Maatskaplike werkers vra kinders moet beter beskerm word
Die onlangse G20-beraad het leiers oortuig van die dringende noodsaaklikheid om kinders en kwesbare groepe teen mishandeling te beskerm. Die Centurion Maatskaplike Forum sê Suid-Afrika se Nasionale Kinderbeskermingsregister is verouderd en onvoldoende, en doen ’n beroep op internasionale druk en plaaslike betrokkenheid om verandering te bespoedig.

Die Centurion Maatskaplike Forum, ’n sub-forum van die Centurion Gemeenskapsforum, sê dat Suid-Afrika se kinderbeskermingsmeganismes nie aan die internasionale standaard voldoen nie.
Die forum het tydens ’n byeenkoms wat saam met die onlangse G20-beraad saamgeval het, daarop aangedring dat G20-leiers hul diplomatieke invloed gebruik om verandering te bevorder.
Hiertydens het maatskaplike werkers in Centurion op 21 November ’n verenigde front gevorm en pers gedra om by ’n landswye program vir die bekamping van geslagsgeweld aan te sluit en gevra dat die register verbeter.
Volgens dr. Leandie Bräsler, koördineerder van die forum, skep geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling ’n kettingreaksie van probleme.
“Kinders mis dikwels skool, ervaar akademiese agterstand en word kwesbaar vir werkloosheid en verdere geweld,” sê sy.
Sy beklemtoon dat ’n swak Nasionale Kinderbeskermingsregister oortreders toelaat om deur die stelsel te glip, wat kinders in gevaar stel.
Die forum sê dat die register dringend gemoderniseer moet word en konsekwent bygewerk moet word.
Toegang moet beskikbaar wees vir skole, kerke, hof- en regeringsinstellings, sodat skuldig bevinde oortreders onmiddellik geïdentifiseer en beskermingsmaatreëls toegepas kan word.
“Sonder ’n betroubare register kan gemeenskappe nie vroue, kinders en kwesbares beskerm nie,” sluit Bräsler af.
Die forum doen ook ’n beroep op plaaslike gemeenskapsinstellings en die publiek om deel te neem deur bewustheid, veldtogte en donasies te ondersteun.
“Samewerking tussen internasionale en plaaslike rolspelers is die sleutel tot ’n toekoms waarin kinders veilig is, vroue beskerm word en kwesbare groepe nie langer slagoffers van geweld hoef te wees nie.”
KYK: https://www.facebook.com/share/r/1HNyA9iyBV/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
