Local news

Moot-gemeenskapslid bring Kersvreugde aan behoeftige gesinne

’n Onbekende skenker het gehelp om tientalle kinders se Kersfees ligter te maak.

’n Onbekende skenker, nou bekend as die ‘Moot Ster’, het onlangs groot vreugde gebring aan behoeftige gesinne in die Moot-omgewing toe honderde geskenke en lekkernye aan kinders uitgedeel is.

Die inisiatief het begin ná ’n telefoongesprek met ’n plaaslike inwoner wat vroeër vanjaar betrokke was by die bemarking van die Mej. & Mev. Moot-modelkompetisie. Die skenker het haar naam by ’n bekende Moot-gemeenskapslid gekry en genoem dat hy ’n voertuig vol geskenke het, maar nie geweet het waar dit die grootste verskil sou maak nie.

Die elfie, Simoné van Niekerk, omhels ’n emosionele vrou.

Sy het hom in verbinding geplaas met Fill A Tummy, ’n klein welsynsorganisasie onder leiding van Simoné van Niekerk, wat reeds meer as 40 gesinne in die gebied ondersteun met basiese voedsel- en huishoudelike benodighede. Die organisasie was tydens die wintermaande reeds betrokke by voedseluitreike, maar met Kersfees om die draai was daar min hoop vir geskenke of lekkernye vir die kinders.

’n Paar dae later het die onbekende skenker by Van Niekerk se woning opgedaag met ’n bakkie vol swart sakke – propvol speelgoed, klere en twee groot kratte lekkers. Die geskenke is oor dae heen gesorteer en met hulp van die hele familie feestelik toegedraai.

Die uitdeelaksie het groot emosie ontlok. Kinders het vir die eerste keer speelgoed ontvang; sommige was so oorweldig dat hulle skaam weggekruip het, ander het hul geskenke styf vasgehou. Daar was poppe, speelgoedkarre, dinosourusse, balle, sagte speelgoed, nuwe T-hemde en baie lekkers. Selfs oumas en ouers kon nie hul trane keer nie.

“Hierdie geskenke voel soos iets wat reguit uit die Hemel gekom het,” het Van Niekerk gesê. “Dit het vir baie kinders hoop gebring en vir gesinne gewys dat hulle nie vergeet word nie.”

In ’n nederige nedersetting met min besittings, het die dag nuwe lig gebring – ’n herinnering aan die ware betekenis van Kersfees: om te gee, om raak te sien en om hoop te bring.

Die gemeenskap bedank die ‘Moot Ster’ vir sy ruimhartigheid en het genoem dat die kinders danksy sy gebaar ’n vreugdevolle Kersfees beleef het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button