’n petisie van stapel gestuur waarin hul beswaar aanteken teen eiendomswaardasies en belastingverhogings in Tshwane.
Die petisie waarsku dat hierdie “onregverdige verhogings onnodige finansiële druk plaas op inwoners, besighede en kleinhoewes. Laat ons die stad tot verantwoording roep!”
Die petisie kan onderteken word by: https://forms.gle/vXW7uHxzDQWRaUVg9.
Organisasies soos TLU SA het ook reeds kennis geneem van ’n aantal soortgelyke klagtes.
Volgens die Tshwane-metro se eiendomsbelastingbeleid word landbou-eiendomme soos volg gedefinieer: “Eiendom wat hoofsaaklik vir landboudoeleindes gebruik word, maar dit sluit enige gedeelte daarvan uit wat kommersieel vir die gasvryheid van gaste gebruik word, en sluit die gebruik van eiendom vir ekotoerisme of vir die handel in of jag van wild uit”.
Met ander woorde, enige plaas of hoewe wat hoofsaaklik vir landbou-aktiwiteite gebruik word en binne die stadsgrense val, selfs al is dit op kleiner skaal, behoort as landbougrond geklassifiseer te word.
Indien ’n eienaar dus landbouprodukte produseer vir plaaslike of landwye verspreiding, voldoen die eiendom aan die wetlike kriteria vir landbougebruik.
Die huidige herklassifikasie-aksie van die metro staan dus haaks teenoor sy eie beleid.

Bennie van Zyl, algemene bestuurder van TLU SA, beklemtoon dat die fokus altyd moet wees op die werklike gebruik van die grond.
“Dit gaan oor wat gebeur op die grond en die kommoditeit waarmee geboer word. Baie kleinhoewes het ’n bydrae om te maak tot die kosmandjies in Pretoria soos melk, hoenders en eiers. Hulle het nie noodwendig groot grond nie, maar dra wesenlik by tot plaaslike voedselvoorsiening. Dit is totaal onaanvaarbaar dat daar teen hulle gediskrimineer word.”
Van Zyl waarsku dat, hoewel die probleem tans by die metro prominent is, ander stede dalk dieselfde pad mag volg.
“Ons plaaslike regeringskomitee by TLU SA het kennis geneem, want dit is dalk nou net hier van toepassing, maar wat keer dat ander munisipaliteite nie dieselfde doen nie?”
Hy wys daarop dat boerderye, klein of groot, oor die jare heen buite stadsgrense bestaan het en dat die integrasie van landbougebiede binne munisipale strukture nuwe uitdagings bring.
“Tradisioneel het ons boere onder buitestedelike raadgebiede geval en ons was nie deel van munisipaliteite nie. Nou is dit ’n kultuur dat ’n boerdery deel is van ’n munisipaliteit. Ja, inderdaad, munisipale verordeninge het ’n impak op die boerderygemeenskap, maar boerdery gaan oor volhoubaarheid, nie oor politieke speletjies nie.”
Van Zyl benadruk dat grondgrootte nie ’n kriterium vir bona fide boerdery behoort te wees nie.
“’n Blomplaas van 10 hektaar kan dalk baie beter vaar as ’n plaas van 15 000 hektaar in die Karoo. Dit gaan oor wat werklik op die grond gebeur en watter kommoditeit verbou word.”
Hy doen ’n beroep op boere om betrokke te raak by hul plaaslike munisipaliteite, by waardasierolprosesse en begrotingsbepalings.
“Elke boer moet verstaan dat munisipaliteite die reg het om belasting in te vorder, maar daarom is dit noodsaaklik dat ons as belanghebbendes deelneem aan dié prosesse. Slegs deur deelname kan ons verseker dat ons stemme gehoor word.”
– Lees meer oor regulasies: https://propertyvaluations.tshwane.gov.za/Docs/RatesPolicy/PROPERTYRATESPOLICY.pdf
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
