Local news

2026 Verkiesings: Datum nog nie bevestig nie, geen e-stemmery

Die verkiesingskommissie het R2.1-miljard aan die 2026 plaaslike regeringsverkiesings toegewys, met die fokus op gereedheid, kieserregistrasie en opgradering van stelsels. Terwyl e-stemmery van die tafel af is, is voorbereidings in volle swang te midde van samesprekings oor tydsberekening van verkiesings. Inwoners word gemaan om vroeg vir Suid-Afrika se volgende munisipale verkiesings te registreer deur digitale platforms te gebruik.

Voorbereidings vir die 2026 munisipale regeringsverkiesings is aan die gang, en die Onafhanklike Verkiesingskommissie verklaar dat bestendige vordering in sleutel-operasionele gebiede gemaak word.

Die nasionale tesourie het ’n begroting van R2.1-miljard aan die verkiesings toegestaan, alhoewel e-stemmery teruggetrek is.

Volgens die OVK, bly sy fokus steeds daarop om ’n geloofwaardige, deursigtige en doeltreffende-bestuurde verkiesing te verseker wat aan grondwetlike standaarde en die verwagtings van die publiek voldoen, ongeag van wanneer die verkiesings binne die aangewese tydperk tussen November 2026 en Januarie 2027 sal plaasvind.

By ’n media-inligtingsessie het die adjunkhoofverkiesingsbeampte van die OVK, Masego Sheburi, die kommissie se gereedheidsplanne, aanhoudende registrasieveldtogte en die logistieke en finansiële raamwerk rondom die voorbereidings omskryf.

Hy beklemtoon dat terwyl die kommissie nie die verkiesingsdatum beslis nie, word die kabinet deurgaans geraadpleeg.

“Dit is nie die kommissie se plek om die datum aan te kondig nie, maar om gereed te wees wanneer die datum aangekondig word en die verkiesings ingestel word,” sê Sheburi.

Die OVK teiken egter die eerste Woensdag in November vir die 2026 verkiesings.

Die beslissing van die uiteindelike verkiesingsdatum hang af van verskeie eksterne faktore. Dit sluit in somerreënval, die nasionale matriekeksamen-skedule, en moontlike slegte weer wat die opkoms van kiesers en logistieke doeltreffendheid mag beïnvloed.

Verkiesings wat tydens swaar reënbuie gehou is of wat met die eksamens oorvleuel het, het in die verlede probleme geskep vir beide die verkiesingspersoneel en die publiek.

Amptenare maan dat indien die verkiesings vroeër as November 2026 gehou word, sal munisipale rade mosies moet aanvaar wat hul huidige bepalings formeel ontbind.

Nog ’n belangrike mylpaal in die aanloop na die verkiesings is die afhandeling van die wyksafbakeningsproses deur die munisipale afbakeningsraad (MDB).

Die MDB het bevestig dat die finale afbakening van wyke vroeg in Desember oorhandig sal word, en die kommissie byna ’n jaar gee om operasionale beplanning en logistieke ontplooiing dwarsoor die land se munisipaliteite te finaliseer.

Die toekenning van R2.1-miljard onderstreep die omvang van die verkiesings en die land se verbintenis aan vrye en regverdige verkiesings.

Hierdie befondsing sluit in personeel, logistiek, kiesersopvoeding, tegnologiese stelsels en koördinasie van sekuriteit met staatsinstellings.

Sheburi meld dat die OVK reeds met beplanningsentrums en ’n gesamentlike staatskomitee werk om potensiële risiko’s te bepaal en om seker te maak dat elke komponent van die verkiesingsmasjinerie in plek is.

“Tans is daar geen bekommernisse nie, maar ons werk nouliks saam met staatsinstellings wat ’n afsonderlike gesamentlike komitee het wat met beplanningsentrums werk, en hul sal ons ’n idee gee waar die kwelpunte is,” verduidelik hy.

Meer as 305 206 nuwe kiesers het tussen Januarie en September vanjaar geregistreer, terwyl 60 752 bestaande kiesers hul besonderhede opgedateer het.

Alhoewel hierdie syfers ’n gesonde betrokkenheid toon, sê Sheburi dat daar nog baie mense is wat moet registreer of hul informasie opdateer voor die dag van die verkiesings.

Afgesien van ’n maandelikse verminderingskoers van ongeveer 31 000 kiesers as gevolg van sterftes en ander verwyderings vanaf die kiesersrol, verwag die kommissie om hierdie verliese deur geteikende registrasieveldtogte te balanseer.

Tegnologiese stelsels is sedert die vorige verkiesings versterk, wat verseker dat die infrastruktuur miljoene kieserinteraksies soomloos kan hanteer.

“Stelsels by die kommissie is in stand gehou en opgedateer sodat indien daar besluit word op ’n verkiesing, dat alle stelsels die volgende dag gereed is,” bevestig hy.

Terwyl daar groot belangstelling in die konsep van e-stemmery is, het die OVK dit duidelik gemaak dat digitale stemmery nie deel van die 2026 munisipale verkiesings sal uitmaak nie.

“Die bekendstelling van e-stemmery sal aansienlike openbare belegging in digitale infrastruktuur dwarsoor die land vereis, en die ontwikkeling van ’n sterk wetgewende raamwerk voordat sulke tegnologie geïmplementeer kan word,” sê Sheburi. “Indien e-stemmery in die toekoms bekendgestel sal word, sal dit in beplanningsfases gebeur.”

Die voorgestelde veranderings is bedoel om besware teen die voorlopige kierserslys te beperk en om in geval van geskille, beskikbare oplossings beskikbaar te stel.

Dit sal prosedures stroomlyn en probleme wat op die laaste tydstip na vore kom en verkiesingsvoorbereidings vertraag tot ’n minimum beperk.

Bo en behalwe laasgenoemde sê die kommissie dat daar ’n 90%-voldoeningskoers onder verteenwoordige politieke partye is, met 18 uit 20 wat hul geouditeerde finansiële state vir 2024/25 ingedien het. Build One SA en die Nasionale Kleurlingkongres is formeel aangesê om aan die vereistes te voldoen nadat hulle hul voorleggings laat ingehandig het.

President Cyril Ramaphosa se onlangse aanstellings van Joyce Pitso, Regter Dhaya Pillay, en Mosotho Moepya as verkiesingskommissare is hartlik verwelkom.

“Ons verwelkom die afhandeling van hierdie belangrike proses, wat stabiliteit en kontinuïteit verseker namate ons die deurslaggewende finale jaar voor die verkiesings betree,” sê Sheburi.

Tussenverkiesings, wat normaalweg plaasvind binne 90 dae vandat ’n setel in ’n raad vakant word, sal vanaf April 2026 gestaak word in voorbereiding vir die algemene munisipale verkiesings.

Dit verseker dat hulpbronne en aandag na die groter verkiesingsgeleentheid herlei word. Proporsionele verteenwoordigings-raadslidvakatures mag egter nog gevul word tot die vooraand van die algemene verkiesings.

Die kommissie doen ’n beroep op alle stemgeregtigde kiesers om nou na vore te kom namate wat voorbereidings toeneem.

Diegene wat nog moet registreer kan registertovote.elections.org.za besoek, en die woord ‘Hi’ na 0600 88 0000 op WhatsApp stuur of die tolvrye nommer skakel by 0800 11 8000.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button