Local news

Oud-Tukkies help keer dat kameelperdgetalle daal

By Amanzi Privaat Wildreservaat naby Brandfort in die Vrystaat werk prof. Francois Deacon van die UV en dr. Collin Albertyn, voormalige UP- en Onderstepoort-student, saam met Save The Giraffes om kameelperde se voortplanting, genetika en bewaring te verbeter. Dis ’n wêreld-eerste navorsingsprojek vol hoop.

Op 29 Oktober is die wêreld se eerste Kameelperd Navorsingsprogram en -infrastruktuur amptelik by Amanzi Privaat Wildreservaat naby Brandfort in die Vrystaat bekendgestel.

Dis ’n inisiatief van die Universiteit van die Vrystaat (UV), met die ondersteuning van Save The Giraffes, die Kroonstad Dierehospitaal en Absolute Genetics.

Vir kameelperde is dit goeie nuus want die dierespesie staar ’n donker toekoms in die gesig. Twintig jaar gelede het die reusediere nog in 22 lande voorgekom. Nou kom hulle in minder as 15 lande voor.

Vir prof. Francois Deacon, die dryfkrag en hoofnavorser aan die program by UV, was hierdie oomblik die vervulling van jare se toewyding en internasionale samewerking.

“Sestien jaar en baie, baie drome,” vertel hierdie vooraanstaande en gerekende wildlewe navorser. “My werk het begin in ons nasionale parke, en dis daar waar die droom ontstaan het.”

Deacon verduidelik danksy sy ouers wat vyf kinders moes grootmaak, was kamp die goedkoopste en lekkerste om ’n groot gesin besig te hou.

“Ons het vreeslik baie plekke gesien en gekamp toe ons kinders was. Die belangstelling vir natuur, diere en landskappe is by ons almal ingeprent van kleins af. Dit het studies maklik gemaak en ook werksgeleenthede en deure oopgemaak,” glo hy.

Hy skryf sy direkte verbintenis met kameelperde toe aan die tyd toe hy vir SANparke in die Kgalagadi-wildtuin gewerk en gebly het en toe die idee van ’n doktorsgraad gekry het.

Prof. Francois Deacon van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Dierkunde spreek die skare toe tydens die amptelike bekendstelling van die kameelperdnavorsingsprogram en infrastruktuurfasiliteit by die Amanzi Privaat Wildreservaat naby Brandfort. Foto: Verskaf

Sy langtermynnavorsing en bydrae om die kameelperd van uitsterwing in die natuur op die Afrika-kontinent te red, het al uitgebreide aandag ontvang en het gelei tot drie dokumentêre rolprente oor wilde diere wat National Geographic oor sy navorsing gemaak het.

Met sy ruimtelike ekologie-benadering evalueer hy die habitatvoorkeure, dieetkeuse en ruimtelike benutting deur kameelperde in verskillende reservate regoor Suider-Afrika.

Die suksesvolle ontwikkeling van ’n kopharnas wat met ’n satelliet-GPS-toestel toegerus is, was ’n uitsonderlike prestasie van Deacon, met meer as 50 kameelperde wat tot dié sukses bygedra het. Dit het gelei tot die insameling van data en die beskrywing van gedrag wat nog nooit tevore gedokumenteer is nie.

Sy jongste navorsing word as die sleutel beskou om ’n ommekeer van kameelperdgetalle wat verder daal, teweeg te bring. ’n Internasionale filmspan is besig om hierdie proses vas te vang in ’n film genaamd Catching Giants.

“Ons kan nou met kameelperde werk soos met beeste,” verduidelik Deacon oor die nuwe fasiliteite wat navorsers by die Kameelperdsentrum kan gebruik.

“Ons kan kunsmatige inseminasie en embrio-oorplasings uitvoer, hul hormone en vrugbaarheid daagliks monitor, en dit alles in ’n omgewing waar hulle gewoond raak aan menslike teenwoordigheid.”

Deacon is ’n spanspeler en is trots dat hy in sy span van navorsers en kundiges op sekere dae tot agt veeartse het wat almal van die Fakulteit van Veeartesenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) kom.

Van die sleutelfigure in hierdie onderneming is dr. Collin Albertyn, ’n voormalige student van UP en Onderstepoort, wat sy kundigheid as veeartsenykundige voortplantingspesialis inspan om die projek se wetenskaplike droom te verwesenlik.

Die nuwe fasiliteit by Amanzi stel navorsers soos hy in staat om op gevorderde vlakke te werk met kameelperde, vanaf hul fisiologie en genetika tot voortplanting en gedrag.

Albertyn, wat die tegniese voortplantings-aspekte lei, het beklemtoon hoe die nuwe benadering dierestres dramaties verminder.

“Die opwindende ding van hierdie projek is dat ons nou baie van die prosedures kan uitvoer sonder om die diere vas te vang. Ons kan dit doen terwyl hulle staan. [Dis] ’n ongelooflike, opwindende gedagte, want dit beteken dat die diere uiteindelik stresvry hanteer gaan word.”

Deur die nuwe fasiliteit kan navorsers nou data insamel, voortplantingstegnieke verfyn en moontlik die eerste kameelperdkalf in Suid-Afrika verwelkom wat deur gevorderde reproduktiewe tegnologie gebore is.

“Ons wil ’n baba kameelperd produseer. Dit is die hoogtepunt, die groot droom,” sê hy.

Die sukses van hierdie program sou egter nie moontlik gewees het sonder internasionale vennootskappe nie. Save The Giraffes, ’n internasionale bewaringorganisasie, het die oprigting van die sentrum befonds.

Volgens Jason Pootoolal, vise-president van die organisasie, “het ons ’n bewaringsfamilie gevind wie se passie dit is om kameelperde te red. Die span van Absolute Genetics en prof. Deacon sowel as die Universiteit van die Vrystaat deel ’n gemeenskaplike doel: om die spesie se toekoms te verseker”.

UV-studente en hul internasionale eweknieë deel in die opgewondenheid. Meestersstudent Chanel Lategan sê: “Vandag wil ek net ons span gelukwens met hierdie groot mylpaal”.

Prof. Paul Oberholster, dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, het dit só gestel: “Hierdie oomblik beteken veel meer as die opening van ’n nuwe fasiliteit. Dit simboliseer ’n nuwe hoofstuk in hoe die Universiteit van die Vrystaat bydra tot bewaring, wetenskap en die welsyn van die gemeenskap”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button