Musiek haar reddingsboei
Tuin Schoeman het 19 jaar met verslawing gesukkel, maar musiek het haar gered. Haar liedjie “Konfetti sonder kleur”, geskryf saam met Ampie du Preez, bring hoop aan mense in donker tye. Sy moedig verslaafdes aan om hulp te soek, uit te reik en genesing te vind.

Musiek het die krag om lig te bring in die donkerste tye, en niemand kan beter getuig hiervan as Moot-sanger Tuin Schoeman nie.
Haar jarelange stryd van 19 jaar teen verslawing het vir haar dikwels gevoel soos ’n donker tonnel sonder einde.
Ná jare se pyn en verlies het musiek haar reddingsboei geword.
Schoeman se lewe het ’n drastiese wending geneem toe sy na rehabilitasie besluit het om aan die FAK se Afrikaanse liedjieskryfkompetisie, Skryf’it, deel te neem.
“Ná my ontslag uit rehabilitasie, het ek besluit om vir Skryf’it in te skryf. As ’n nuwe begin. Om deur woorde en wysies weer lig in my lewe te vind. Ek was op ’n plek waar ek gevoel het ek het niks meer om te verloor nie,” vertel sy.

Hierdie moedige besluit het die geboorte van haar lied Konfetti sonder kleur ingelui, ’n lied wat sy saam met haar mentor Ampie du Preez geskryf en afgerond het.
Dié lied is ’n kreatiewe prestasie sowel as ’n eerlike weerspieëling van pyn en verlies.
Schoeman het die lied opgedra aan ’n spesiale vriend wat lank met geestesgesondheid gesukkel en sy eie lewe geneem het.
“Dié verlies het my diep geraak en die lied sy hart gee,” sê sy.
Volgens haar probeer die lied mense wat deur donker tye gaan, aanmoedig om vas te byt en hoop te hou.
Schoeman se ervaring met verslawing is rou en eerlik. Sy beskryf hoe ’n lewe aan dwelms alles kan vernietig: “In rehabilitasie is dit tyd om jou kop reg te kry. ’n Lewe van dwelms laat jou soveel verloor soos familie, vriende, selfrespek. Verslawing bring pyn, chaos, woede en haat saam.”
Sy sê dat mense wat skoon word dikwels voel hulle verdien dit nie en worstel om hul plek in die wêreld te vind. Vir haar het die proses van genesing beteken om stap vir stap ’n nuwe lewe op te bou.
“Toe ek skoon kom, het ek besef daar is so ’n ryk lewe daarbuite as mens nugter is. In ’n stadium het ek gewonder wat doen mens as jy nugter is. Nou na 18 maande weet ek. Vandag staan ek hier met ’n voltydse werk, my loopbaan het begin en ek is al my familie- en vriendebande aan die herstel.”

Schoeman deel ook ’n spesifieke waarskuwing oor die uitdagende tyd van Kersfees vir mense wat met aktiewe verslawing worstel.
“Oor Kersyd is dit een van die moeilikste tye in aktiewe verslawing. Mense kuier meer, jy besef hoeveel mense jy verloor het en jy kan nie Kersfees saam met jou familie vier nie. Dit maak dat mense meer dwelms gebruik en ‘skoon’ mense kan in hierdie tyd terugval.”
Haar advies aan diegene wat worstel, is duidelik: daar is nooit ’n beter dag as vandag om op te hou nie.
“Jy moet net oorgee en uitreik na familie en instansies wat sal help. Net ’n oproep maak of WhatsApp stuur. Daar is soveel mense wat jou met oop arms sal ontvang en jou sal help. Jy sal verbaas wees hoeveel mense bereid is om te help. Toe ek gesê het dit is nou tyd om op te hou, was daar ’n leërskare van mense om my wat wou help.”
Die reaksie op die lied is indrukwekkend. Binne drie dae het dit al 700 trefslae op YouTube gehad en veral terugvoer van mense wat met depressie en verslawing sukkel, het haar binne drie dae bereik.
“Die lied is meer as net musiek en lei mense in die regte rigting,” sê sy.
Schoeman werk reeds aan nuwe liedjies waarin sy haar boodskap van hoop en genesing wil laat voortleef.
“Ek dink terug aan die dae toe ek net ’n paar hemde, ’n hoodie en ’n ou selfoon gehad het. Ek het klein werkies gedoen, met harde werk en volharding elke tree vorentoe geneem. Vandag kan ek met trots sê ek het vir my ouers ’n kar gekoop as ’n geskenk, en as ’n dankie vir al die liefde, ondersteuning en geloof wat hulle van die begin af in my gehad het.”
Haar storie is ’n herinnering dat genesing moontlik is, maar dit verg moed.
Sy sê: “As ’n verslaafde vra hoe kan ek oor begin, en waar begin mens, sê ek begin waar jy is en gebruik wat jy het. Ek het my so lank voorgeneem ‘na Kerstyd sal ek ophou’ of na ’n ander gebeurtenis, maar jou tyd is nou, in die teenwoordige. Vandag is ek dankbaar vir elke dag, my werk, en elke mens wat my ondersteun het. En my oortuigde wete dat ek niks hiervan sonder die Here kon doen nie.”
– Konfetti sonder kleur is vanaf 24 Oktober beskikbaar op alle groot musiekplatforms. Kyk hier na die video
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
