LifestyleLocal news

’n Golf van Kersvreugde spoel deur die Moot

Die Moot Kersrit het weer in die week van 3 Desember die Moot se strate met liggies, musiek en kinderblydskap gevul. Meer as 20 voertuie, ’n Kerstoneel-trok, elfies wat dans en geskenkies uitdeel, asook SAPS en gemeenskapshelpers, het saam ’n warm Kersgees geskep wat jonk en oud laat glimlag het.

Die liggieslint van meer as 30 motors en trokke wat die jaarlikse Kerskonvooi van die Moot Christmas Drive NPC vorm, het weer die afgelope paar dae soos ’n glinsterende feeswa van skemer tot om 21:00 deur die woonbuurte beweeg.

Die Mon Ami Traumaberaders en familielede het diens gedoen op die trok met die Kerstoneel as spelers in die Kerstoneel en talle inwoners soos Thomas Sambo (agter links) en Linda Mushi (agter regs) wou saam met hulle afgeneem word. Voor: Anton Gerber, Estelle Gerber en Jeanette Botha. Sandra du Plessis (agter middel) en Grant Botha (heel agter). Foto: Elize Parker

Vir Susan Andrews, voorsitter van die Villieria CPF, bly hierdie tradisie een van die kosbaarste maniere om die gemeenskap saam te bind in oomblikke van vreugde.

Desré Brandon, Veronique van Deventer en Blikkies Prinsloo. Voor: Wejana Lobar Foto: Elize Parker

Sy sê vir haar is dit veral die kinders se gesiggies wat ‘als die moeite werd maak’ en ook die glans in die oë van inwoners van ouetehuise soos Huis Herfsblaar wanneer die konvooi van versierde voertuie, musiek en kleurvolle trokke naderkom.

Ancelize van der Kooi van Brinant het talle van die reëlings behartig en weer gesorg vir die groep vrolike ‘elfies’ wat by twee stopplekke van die groot leierstrok afgespring het asook om donasies bymekaar te maak.

Quintin Smit. Foto: Elize Parker

Die vrolike span in hul groen vrolike Kers-T-hemde en tutu’s het met voorbereide roetines gedans, suigstokkies aan kinders uitgedeel en by die ouetehuis kleurvolle Kersklappers versprei. First Help het vanjaar hand bygesit om te verseker dat als vlot verloop, terwyl SAPS-lede ook saam met voertuie van die sektorpolisiëringsforums ook voor in die stoet gery het.

Die konvooi self het sowat 30 voertuie en twee groot trokke ingesluit, talle sorgvuldig met ligkruise, opblaas-Vader Kersfees-figure en ander feestelike versierings versier.

Duné, Eilandie en Yolané Smit van Pretoria-Noord Foto: Elize Parker

Een van die hoogtepunte was die trok met die Kerstoneel, beman deur lede van die Mon Ami Traumaberaders en hul familie.

Hierdie uitstalling, met Josef, Maria, die wyse manne en die krip met die baba Jesus, was veral gewild onder die kleingoed wat geesdriftig die trok uitgeklim het om te poseer.

Estelle Gerber van die beradersgroep glo dit is ook vir hulle as ’n span ’n goeie afsluiting na ’n harde jaar. “En hoe lieflik om deel te wees van so ’n gees van welbehae en samehorigheid!”

Sandra du Plessis, Marlenique en Qian Venter met baba Marolé. Foto: Elize Parker

Lethlathlo Letlolo, slegs ses jaar oud, was stralend oor die foto van haar waar sy in die Kerstoneel langs Maria haar plek glimlaggend ingeneem het.

Lente Eksteen (7) het ook nadergestaan vir ’n foto met Maria en Josef. Haar ouers het soos vele ander inwoners, vooraf ’n plekkie uitgesoek en agter in hulle luikrugmotor uitgekamp om die optog te beleef.

Langs die roete het motorinwoners met kampstoele, gekleurde flitse en selfs straatbraaie met heerlike braaivleisgeure, die konvooi ingewag. Piekniekgangers het op sypaadjies op helderkleurige komberse gesit en selfs honde het nadergesnuffel om te kyk wat aangaan.

‘n Vrolike span Kers-elfies onder leiding van Ancelize van der Kooi (agter tweede van regs) het telkens by stoppunte vooraan die Kerskonvooi gespring om die skares te vermaak. Foto: Elize Parker.
Leah Blom, Amoré van der Ende en Miané Blom. Foto: Elize Parker

Die musiek, ’n mengsel van Kersliedere en vrolike feestelike treffers, het onder die sterrehemel weerklink.

Versierings het wyd gewissel. ’n Sleepwaentjie is kreatief oopgeslaan en binne is ’n miniatuur Betlehem, volledig met kartonhuisies wat soos gemmerbroodhuise gelyk het, uitgestal. Die trok is beman deur Amore van der Ende van Margie Pienaar Eiendomme, wat vertel het hoe die hele span saam aan die toneel en geboutjies gewerk het. Dit is die aanloop tot hul 12-dae-tot-Kersfees-projek waartydens hulle daagliks iets vir die gemeenskap doen, soos om geskenke by skole af te lewer.

Quintin Smit het sy motor met twee bokke vooraan, liggies en blink Kerslinte versier. Hy neem al sewe jaar lank deel aan sulke optogte in Pretoria omdat hy daarvan hou om die kinderblydskap te sien. “Die gesiggies verhelder, soos die liedjie sê, soos sterreliggies.”

Verskeie woonbuurte is oor verskillende aande besoek, en oral het mense van balkonne, winkelhoeke en opritbraaie gewuif. Musikante soos Irene Louise van Wyk en Ghapi het die reise met musiek afgeskop.

Villieria SAPS-woordvoerder a/o Marinda Austin bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning deur die jaar en ook tydens die Kersrit. “Ons wens almal ’n veilige, vreedsame en vreugdevolle feesseisoen toe.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button