Local news

ATKV vereer Chris Coetzer met Afrikoon-toekenning

Met musiek, getuienis en spontane optrede is Chris Coetzer se lewenslange bydrae tot Afrikaanse en geestelike musiek bekroon, asook sy rol as mentor, kunstenaar en kulturele ambassadeur in Suid-Afrika en die buiteland.

Een van Afrikaans se mees geliefde stemme, sanger Chris Coetzer, het op 30 Januarie die ATKV Afrikoon-toekenning ontvang.

Die ATKV se Centurion-tak het by ’n prestigegeleentheid by die Centurionteater hulde gebring aan Coetzer deur die toekenning aan hom te oorhandig.

Die oorhandiging is vergesel deur ’n lofbetuiging wat deur Willie Jooste van die Centurion-tak voorgedra is, met Sonél Brits, besturende dirkteur van die ATKV, wat die eerbewys amptelik oorhandig het.

Die geleentheid is afgerond met spontane en besonderse musiek toe Coetzer saam met die Ketelkraalorkes opgetree het en ’n mengelmoes van Afrikaanse liedjies gesing het, ’n hoogtepunt wat die gehoor staande gehad het.

Vir die besinnende en waardegerigte Coetzer was die erkenning diep persoonlik.

“Musiek sonder woorde is bloot net klank, en woorde sonder musiek is bloot taal,” het hy gesê. “Maar met musiek en woorde, wysies sowel as lirieke, word mense se harte aangeraak.”

Die sanger met sy sigbare innerlike rustigheid, het dit as ’n groot eer beskryf om ’n Afrikoon-toekenning te ontvang, veral omdat die eer sy pad as toegewyde Afrikaanse kunstenaar bevestig.

Coetzer het ook hulde gebring aan mense wat ’n sleutelrol in sy loopbaan gespeel het. Hy het spesifiek Sakkie Kotze, ’n leidende figuur in die Centurion ATKV-tak se musiekontwikkelingarm, bedank vir sy bydrae tot sy groei as kunstenaar.

Chris Coetzer ontvang die ATKV Afrikoon-toekenning van Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, tydens ’n prestigegeleentheid by die Centurionteater. Die eerbewys bekroon sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek en kultuur, en bevestig sy rol as een van Afrikaans se mees geliefde stemme. Foto: Elize Parker

Met kenmerkende nederigheid het Coetzer ook na sy kinderdae verwys.

“My oupa aan my ma se kant het kleintyd gesê: ‘As hierdie kind só kan skree, kan hy sing ook’,” het hy glimlaggend vertel. “My ouers het toe geld bymekaar gesit om my vir sanglesse na Pietersburg en Johannesburg te neem.”

Ná sy skoolloopbaan het Coetzer eers sy diensplig in die weermag voltooi, waarna hy onderwys studeer het aan die destydse Normaal Kollege in Pretoria.

Tydens sy weermagjare is hy gekies as leier van die siviele orkes in Oudtshoorn, ’n vroeë teken van sy musikale leierskap.

Later is hy genomineer om deel te neem aan die Centurion ATKV-tak se musiekprojek, ’n ervaring wat sy loopbaan verder momentum gegee het. Dit was ook in hierdie tyd dat hy saam met die bekende Manuel Escorcio opgetree het by die destydse Waterorrel by die Centurion Waterfront, vantevore ’n geliefde plek vir musiekliefhebbers.

’n Deurbraak het gekom toe Andrew Golden van Mosaïek Begrafnisdienste hom begin borg het. Dit het Coetzer in staat gestel om by talle plekke op te tree en sy repertoire uit te brei, insluitend sang in Sotho en Zoeloe, iets wat sy veelsydigheid en respek vir Suid-Afrika se tale onderstreep.

Sy boodskap, op én van die verhoog, het met die jare al hoe dieper geword.

“Dit is tyd vir ons wat nog lewe om te léwe,” het hy gesê. “Om die ewige lewe te beërwe, moet ons leer hoe om nou reeds vir ewig te lewe.”

Volgens hom gee God elke dag vir mense iets om saam te dra en uit te deel, al is dit net jonkheid van gees of ’n lewensvisie.

“Die kuns is om nie rond te dobber in die lewe nie, maar om vir jou ’n doelwit te stel, soos die uitdeel van liefde.”

Coetzer het ook aangekondig dat hy dankbaar is om weer Ian Bossert, musiekpromotor en opnamespesialis, in sy span te verwelkom.

“Hy weet hoe om kunstenaars te motiveer,” het Coetzer gesê.

Terugskouend het sy loopbaan talle hoogtepunte. Optredes as een van Suid-Afrika se Drie Tenore, onder meer by kunstefeeste en landwyd, staan vir hom uit.

Tydens die prestigegeleentheid toe die ATKV se Centurion-tak met die Afrikoon-toekenning hulde gebring het aan Chris Coetzer vir sy volgehoue bydrae tot Afrikaans. Foto: Elize Parker

Liedere soos Koos Doep se Sprokie vir ’n stadskind, Sonvanger van Valiant Swart en Annali van Rooyen se Seënbede het ’n blywende plek in sy hart.

“Afrikaans is ’n taal waarin jy ongelooflik veel kan sê,” het Coetzer beklemtoon.

Coetzer toer reeds sedert 2001 gereeld na Swede, Noorweë en Finland, waar hy baie gewild is met musiek uit Suid-Afrika sowel as internasionale werke. Sy genres wissel van klassieke sangstukke tot ligte Afrikaanse en Engelse liedjies, en hy sing ook in Italiaans, Sweeds, Duits, Zoeloe en Sotho. Sy musiek word oor talle radiostasies uitgesaai.

Benewens sy sangloopbaan is Coetzer ook ’n bekende akteur, met rolle in gewilde reekse soos Binnelanders en Egoli. Hy bedryf sedert 1997 die CC Vocal Studios in Pretoria en Bela-Bela, en het in 2020 Coetzer Ping Recording Studios gestig.

Tans is hy besig met aansporingskonserttoere regoor Suid-Afrika, met ’n duidelike doel: om gehore se negatiewe uitsig oor hulself en die toekoms te help verander.

“Ek het groot dank en waardering vir die ATKV vir hierdie toekenning,” het Coetzer afgesluit. “Dit is vir my ’n eer om in Afrikaans te kan sing. Vorentoe wil ek só aanhou werk dat ek my talent volledig kan opgebruik.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button