Krag steeds af, ondanks metro se versekering
Twyfel heers oor die metro se bewerings dat krag volledig herstel is in East Lynne en Jan Niemand Park, met sommige inwoners wat reeds meer as twee weke sonder elektrisiteit sit.
Die metro se bewerings dat alle krag in East Lynne en Jan Niemand Park terug is, word sterk in twyfel getrek.
DA-raadslid Anru Meyer bevestig Januarie het Meyer bevestig dat die metro beweer al die krag is teruggeskakel, maar daar was steeds nie krag in sommige strate nie, wat die metro nog moes aanspreek.
“Vir sommige gesinne en besighede is dit nou 16 dae sonder krag. Dit bly kommerwekkend dat dit so lank geneem het en en dat dit moontlik was om in ’n baie vinniger tyd opgelos te kon word. Ons dring aan [dat die] metro meer kapasiteit kry en kontrakteurs op snelbel [speed dial] gehou word sodat hulle sonder veel moeite aan die werk gesit kan word,” dring Meyer aan.
Die aanwysing van ’n privaat kontrakteur deur die metro eers meer as tien dae later in Januarie om die langdurige kragonderbrekings in East Lynne en Jan Niemand Park aan te spreek, het skerp reaksie uitgelok.
Inwoners sit reeds sedert laat-Desember sonder elektrisiteit.
“Dit is verregaande om eers na tien dae eers hulp in te kry om die krisis onder beheer te kry,”
Die metro het op 7 Januarie aangekondig dat ’n privaat kontrakteur ingeroep is om die munisipaliteit se elektrisiteitspanne te versterk nadat verskeie kabelbreuke en tegniese uitdagings die herstelwerk vertraag het.
Die kragkrisis spruit uit ’n brand wat op 26 Desember 2025 by die Koedoespoort-substasie uitgebreek het en omvangryke skade aan kritiese infrastruktuur veroorsaak het.
Die brand het groot dele van East Lynne en Jan Niemand Park in duisternis gedompel.
Volgens die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, was die omvang van die skade groter as wat aanvanklik verwag is.
“Daar was 19 mediumspanningsbokse of minisubs wat deur die brand beskadig is. Teen 5 Januarie het ons kabels herstel en 15 minisubs geaktiveer. Net vier minisubs was uitstaande op 8 Januarie,” het Bokaba verduidelik.
Hy sê die aanvanklike strategie was om die kabels plek-plek te herstel, maar dit het gou duidelik geword dat dit nie volhoubaar is nie.
“Gegewe die omvang van die kabelskade het ons besluit om ’n privaat kontrakteur aan te stel om ongeveer een kilometer se kabel volledig te vervang. Die kontrakteur het reeds op 7 Januarie begin met uitgrawings en boorwerk voordat die kabel geïnstalleer en gelê word. Daarna sal die vyf uitstaande minisubs geaktiveer word en krag sal herstel word.”
Bokaba het erken dat die proses stadiger verloop as wat inwoners sou wou hê, maar sê veiligheid bly ’n kernprioriteit.
“Die kontrakteur moet eers skanderings doen voordat daar geboor word om te verseker dat water-, riool- en elektrisiteitsdienste ondergronds nie beskadig word nie. Dit neem tyd omdat daar uiters versigtig te werk gegaan moet word.”
Sedert die brand by die Koedoespoort-substasie is verskeie kabelbreuke geïdentifiseer, waarvan sommige herstel is voordat die besluit geneem is om die probleemkabel eerder volledig te vervang.
“Daar was veelvuldige kabelbreuke. Dit is presies hoekom ons opgehou het om net te herstel en eerder oorgegaan het na vervanging,” sê Bokaba.
Die stad se elektrisiteitspanne het op 7 Januarie deurnag gewerk en daarin geslaag om sewe kabelbreuke te herstel en twee minisubstasies weer aan te skakel, wat die kragherstel van ongeveer 70% tot nagenoeg 80% verhoog het.

Tog is groot dele van Jan Niemand Park en sekere gebiede in East Lynne steeds sonder krag laatmiddag op 8 Januarie.
Die aanwysing van die privaat kontrakteur is egter nie sonder kritiek nie.
Meyer het gesê enige hulp is welkom, maar die tydsberekening rondom die aanstelling wek kommer.
“Die aanwysing van die privaat kontrakteur word verwelkom. Enige hulp op hierdie stadium kan help, maar dit is belangrik dat dit teen ’n koste is wat redelik en billik is,” het Meyer gesê.
Hy het daarop gewys dat die stad al vir ’n geruime tyd privaat kontrakteurs in soortgelyke situasies gebruik.
“Die stadsraad maak reeds lank gebruik van privaat kontrakteurs wanneer hulle oorweldig word deur grootskaalse kragonderbrekings en nie die mas kan opkom nie. Wat kommerwekkend is, is dat dit in hierdie geval so lank geneem het om te besef dat hulp nodig is en om dan eers nou die kontrakteur aan te wys.”
Volgens Meyer voel talle inwoners en sakemanne kon die stad vroeër opgetree het om die impak op inwoners en besighede te beperk.
“Ons is seker daarvan dat die stadsraad vroeër kon besef het dat hulle nie die kapasiteit het om hierdie kragkrisis vinnig onder beheer te kry nie. Inwoners en besighede kon dan vroeër weer krag hê om normaal te funksioneer.”
Hy sê die situasie beklemtoon groter bestuursprobleme in die metro.
“Dit is belangrik dat die stadsraad presies weet watter kapasiteit tot hul beskikking is en hul hulpbronne dienooreenkomstig bestuur. Dit kan moontlik nog ’n aanduiding wees van ’n gebrek aan politieke wil binne die administrasie om hulpbronne behoorlik te bestuur en betyds eksterne hulp in te bring wanneer interne kapasiteit ontbreek.”
Bokaba het intussen bevestig dat die privaat kontrakteur bykomende toerusting en kundigheid bied wat die stad se interne spanne aanvul.
“Die kontrakteur bring onder meer ’n kruiptrekker en ’n boorwerktuig saam om ons kapasiteit te versterk,” het hy gesê.
Wat koste betref, het Bokaba aangedui dat die projek uit die stad se elektrisiteitsbegroting gefinansier word.
“Die materiaal kos sowat R1.7-miljoen. Hierdie bedrag sluit arbeid uit.”
Die nuwe mediumspanningskabel is reeds op die perseel afgelewer teen 8 Januarie, met verdere kritiese materiaal wat tans ingesamel word.
Ten opsigte van veiligheid word streng protokolle gevolg, het Bokaba gesê.
“Die werkers verstaan die risiko’s van die omgewing en tref voorsorgmaatreëls om hul veiligheid te verseker. Geen ander personeel word naby die substasie toegelaat nie.”

Die metro het ook belowe om kommunikasie met inwoners te verbeter.
“Ons kommunikeer sedert die eerste dag van die onderbreking op 26 Desember en doen dit daagliks. Waar ’n onderbreking langer as 24 uur duur, sal daar afsonderlike opdaterings wees. Ons doen ’n beroep op inwoners om die stad se internettoepassing af te laai en ons kanale te volg,” het Bokaba gesê.
Op die lang termyn sê hy daar is planne om substasies op te gradeer en instandhouding te verskerp.
“Daar is ‘n plan om sommige substasies op te gradeer. Koedoespoort-substasie is een daarvan. Ons bou ook ’n nuwe toevoersubstasie, Wildebeest-substasie, om druk van die Kwagga-invoersubstasie te verlig.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
