Munnik Marais lei stryd teen dierekanker
Die stigter van SAACA, bou vennootskappe, doen fondsinsameling en lei eersdaags kleuterskoolprogramme om diere-eienaars oor dierekanker en voorkomende sorg op te voed. Sy persoonlike verliese aan kanker, dryf hom om ’n nuwe generasie diere-eienaars te help om beter na diere om te sien.
Wanneer jy met die bedagsame en beleefde Munnik Marais praat, hoor jy gou dat hier nie net ’n vernuftige sakeman, bemarker of bobaas fondsinsamelaar aan die woord is nie.
Jy hoor iemand wat sy roeping ontdek het en dit met volle oorgawe uitleef.
Hy is die stigter en hoof uitvoerende beampte van die Southern Africa Animal Cancer Association, beter bekend as SAACA. Hy wy sy tyd daaraan om bewusmaking te skep oor kanker by diere, om navorsing en behandeling daarvan te ondersteun, en om diere-eienaars te leer hoe belangrik voorkomende sorg is.
Vir hom is hierdie pad nie toevallig nie. Hy vertel met eerlike sagtheid van sy eie pynlike ervaring met kanker. Sy pa en ma is albei aan kanker oorlede. Hy sê dit was ’n groot skok, juis omdat hulle altyd as ’n gesonde familie beskou is.
Hierdie verliese het hom egter ook gemotiveer om sy merk te maak in die stryd teen kanker.
Aan die begin van sy loopbaan het hy vir 17 jaar in die filmbedryf gewerk en as tweede in bevel van ’n filmverspreidingsmaatskappy gehelp om nuwe teaters te open. Dit was harde werk van soms tot 18 uur per dag.
Uiteindelik het hy bedank en by die Kankervereniging van Suid-Afrika begin werk, waar hy landwyd bewusmakings- en fondsinsamelingsprojekte help standaardiseer het.
“Ek het as diereliefhebber begin opgemerk dat kanker by diere al hoe meer voorkom. Ek het begin wonder: Bestaan daar ’n organisasie in Afrika wat spesifiek fokus op bewusmaking oor kanker by diere?” vertel Marais.
Die antwoord was nee. Dit was die oomblik toe hy geweet het dat iemand sulke bewusmaking sal moet begin doen en besef het: “Die iemand was ek!”
Met hierdie gedagte het die SAACA einde 2019 ontstaan. Met sy agtergrond as bemarker en sakeman het hy die nodige kennis gehad om ’n organisasie van die grond af op te bou.
SAACA fokus daarop om navorsing oor dierekanker te ondersteun, diere-eienaars in te lig en op te voed oor diereversorging en gemeenskappe te mobiliseer.
Vir ’n ruk was die fokus navorsing deur die onkologie-afdeling by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoortkampus, maar vir 2026 het Marais en sy organisasie se fokus na voorkomende opvoeding geskuif en hiervoor word daar tans fondse ingesamel en projekte aangepak.
Fondsinsameling word op kreatiewe maniere gedoen soos kunsuitstallings, lidmaatskapveldtogte en betrokkenheid by groot geleenthede.
Eersdaags op 15 Februarie pak Marais juis ’n Valentynsdagkonsert in die Centurion-teater aan met die gewilde sopraan Michelle Veenemans, vioolspeler Miroslav Chakaryan en die pianis Gisela Scriba.
Hy het al dikwels saam met die Mrs South Africa-organisasie gewerk om geld in te samel en bewusmaking te doen vir dierekankervoorkoming.
Op pad terug van so ’n bewusmakingsfunksie in KwaZulu-Natal by ’n skool, het hy ’n nuwe insig gekry: opvoeding van ’n nuwe geslag diere-eienaars is ’n wonderlike manier om kanker by diere te voorkom.
“Ek het met sekerheid geweet dit is die nuwe rigting wat ons moet inslaan,” vertel Marais.
Sy uitgangspunt was nog altyd dat voorkoming by verantwoordelike eienaarskap begin en dat jong kinders van kleins af moet leer hoe om na diere om te sien.
“Verantwoordelikheid is ’n werkwoord en kinders kan veel hiervan leer indien hulle na diere omsien.”
Hy het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie genader en aangebied om by hul kleuterskole en kinderhuise voorligting oor diere-eienaarskap te doen.
Hy wil kinders leer dat diere nie speelgoed is nie, maar afhanklik is van mense vir kos, skoon water en veilige skuiling.
Die organisasie se nuwe fokus het gelei tot die ontwikkeling van ’n inkleurboek saam met die kunstenaar Thea van Schalkwyk, ’n eenvoudige, prettige hulpmiddel met ’n ernstige boodskap.
Marais gaan vanaf 20 Januarie kleuterskole en kinderhuise van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie besoek en met die kinders aan die hand van die inkleurboek oor dieresorg gesels.
By sy blomryke tuiste volgeplant met sonneblomme, kosmos en rose op die Petronellla/Murrayhillpad noord van Pretoria, leef hy self wat hy verkondig.
Sy huis is gevul met liefde en met honde. Hy vertel glimlaggend van sy eie troeteldiere: vyf honde, waarvan twee, William en Henry, ’n kruising is tussen labradors en boerboele. Die res is sy oorlede suster se hond, Bruno, en Joaní en Sophia, twee rondloperhonde wat al agt jaar deel is van die troeteldierfamilie.
“Elke dier het ’n storie. Liefde en versorging maak altyd ’n verskil aan hierdie storie en aan jou eie lewe. Ek leer soveel by diere oor onvoorwaardelike aanvaarding.”
In sy vrye tyd is hy lief vir reis en neem hy skilderklasse waar hy graag landskappe verf. Selfs sy fondsinsamelingsprojekte is kleurvol. Vanjaar se uitreikprojek na die kleuterskole sal met aktiwiteite soos die strooi van kleurpoeiers afgesluit word.
“Ek glo aan verhoudings bou tussen rolspelers oor ’n lang termyn en voortgesette gemeenskapsbetrokkenheid. Mens moet eers mense se harte wen voordat jy hul steun kan vra.”
Marais se lewenspad het wye draaie geneem. Hy het in Malawi grootgeword, was op Grey Kollege in Bloemfontein en het sy skoolloopbaan op Hoërskool Hoogenhoud in Bethal voltooi.
Vandag gebruik hy al hierdie ervarings om ’n stem te wees vir diere. Vir hom is dit eenvoudig: “Diere bring liefde, genesing en vreugde in mense se lewens en wanneer hulle siek word, verdien hulle dieselfde sorg, aandag en respek.”
Tekens van dierekanker
SAACA (die Southern Africa Animal Cancer Association) herinner troeteldiereienaars daaraan om fyn op te let vir die vroeë waarskuwingstekens van dierekanker. Baie van hierdie tekens kan maklik misgekyk word of as ‘normaal’ afgemaak word, maar enige verandering wat aanhou of geleidelik erger word, behoort ernstig opgeneem te word. Hoe vroeër ’n veearts die probleem kan ondersoek, hoe beter is die uitkoms vir jou hond of kat.
Fisiese veranderinge om dop te hou sluit in knoppe of knoppies wat nuut verskyn, of bestaande knoppe wat vergroot, verhard of van vorm verander. Sere of wonde wat net nie wil genees nie, is nog ’n groot waarskuwingsteken. Ongewone reuke veral uit die mond, ore of ander liggaamsopeninge kan ook dui op ’n dieperliggende probleem. Dieselfde geld vir enige vreemde bloeding of afskeiding uit die neus, mond of geslagsdele.
Daar is ook gedrags- en eetlusveranderinge wat kan aandui dat iets nie reg is nie. Onverklaarbare gewigsverlies, selfs al eet jou troeteldier normaal, is ’n rooi lig. Party diere verloor sommer heeltemal belangstelling in kos. Ander raak skielik lusteloos, oefen minder graag of lyk net konstant moeg. Aanhoudende pyn, styfheid of mank loop behoort ook nie geïgnoreer te word nie.
Dan is daar funksionele veranderinge wat met alledaagse aktiwiteite te doen het. Moeilikheid met kou of sluk, kos wat uit die bek val, of ’n dier wat vreemd kou, kan alles beteken jou troeteldier het pyn of ongemak. Aanhoudende gehoes of diere wat sukkel om asem te kry, is nog tekens waarop jy moet let. Enige verandering in badkamergewoontes soos moeite om te urineer, diarree of bloed in die stoelgang, is rede tot kommer.
SAACA beklemtoon dat volgehoue veranderinge nooit geïgnoreer moet word nie. As jy enigsins onseker is, is dit altyd beter om jou veearts te gaan sien. Vroeë opsporing maak ’n reuseverskil nie net in behandeling nie, maar ook in jou troeteldier se lewenskwaliteit.
Indien jy ’n bydrae tot die projekte van SAACA wil maak, besoek https://www.saaca.org.za/donate-now/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel