Onderwysdepartement skuld publiek antwoorde oor vraestelle wat uitlek
Die uitlek van matriekvraestelle in kernvakke het druk op die Onderwysdepartement geplaas. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum soek dringend antwoorde oor die ondersoek en eis optrede teen skuldiges. Die sentrum waarsku dat die geloofwaardigheid van die NSS-eksamen op die spel is.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ernstige kommer uitgespreek oor die Departement van Basiese Onderwys se hantering van die ondersoek na die uitlek van matriekvraestelle in kernvakke tydens die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen.
Die Basiese Onderwys-minister, Siviwe Gwarube, het vroeg in Desember bevestig dat twee werknemers van die departement geskors is vir hul beweerde betrokkenheid by die uitlek van Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenvraestelle in Gauteng. Dit is by drie vakke, Engels Huistaal, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, ontdek en betrek 26 leerders in sewe skole in die Pretoria-omgewing. Gwarube het gemeld hulle het die werknemers by die polisie aangekla.
Die direkteur-generaal van Onderwys, Mathanzima Mweli, het onlangs gesê dat die voorval nie die integriteit van die eksamen in gedrang bring nie, ’n standpunt waarmee die SOS sterk verskil.
Volgens die SOS plaas só ’n grootskaalse sekuriteitsbreuk, wat vakke soos Wiskunde en Engels Huistaal raak, groot druk op die geloofwaardigheid van die hele eksamenstelsel.
Wat die kommer verder verdiep, is dat daar sedert die instelling van ’n taakspan op 10 Desember 2025 min konkrete terugvoer aan die publiek was oor vordering met die ondersoek, of oor watter stappe teen skuldiges geneem word.
In plaas daarvan om duidelike antwoorde te gee, het Mweli volgens die SOS rolspelers wat verantwoordbaarheid eis, beskuldig van ‘politieke opportunisme’.
Hy het wel verwys na die behoefte aan ‘bewysgebaseerde diskoers’ en ‘institusionele verantwoordbaarheid’, maar volgens die SOS is hierdie beginsels leeg indien dit nie gepaard gaan met sigbare optrede nie.
“Die blote erkenning van die probleem is nog geen oplossing nie,” meen Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by SOS.
Sy beklemtoon dat die omvang van die krisis deursigtige leierskap en gereelde terugvoer vereis, veral van Gwarube. “Die publiek, en veral die klas van 2025, verdien sekerheid dat die stelsel waarop hul toekoms steun, betroubaar bly.”
Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, glo die situasie sou in enige ander eksamenomgewing drastiese gevolge gehad het.
“Onafhanklike eksamenrade het nog nooit ’n sekuriteitsbreuk van hierdie omvang, uit die hart van hul eie stelsels, beleef nie. Indien dit sou gebeur, sou Umalusi hulle summier toegemaak het,” sê hy.
Hy voeg by dat die geloofwaardigheid van eksamenrade gebou is op “betroubare stelsels, streng monitering en konsekwente aanspreeklikheid, beginsels wat die Departement van Basiese Onderwys dringend moet herstel”.
Die SOS dring daarop aan dat die bevindinge en aanbevelings van die taakspan bekend gemaak word vóór Umalusi die NSS-uitslae tussen 6 en 8 Januarie oorweeg. Sonder hierdie deursigtigheid, waarsku hulle, loop die hele eksamenjaar die gevaar om bevraagteken te word.
Umalusi het bevestig dat aankondigings oor die geloofwaardigheid van die NSS-uitslae op 9 Januarie gemaak sal word.
Volgens die SOS is dit nie voldoende om bloot te sê die stelsel is stabiel nie. Die publiek wil weet wat fout gegaan het, wie verantwoordelik gehou word, en watter herstelmaatreëls ingestel word om herhaling te voorkom.
Volgens Vermeulen is vertroue in die nasionale eksamenstelsel nie vanselfsprekend nie maar dit moet verdien word deur eerlike, tydige en volledige kommunikasie.
Die SOS doen daarom ’n beroep op Gwarube om dringend amptelike terugvoer te gee, en om te verseker dat die sterkste moontlike ingryping volg.
“Die publiek verdien akkurate inligting en sekerheid sodat verdere twyfel oor die NSS se geloofwaardigheid hokgeslaan kan word.”
Vermeuelen wys daarop dat die oproep van die SOS beklemtoon dat die saak nie slegs oor administrasie gaan nie, maar oor die toekoms van duisende leerders wie se harde werk nie deur onsekerheid en wanbestuur ondermyn behoort te word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
