Spioenkop en Skaapkop: Geskiedenis en tradisie smelt saam
Die Slag van Spioenkop is onlangs met die eet van skaapkoppe saam gevier.
Die geur van gaar skaapkop het reeds vroeg die lug gevul toe gaste begin instroom het vir “Spioenkop en Skaapkop”, ’n tradisionele aand gehou op 27 Januarie in die ooste van Pretoria.
Vir sowat 100 geskiedenisliefhebbers was dit nie net ’n ete en ’n vasvra nie, maar ’n ervaring waar kos, kultuur en feite hande gevat het. Knipmesse en jammerlappies is betyds uitgehaal vir die eet van die ryk lekkerny.
Agter die skerms het sjef Rowan Stander van Faerie Glen, bestuurder by Buffelsfontein Beesboerdery, met rustige selfvertroue seker gemaak dat alles presies reg verloop in die kombuis.
Die skaapkoppe en -nekke was reeds die vorige aand in die oonde geplaas en teen 100ºC stadig gaar gemaak. Dit is volgens hom nie ’n gereg wat “aangejaag kan word nie”.
“Dit is ’n tradisie en kultuur in Suid-Afrika en ons hou graag daarmee aan,” sê Stander. “Die effe bitter smaak is iets waaraan mens gewoond moet raak, soos olywe wat mens ook as ’n aangeleerde smaak moet leer ken.”
Stander glo vas daaraan om dinge eenvoudig te hou. Sout is die een geurmiddel wat gebruik word, want vir hom gaan skaapkop nie oor te veel smake nie, maar oor respek vir die vleis en die proses.
“Dit gaan ook oor hoe jy dit opdien,” verduidelik hy. Volgens hom is skaapkop op sy lekkerste wanneer dit saam met ’n smoortjie van tamatie en uie op pap bedien word.
Geduld is egter die sleutel, veral met die skaapnekke. Hulle moet net reg wees: nie te veel gekook nie, maar ook nie taai nie.

Stander, ’n opgeleide sjef van die Prue Leith-kookskool, sê die laaste stap is dikwels die belangrikste. Net voor opdiening word die skaapkoppe weer vir ’n kort rukkie in die oond geplaas om die velletjie lekker krakerig te kry.
Die geur van stadig gaargemaakte skaapkop en die eggo’s van geskiedenis het onlangs in die ooste van Pretoria Buffelsfontein saamgesmelt. ’n Lewendige aand het kos, kultuur en ’n geskiedenis-vasvra in ’n gewilde feesviering verbind.

Hoewel die skaapkoppe reeds skoon aangekoop word, maak Stander en sy span seker elkeen is deeglik nagegaan voor voorbereiding begin.
Dit is ’n proses wat respek vra volgens hom: vir die gereg, die tradisie én vir die liefhebbers wat dit gaan eet.
Terwyl die kos sy laaste afronding kry, het die aand se program momentum opgebou. Die herdenking van die Slag van Spioenkop in Januarie 1900 is voorafgegaan deur ’n opvoedkundige vertelling, waarna gaste hul kennis in ’n geskiedenis-vasvra kon toets.

Bekende TV-aanbieder Pieter Smit het die vrae met goeie humorsin gestel.
Volgens Meyer le Roux, mede-eienaar van die Buffelsfonteingroep, is sulke geleenthede deel van ’n groter doel. “Hierdie aande is nie sedige affêres nie. Ons wil ons tradisies vier en dit doen op ’n manier wat mense dit geniet.”
Die kombinasie van geskiedenis, vasvra-kompetisie en skaapkop het beslis die regte toon aangegee.
Die spanne het met groot geesdrif meegeding. Teen die einde van die aand is die wenners aangekondig: die Geskiedenis Diknekke in die derde plek, die Gemaskerde Botterskorsies tweede, en die Boerekroeg as die algehele wenners.

Vir sommige gaste was die skaapkop ’n eerste kennismaking. Vir ander was dit ’n terugkeer na ou herinneringe.
Albi Viljoen het saam met haar gesin vir die eerste keer skaapkop geniet en dit as ’n aangename verrassing ervaar. Haar man, Jaco, het dit as ’n bekende smaak beskryf.
“My ouma van Brakpan het dit altyd vir ons gemaak. Jy moet daai krakerige velletjie in jou mond kan voel. Hierdie een is net reg,” sê hy.

Wenke rondom die kuns om die skaapkop ‘reg’ te eet was volop. Dit begin deur die punt van jou mes agter in waar die nate bymekaarkom in te druk, die bene ’n bietjie te wikkel en die deksel van die kop op te lig om by die harsings te kom. Dan moet jy eers die ore afsny. Hierna kan jy smul na hartelus.
Teen die tyd dat die borde leeg en die punte getel was, was dit duidelik dat “Spioenkop en Skaapkop” meer as net ’n aandete was. Dit was ’n viering van erfenis en tradisie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
