Local news

Kenner verduidelik hoe om jou kind se rapport te verstaan

Maryna Besseling van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie sê ouers moet promosie, progressie en kondonering op verslae reg interpreteer. Gereelde kommunikasie met onderwysers help om leeragterstande vinnig aan te spreek en emosionele welstand te beskerm.

Die skooljaar staan einde se kant toe, en vir ouers bring dié tyd dikwels ’n mengsel van opgewondenheid en spanning.

Skole reik nou verslae uit vir leerders van graad 1–11, en hoewel hierdie dokumente baie waardevolle inligting bevat, kan dit soms verwarrend wees.

Terminologie, kodes en onderwystaal laat menige ouer onseker oor hoe om hulle kind se prestasie werklik te interpreteer.

Volgens Maryna Besseling, professionele adviseur van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), ervaar baie ouers jaarliks dieselfde onsekerheid.

Maryna Besseling, professionele adviseur, Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Foto: Facebook/Maryna Besseling

Sy verduidelik dat ’n rapport of verslag altyd die vakke sal lys wat ’n leerder gedurende die jaar voltooi het, tesame met ’n vlak (1 tot 7) of persentasie.

Baie skole sluit ook die graadgemiddeld in om te help illustreer hoe die leerder relatief tot die res van die groep presteer het.

Maar wat beteken die woord ‘promosie’ op ’n rapport?

“Op baie verslae word die term promosie gebruik om aan te dui dat die leerder na die volgende graad vorder omdat hy of sy aan die vereistes van al die vakke voldoen het. Dit is die duidelikste aanduiding dat die leerder die graad slaag,” verduidelik sy.

Volgens Besseling is dit belangrik dat ouers weet dat ‘promosie’ nie net op punte gebaseer is nie, maar op die totale vordering van die kind, insluitend werkstukke, assesserings en die vereistes per vak.

Sy beklemtoon dat promosie ’n aanduiding is van voldoende beheersing van die jaar se leerinhoud.

Die woord ‘progressie’: Wanneer word dit gebruik?

“Soms sien ouers die woord ‘progressie’ op ’n rapport. Dit beteken dat die leerder reeds een keer in die fase ’n graad herhaal het of saam met die ouderdomsgroep geskuif word.”

Besseling verduidelik dat progressie gebaseer is op die beginsel dat leerders emosionele en sosiale nadele kan ervaar wanneer hulle ouderdomsgewys agter raak.

Navorsing toon dat herhaling soms gevoelens van skaamte, isolasie of lae selfbeeld versterk, veral as die leerder steeds met dieselfde groep skoolmaats in die skoolomgewing is.

Sy bevestig in hierdie gevalle behou ouers steeds die reg om te besluit of hul kind die graad moet herhaal of moet vorder.

Volgens Besseling moet ouers egter hierdie besluit saam met die skool neem en deeglik oorweeg wat die beste vir die kind se langtermyn-leer en welstand is.

Sy verduidelik dat skole gewoonlik reeds ’n ondersteuningsprogram voorberei vir leerders wat progressief vorder, veral in kerngebiede soos leesbegrip en wiskundige vaardighede.

Sy doen aan die hand dat ’n gesprek vroeg in die nuwe jaar met die voogonderwyser kan help om seker te maak dat die nodige intervensies van die skool se kant in plek is.

“In graad 10 en 11 word dit ook makliker sigbaar of ’n vak nie meer geskik vir die leerder se vaardighede of belangstellings is nie,” glo sy.

Besseling wys ook daarop dat dit verkieslik is om vakke reeds in hierdie jare te verander eerder as om in graad 12 te worstel met vakke wat te groot uitdagings bied.

‘Kondonering’ weer is ’n term wat ouers deesdae al hoe meer op verslae sien.

“Dit verwys na ’n punte-aanpassing van tot 5% in sekere vakke, om leerders te help wat naby die slaaggrens presteer. Maksimum drie vakke kan gekondoneer word.”

In graad 4–9 neem leerders ’n groot aantal vakke, baie meer as in die vorige fase.

“Die tyd om al die leerinhoud deeglik te dek, is dikwels beperk, en talle leerders worstel met taal as onderrigmedium, veral waar dit nie hulle moedertaal is nie.”

Besseling verduidelik dat die Departement van Basiese Onderwys hierdie kondoneringsaanpassing ingestel het om te verseker dat leerders nie benadeel word deur faktore buite hulle beheer nie.

Sy meen die Covid-19-pandemie het groot leerverliese veroorsaak, en baie leerders in hierdie grade werk steeds daaraan om die agterstande in te haal.

Wiskunde is een van die grootste struikelblokke, en spesifieke kondoneringsreëls geld juis vir hierdie vak om te voorkom dat leerders ’n hele graad herhaal oor een vak.

Volgens haar skryf onderwysdepartemente voor dat ouers voor die finale rapport ingelig moet word indien ’n leerder nie soos verwag vorder nie. Skole moet ook aandui watter planne hulle het vir ekstra ondersteuning soos naskoolse klasse, intervensieprogramme of individuele hulp.

Besseling benadruk dat gereelde kommunikasie tussen ouers en onderwysers noodsaaklik is.

“Wanneer onderwysers ekstra hulp aanbied, kan dit agterstande vinnig aanspreek.”

Sy herinner ouers daaraan dat kinders nie teen dieselfde tempo leer nie; sommige het net meer tyd en oefening nodig om die inhoud te bemeester.

“’n Skoolrapport is nie ’n finale oordeel nie. Dis bloot ’n opname van jou kind se vordering op ’n spesifieke tyd in die jaar.”

Besseling moedig ouers aan om met empatie en begrip te reageer wanneer die rapport huis toe kom, eerder as met skok, woede of teleurstelling.

Die doel van ’n bespreking daarvan met jou kind is om geleenthede vir groei te identifiseer en saam met die skool ’n pad vorentoe te beplan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button