Nostalgiese kunstenaar verewig Pretoria se geskiedenis
Bekroonde kunstenaar Nellien Brewer keer terug na die uitbeelding van Pretoria se ou strate en huise in haar jongste uitstalling. Deur herinnering, nostalgie en omgewingsbewustheid vang sy veral die eertydse atmosfeer van Sunnyside en Muckleneuk vas.
Bekroonde Pretoria-kunstenaar Nellien Brewer se werk is tans in twee uitstallings te sien wat haar diep verbintenis met plekke, herinneringe en die omgewing beklemtoon.
By die Johann van Heerden-kunsgalery word haar solo-uitstalling We now live in Pretoria aangebied, terwyl sy ook deel is van die groepuitstalling Palimpsest by Lizamore On Keys-gallery in Johannesburg.
In haar Pretoria-uitstalling keer die oud-Oranje-leerling terug na die strate, huise en atmosfeer van ’n stad wat haar kreatiewe verbeelding oor jare gevorm het.
Brewer woon self in Muckleneuk. Haar daaglikse wandelings deur die omgewing, asook dele van Clydesdale en Sunnyside, vorm ’n konstante bron van inspirasie.
“Ons is lief daarvoor om in die omgewing te stap. Muckleneuk, Clydesdale en die gedeelte van Sunnyside wat grens aan Clydesdale, waar die Alliance Française is, is van my geliefkoosde gedeeltes van Pretoria. Die rustige, ouwêreldse atmosfeer is absoluut lieflik.”
Hoewel Pretoria bekend is vir sy monumentale geboue en geskiedkundige landmerke, lê Brewer se belangstelling dikwels by die meer nederige strukture. Sy verwys na die stad se statige ou geboue, maar dit is die eenvoudiger woonhuise wat haar die diepste raak.
Hierdie gevoel van herinnering en nostalgie is ook nou verweef met Brewer se kinderdae op haar grootwordplaas naby Greytown in KwaZulu-Natal.
Haar liefde vir antieke meubels en sentimentele voorwerpe het ’n direkte invloed op haar kuns. Haar huis is gevul met items uit die verlede, soos meubels wat haar oupa gemaak het, haar ouma se Vyf Rose-teeblik en gehekelde lappies.
Hierdie items vind dikwels hul weg na haar werke. Sy verduidelik hoe sy beelde van plaastonele en stadslandskappe met mekaar verweef.
“Hierdie items vorm dikwels deel van die inspirasie vir kunswerke. Wat die plaas spesifiek betref, gebruik ek dikwels blinde reliëfdrukbeelde van plaastonele saam met monotipe-beelde uit die stad, of andersom. Die reliëfdrukbeelde is in minder of meerdere mate sigbaar soos die lig daarop val, min of meer soos herinneringe wat soms sterker word en soms vervaag.”
Vir die uitstalling by die Johann van Heerden-galery het Brewer haar aandag doelbewus op spesifieke strate in Sunnyside gefokus.
Hierdie gebiede het daarin geslaag om hul historiese karakter grootliks te behou, deels omdat baie huise omskep is in professionele kantore.
“Ek hoop dit sal so bly, en dat ons ’n oplewing in bewaringsbewustheid onder Suid-Afrikaners sal beleef.”
Brewer se agtergrond in landskap-argitektuur speel ’n belangrike rol in haar benadering tot kuns. Haar studies in die vakgebied aan die Universiteit van Pretoria het haar begrip van die verhouding tussen mense en hul omgewing verdiep. Sy sien natuur, argitektuur en stedelike ruimtes nie as afsonderlike velde nie, maar as onderling verweef.
Vir haar dra dele van ou Pretoria steeds daardie rustige, beskermende atmosfeer waarin mense kan floreer. Sy hoop dat hierdie ruimtes vir toekomstige geslagte bewaar sal bly.
Die dryfveer agter Brewer se poging om die gees van plekke soos Sunnyside en Muckleneuk vas te vang, lê ook in haar bekommernis oor ongewenste ontwikkeling. Die nabyheid aan die middestad, universiteite en skole maak hierdie gebiede kwesbaar.

Sy meen dat inwoners nie altyd die waarde van hierdie historiese woonbuurte besef nie en dat owerhede nie altyd as betroubare bewaarders van erfenis kan dien nie.
Sekere huise in Pretoria het ’n blywende indruk op Brewer gemaak. Sy noem ’n kliphuis in Pomonastraat, Muckleneuk, ontwerp deur Gerhard Moerdijk, as ’n besondere voorbeeld wat haar al lank fassineer. Ook ’n ou dubbelverdiepinghuis op die hoek van Walker- en Smithstrate, waar haar pa as student gewoon het, het reeds vroeër in haar werk verskyn. Hierdie herinneringe is onlosmaaklik verbind aan die stryd om Muckleneuk as historiese woongebied te beskerm, veral tydens vroeë Gautrein-beplanning wat die gebied bedreig het.
Ten spyte van die stad se groei, ervaar Brewer steeds ’n sterk gevoel van gemeenskap en landelikheid in Muckleneuk.
Die stil en nadenkende kunstenaar beskryf dit as ’n dorpie binne die stad, ’n plek waar mense mekaar ken en lank bly woon.
“Soos met ons pragtige ou plaashuis wat uiteindelik heeltemal vernietig is, help kuns my om veranderings te verwerk. Terselfdertyd vang ek dalk ook net ’n herinnering vas wat moontlik ook vir iemand anders spesiaal sal wees.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
