Stormskade laat inwoners woedend ná kragonderbrekings
Talle Moot-inwoners se feestafel en Kersbegrotings het 'n knou gekry nadat dae lange kragonderbrekings veroorsaak het dat hul einde-van-die-maand kruideniersware en duur vleis in yskaste en vrieskaste bederf het.
Wat ’n feestelike begin tot Desember moes wees, het vir duisende inwoners van die Moot in ’n week van verliese verander.
Die groot storms van die eerste week in Desember het kraglyne afgeruk en infrastruktuur beskadig. Maar inwoners sê die situasie is vererger deur jare se agterstallige onderhoud, langdurige stiltes van die metro oor die verloop van herstelwerk en selfs bewerings dat sekere huishoudings hul krag vinniger terugkry as hul glo ’n omkoopbedrag betaal.
In Waverley, Villieria, Rietfontein en Bergtuin is van die inwoners nog aan die begin van die tweede week in Desember besig om die gevolge te dra.
Kruideniersware wat aan die einde van die maand gekoop is, insluitend vleis, het bederf.
Inwoners vertel hul Kersbegrotings is tot op die been gesny met diesel wat vir kragopwekkers aangekoop moes word.
Talle sê hulle voel heeltemal aan hul eie lot oorgelaat omdat daar nie werklik gehoor aan hul klagtes deur die metro gegee word nie.

DA-raadslid Wayne Helfrich beskryf die week as traumaties.
“Dit was ’n verskriklike nagmerrie met geen bruikbare terugvoer van die metro se departemente nie en bitter min diens.
Gelukkig lyk dit asof die meeste van die wyk se krag hier aan die begin van die tweede week herstel is, buiten twee of drie strate in my wyk,” sê Helfrich.
“Dit sou minder frustrerend gewees het as eerlike terugvoer deur die metro gegee is sodat ek my wyk se inwoners kan inlig. Ek het nie altyd goeie nuus oor krisisse nodig nie, maar selfs slegte nuus is beter as die metro se stilte,” sê hy.
Helfrich meen weerlig, bome wat omgeval het en jare se gebrek aan behoorlike boomversorging het die ergste skade veroorsaak.
Volgens hom sou baie van die onderbrekings voorkom kon word as basiese instandhouding aan infrastruktuur soos kabels sowel as bome gedoen is.
DA-raadslid Adriana Randall sê die herstelwerk het eers na vier tot sewe dae sigbare vordering getoon.
“Ons het gesmeek en gesoebat by die depot. Eers op die sewende [dag] het ons werklik resultate begin sien. Intussen het ons ernstige ontwrigting in Waverley ervaar waar neutrale kabels ook nog verder gesteel is. Neutrale kabels het letterlik meter vir meter van een paal na die volgende verdwyn, en in Bergtuin was dit dieselfde storie,” verduidelik sy.
’n Neutrale kabel in ’n munisipale elektrisiteitstelsel is ’n geleier wat stroombane voltooi deur stroom terug na die bron te dra nadat dit deur ’n las gegaan het. Dit is meestal gefokus op aardpotensiaal, verseker veiligheid, dien as verwysingpunt en help toestelle en stroombaanbeskermers korrek werk.

Sy sê groot blokke, insluitend Starkeylaan, was ses dae sonder krag.
“Mense het enorme verliese gely. Niemand is gelukkig met die swak diens van Tshwane nie. Dit was chaos.”
Baie inwoners hoop bloot dat die herstelwerk sal hou.
Vryheidsfront Plus-raadslid Peter Meijer glo meeste van die krag in Waverley is nou weer aan. “Ek vertrou dit bly so, maar enige verdere storms kan weer nuwe probleme laat ontstaan.”
Die metro sê hulle het wel hul herstelspanne opgeskaal.
Metro-woordvoerder Selby Bokaba verduidelik dat bykomende kundiges ontplooi is en dat spanne gestuur is om die Moot se herstelwerk te bespoedig.
Hy sê die stad het groot vordering gemaak sedert die storms aan die eerste week van Desember en dat groot onderbrekings teen 6 Desember reeds van 60 tot 9 verminder is. Hy bedank inwoners vir hul geduld terwyl herstelwerk voortgaan.
Die DA meen die krisis is egter buite beheer.
DA se Tshwane koukusleier Cilliers Brink sê: “’n Mens sou dink dat die feit dat die helfte van die hoofstad byna ’n week sonder krag is, ’n onmiddellike noodreaksie sou aktiveer.”
Hy waarsku dat die stad nie eens die volle omvang van die onderbrekings begryp nie, omdat talle klein foutlyne nie aandag kry nie.
Brink meen die stad skend sy wetlike verpligtinge teenoor inwoners.
“Inwoners moet hul munisipale rekeninge betaal en aan norme voldoen. Net so is die stad wetlik verplig om aan die vereistes van sy Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika-lisensie te voldoen. Gegewe die stad se onvermoë om behoorlik te reageer, sal die DA formeel aan die Energiereguleerder skryf om op rekord te plaas dat die metro sy lisensievoorwaardes oortree,” sê hy.
Sommige inwoners regoor Pretoria beweer dat krag vinniger herstel kon word indien gehoor gegee is aan versoeke vir omkoopgeld.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê alle klagtes oor korrupsie moet by wyksraadslede én die anti-korrupsielyn 080 874 9263 aangemeld word.
Hy benadruk dat die stad sulke klagtes ondersoek volgens vasgestelde prosedures.
Op vrae oor hoe die metro gaan keer dat elke storm vorentoe die netwerk lam lê, sê Mashigo tegniese spanne ondersoek elke fout individueel en doen herstelwerk as deel van deurlopende instandhouding.

Hy voeg by dat inwoners wat verliese gely het eise kan indien deur die stad se formele prosesse.
Die eisvorm vir skade kan versoek word van Tshwane Huis, Grond Vloer, Kamer GL36. Die gebou is in die middestad in 320 Madiba Straat 320, Pretoria. Voltooide vorms kan gestuur word aan [email protected]. Volledige inligting hieroor is beskikbaar op die webwerf: https://www.tshwane.gov.za/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
