Pretorianers eis antwoorde oor Apiesrivier-besoedeling
Inwoners hoop dat verhoogde samewerking tussen die metro, nasionale owerhede en buurt- metro’s sowel as die gemeenskap uiteindelik sal lei tot ’n keerpunt vir Pretoria se waterbronne
Kommer heers tans onder inwoners van Pretoria oor die vinnig agteruitgaande toestand van plaaslike waterbronne, insluitend die Rietvleidam, die Bon Accord-dam en verskeie riviere en spruite wat deur die stad vloei.
Inwoners waarsku dat sigbare besoedeling, nare reuke en swak watergehalte toenemend ’n gesondheids- en omgewingsrisiko inhou.
Besoedeling afkomstig van buurt-metro’s, stedelike besoedeling, infrastruktuur wat onder druk is en besoedeling as gevolg van onwettige aktiwiteite in die middestad word as van die grootste oorsake beskou.
Die voortdurende besoedeling van die Apiesrivier het veral ’n nuwe dringendheid gekry namate Rooiwal se disfunksionele rioolverwerkingsaanleg se verval toenemend as die hoofoorsaak van waterbesoedeling in die noorde van Pretoria uitgewys word.
Die Rooiwal-aanleg is ontwerp om miljoene liter afvalwater per dag te verwerk maar kan eenvoudig nie meer die volume hanteer nie.
Met ’n onlangse oorsigbesoek deur die DA aan die aanleg is daar bevind slegs ses ton rioolslyk maandeliks verwerk word terwyl daar inderwaarheid 60 tot 70 ton verwerk moet word.
Die aanleg ly onder jare se swak instandhouding, meganiese ineenstortings en die gebrek aan voltooide bywerkings wat reeds in 2004 aanbeveel is en tans voltooi word in verskeie fases in ’n projek tussen die metro en verskeie vennote.
Tog voel inwoners van Pretoria-Wes, Wes-Moot en Pretoria-Noord dat die disfunksionele Rooiwal-aanleg nie die enigste sondebok van waterbesoedeling in die Apiesrivier is nie.
Die rivier, een van die belangrikste waterlope wat verskeie buurte deurkruis, word nou as een van die ernstigste gevalle van waterbesoedeling beskou.
Die rivier ontspring suid van die stad, vloei deur Sunnyside, die stadskern, die Nasionale Dieretuin en die Wonderboompoort, en vloei uiteindelik noord tot in die Bon Accord-dam. Ondanks sy geskiedkundige en ekologiese belang, is die waterkwaliteit oor groot dele van die loop duidelik aan die kwyn.
Inwoners sê dat hulle toenemend bekommerd is oor die reuk en sigbare besoedeling in die water.
Een inwoner verduidelik dat rommel en troebel water ná reën dikwels in groot volumes by hul woongebied verbyvloei en dat dit op sekere dae lyk asof rioolwater direk in die rivier beland.
Volgens metrowoordvoerder Lindela Mashigo, is besoedeling uit stedelike gebiede een van die probleme by die besoedeling van die Apiesrivier.
Hy sê: “Die Apiesrivier is skoon van die fonteine tot by die middestad, maar sodra dit die middestad binnebeweeg, begin die besoedeling toeneem. Aktiwiteite in die stadskern en die besoedeling uit sytakke soos Steenhovenspruit en Skinnerspruit beïnvloed die watergehalte negatief.”
Mashigo verduidelik verder dat baie van die waterbesoedeling direk uit menslike aktiwiteite in die middestad en Pretoria-Wes voortspruit.
“Ons sien tans dat voedsel- en industriële afval van informele ondernemings in stormwaterdreine beland. Hierdie materiaal spoel uiteindelik in die rivier af. Dan is daar ook die voortdurende riooloorvloeie en mense wat stormwaterstelsels misbruik om gebruikte olie en ander chemikalieë weg te gooi.”
Hy voeg by: “Marabastad se handel, informele meganiese werkswinkels in Pretoria-Wes en riool wat uit verlate of onwettig-besette geboue ontsnap, is van die grootste bronne van waterbesoedeling in die middestad.”
Die skade aan die omgewing is reeds sigbaar.
Mashigo waarsku: “Hoë vlakke van voedingstowwe soos stikstof en fosfor bevorder algegroei. Hierdie alge gebruik die suurstof in die water op, en dit bedreig visse, plantegroei en ander waterlewe. Dit ontwrig die hele ekosisteem en lei tot ’n verlies aan biodiversiteit.”
Benewens die ekologiese skade, hou die besoedeling ook risiko’s vir mense in.
Volgens Mashigo: “Indien die besoedeling hoog genoeg is en mense daarmee in aanraking kom, kan dit gesondheidsgevare inhou. Bakterieë, virusse, chemikalieë, swaarmetale en selfs parasiete kan aanwesig wees in besoedelde water en tot siektes lei.”
Hy sê dat die stad nie kan bevestig of mense hierdie water gebruik vir huishoudelike doeleindes of boerdery nie, maar voeg by: “Ons het gemeenskappe reeds gewaarsku om nie water uit riviere of spruite vir ontspanning, kulturele of godsdienstige gebruike te gebruik nie.”
Die monitering van die watergehalte val onder die Nasionale Departement van Water en Sanitasie, tesame met die metro se Water- en Sanitasie-eenheid.
Mashigo sê dat daar boetes bestaan vir individue of ondernemings wat die munisipale verordeninge oortree deur afval in dreineringsisteme te stort. Die uitdaging bly egter dat oortredings dikwels plaasvind wanneer handhawing nie teenwoordig is nie.
Mashigo meen dat die oplossing ’n gesamentlike poging verg.
Hy verduidelik: “Dit is belangrik dat inwoners en ondernemings munisipale verordeninge nakom. Ons moet almal saamwerk om te keer dat afval in stormwaterstelsels beland. Gemeenskapsbetrokkenheid is noodsaaklik. River-skoonmaak-aksies help, maar voorkoming is die beste beskerming vir ons waterbronne.”
Hy sê dat beter instandhouding van stormwater- en rioolstelsels ook nodig is om te verhoed dat besoedeling voortgaan om die stad se damme en riviere te versmoor.
“Infrastruktuurverbeterings is noodsaaklik om te verseker dat die water wat uiteindelik in die Bon Accord-dam, Rietvleidam en ander waterliggame beland, skoon en veilig is.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.