Haglike toestande van Pretoria-Oos-begraafplaas jaag inwoners die harnas in
Daar heers groot ongelukkigheid oor die oorgroeide gras, oorvol vullisdromme, rommel, diefstal van blomme en koperplaatjies en swak instandhouding by begraafplase. Inwoners voel hulle betaal reeds begrafnisgelde, eiendomsbelastings en ander munisipale heffings en dit is nie regverdig om ekstra uitgawes aan te gaan vir die metro se versuim om dienste te lewer nie.
Pretoria-oos inwoners en belastingbetalers is toenemend ontsteld oor die haglike toestand van die Pretoria-Oos-begraafplaas, waar oorgroeide gras, oorvol vullisdromme, rommel, diefstal van grafblomme en swak instandhouding rondom nuwe grafte die norm geword het.
Vir baie families voel dit asof die laaste rusplekke van hul geliefdes sonder respek en waardigheid gelaat word.
Volgens inwoners groei die gras op sommige grafte só hoog dat grafstene skaars sigbaar is. Dromme loop oor van vullis, dooie gras word nie verwyder nie en rommel hoop op tussen grafte. Families kla verder dat blomme en dekoratiewe items gereeld van grafte gesteel word, selfs kort nadat dit geplaas is.
Nog ’n groot bron van frustrasie is dat areas rondom nuwe grafte dikwels nie skoongemaak word nadat ’n begrafnis plaasgevind het nie. Sand, los grond en rommel bly agter, wat vir families traumaties is wanneer hulle terugkeer om die graf te besoek.
Inwoners met geliefdes se grafte in die begraafplaas sê hulle voel genoop om uit respek vir hul geliefdes private grafherstellers en grafonderhoudsdienste te betaal, omdat die metro volgens hulle nie sy pligte nakom nie.
“Ons betaal begrafnisgelde, eiendomsbelasting en ander munisipale heffings, maar moet steeds ekstra uitgawes aangaan om grafte netjies te hou,” sê ’n inwoner wie se ouers in die begraafplaas begrawe is.
Rekord het met Dries Bekker van We Care Grave Maintenance, gesels. Bekker is ’n grafhersteller wat al vir vyf jaar lank grafherstel- en onderhoudsdienste in Pretoria se munisipale begraafplase lewer.
Hy en sy span werk in Pretoria-Oos, -Wes, en -Noord se begraafplase soos Pretoria-Oos Begraafplaas, Heatherdale Begraafplaas, Rebecca Begraafplaas, Zandfontein Begraafplaas en Centurion Begraafplaas.
“Die begraafplase in Pretoria lyk verskriklik,” sê Bekker. “Ons doen herstelwerk aan grafte en sorg vir instandhouding daarvan in munisipale begraafplase, maar dit voel vir ons asof die metro net elke vier of ses maande gras sny en basiese onderhoud doen.”
Volgens Bekker is een van die grootste probleme dat dooie gras selde, indien ooit, verwyder word. “Die gras word dalk gesny, maar dit bly net lê. Dit maak alles nog slordiger en moeilik vir besoekers om by grafte uit te kom.”
Hy verduidelik dat hul diens ’n saak van eer is.
“Ons doen hierdie werk al vir vyf jaar in Pretoria. Vir ons gaan dit oor respek. Ons hou die rusplekke van geliefdes netjies vir ons kliënte. Dit kos R180 per graf per maand vir die instandhouding van ’n netjiese graf. Vir ’n eerste skoonmaak, sal dit meer kos.”

Wat Bekker besonder ontstel, is die manier waarop munisipale toerusting soms gebruik word.
“Wanneer die metro wel gras sny, word daar dikwels met masjinerie oor grafte gery wat nie net uit kopstukke bestaan nie, maar ook voetstukke het soos in die meer tradisionele gedeeltes van begraafplase.”
Hy voeg by dat masjinerie wat gebruik word om gras te sny soms skade aan grafte en grafstene veroorsaak.
“Die grafte val in en dit bly net so. Families moet dan self betaal om dit te laat regmaak.”
Bekker sê veiligheid is nóg ’n groot bekommernis.
“Selfs in begraafplase waar daar vyf sekuriteitswagte is, is die terrein dikwels nie veilig nie.”
Hy vertel egter dat hy en sy span gelukkig is dat hulle in die vyf jaar wat hulle die werk doen, nog nie self aan misdaad blootgestel is nie.
Hy waarsku egter teen ’n nuwe tendens. “Daar is nou ’n neiging waar voertuie tydens begrafnisse gesteel word. Dit maak mense bang om begraafplase te besoek.”
Sy span lewer ook ’n unieke diens aan bejaardes. “Ons help ouer, alleen bejaardes wat nie alleen begraafplase toe wil gaan nie. Wanneer ons hul geliefdes se grafte gaan herstel, tel ons hulle op en neem hulle saam sodat hulle ’n veilige besoek kan maak.”
Bekker sê koperplate op grafte en ander koperitems soos blompotjies word gereeld gesteel. “Selfs as ’n grafkopstuk net ’n klein stukkie yster bevat, word dit afgebreek.”
Hy neem ook verantwoordelikheid vir afgebakende gemeenskapsareas. “Byvoorbeeld, in die begraafplaas in Pretoria-Wes word ons deur die Joodse gemeenskap self betaal om die area te onderhou.”

Hy is verder bekommerd oor sekere dele van militêre begraafplase wat volgens hom afgeskeep word.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die Gemeenskapsdienste-eenheid in Streek 6 is verantwoordelik vir die instandhouding van die Pretoria-Oos-begraafplaas. Dit sluit grassny, algemene skoonmaak en die instandhouding van die terrein in.
Volgens Mashigo word die huidige uitdagings veroorsaak deur kapasiteitsbeperkings, swaar en aanhoudende reën, vandalisme en onwettige storting.
“Hierdie faktore het druk op beskikbare hulpbronne geplaas en die konsekwentheid van instandhouding beïnvloed,” sê hy.
Hy verduidelik dat begraafplaas-instandhouding ’n deurlopende operasionele funksie is en dat onderhoud aan die begin van die jaar hervat is.
“Die ongekende reënval het egter plantegroei versnel, terwyl beperkte masjinerie die onderhoudsiklusse ontwrig het.”
Mashigo erken inwoners se frustrasie. “Ons erken hierdie bekommernisse. Die huidige toestande is grootliks die gevolg van vinnige plantegroei, onwettige storting, vandalisme en beperkte hulpbronne.”
Hy voeg by dat die plasing van klippe, tralies en versierings op grafte onderhoud bemoeilik, aangesien slegs kopstene toegelaat word.
Die metro het geen kontrakte met private grafonderhoudsdienste nie, maar families mag hul eie reëlings tref mits dit nie infrastruktuur beskadig of ander grafte versteur nie.
Die metro sê stappe word oorweeg om veiligheid, orde en waardigheid in begraafplase te herstel en dat inwoners verbetering kan verwag, onderhewig aan gunstige weersomstandighede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel


