Smokwerk hou 100-jarige Delene se hande steeds besig
Op 100-jarige ouderdom sit Delene Badenhorst steeds bykans daagliks met naald en garing in die hand. Haar outydse smokwerk hou haar aktief, positief en betrokke by die lewe in Lyttelton. Met vaardige hande en ’n diep geloof wys sy waarlik ouderdom is net ’n getal.
Wanneer Delene Badenhorst glimlag, is dit met dieselfde sagte vasberadenheid waarmee sy nog altyd enige taak ter hand asook haar pligte as pastoriema afgehandel het.
Op 19 Januarie het sy haar 100ste verjaardag gevier, ’n mylpaal wat sy met ’n dankbare hart en, soos altyd, met ’n handwerkie bereik het.
Sy woon al vir meer as twee dekades by Protea Aftreeoord in Lyttelton en is bekend as iemand wie se hande nooit stil is nie.
“Ek was nog altyd lief vir handwerk,” sê sy. “Van kleintyd af. My suster en ek het poprokke gemaak, en vandaar het die liefde vir naaldwerk net gegroei en gegroei.”

Haar keurige smokwerk is veel meer as ’n stokperdjie en handwerkkuns uit die boonste rakke. Selfs op 100-jarige ouderdom sit sy dikwels met ’n naald en garing in die hand, of is sy besig voor haar Janome-naaimasjien in haar naaldwerkkamer om rokkies op die tradisionele manier met smokwerk te maak.
Die outydse smokwerk wat sy doen, is ’n tradisionele vorm van handwerk waar klein, egalige stekies met die hand geplooide materiaal saamgetrek en versier word, sodat ’n rekbare, fyn patroon ontstaan wat terselfdertyd prakties en fraai is.
Sy gaan steeds self saam met die aftreeoord se bussie winkel toe om materiaal te koop vir haar projekte, ’n taak wat sy met groot plesier aanpak.
Die rokkies en handwerkstukke wat sy maak, word met sorg en liefde geskenk aan familie, vriende en personeel van hul aftreeoord, en dra elke keer iets van haar geduld en toewyding oor.
Sy het in die Fochville-distrik grootgeword. Haar ouers, Dries en Lena Malan, het haar en haar drie susters grootgemaak op ’n plaas teen die Losberg waar daar altyd geleenthede was om te leer. In haar laerskooljare is sy op die plaas onderrig deur ’n onderwyseres wat vir haar en haar susters klas gegee het.
“Ons het baie vryheid gehad,” onthou sy. “Ons het in die modderdam geswem, my pa met die skape en beeste gehelp, en heerlik vrugte uit die vrugtebome geëet.”
Dié liefde vir die natuur asook om vrugte te eet, sou haar hele lewe lank by haar bly.
Vir hoërskool is sy na ’n huishoudskool in Potchefstroom, waar sy haar vaardighede verder geslyp het. Sy het ook na skool handelsopleiding ontvang en later by die Unie-onderwysbiblioteek in Potchefstroom gewerk, ’n tyd wat sy met groot waardering onthou.
Haar lewenspad het ’n nuwe rigting ingeslaan toe sy met ds. Bobbie Badenhorst getroud is. Die twee het mekaar reeds van kleins af geken. Hy het op die buurplaas gewoon.
Saam het hulle verskeie gemeentes bedien, onder meer in Koster, Louwsburg, De Deur en Witpoortjie.
“Ek het hom op elke huisbesoek vergesel,” vertel sy en met .n vonkel in die oog herhaal sy die besonderhede van ’n huisbesoek of twee wat nie te voorspoedig afgeloop het nie.
“My geloof was van kinderdae af vir my baie belangrik,” sê sy.
Sy het haar man ook ondersteun met hospitaalbesoeke en was lief vir die sendingwerk wat hulle as predikantspaar in Noord-Natal gedoen het. Die handwerkgeskenkies wat sy in hierdie jare ontvang het, bewaar sy steeds met groot waardering.
Haar gesin is vandag groot en wyd verspreid, maar sy ken op 100-jarige ouderdom steeds elkeen se naam. Sy is die ma van Hendrik, Madie, Andries (wat oorlede is), Joekie en Julia. Sy is ook ouma van 23 kleinkinders, en die trotse oumagrootjie van 38 agterkleinkinders.

Ten spyte van die groot getalle hou sy gereeld kontak met almal.
Haar eggenoot is 26 jaar gelede oorlede en sy praat met diepe dankbaarheid oor hul huwelik.
“Ons het respek vir mekaar gehad. My hoogtepunte in die lewe was my bekering, my troue en die geboortes van my kinders.”
Haar vriendekring strek oor ’n wye spektrum mense van die ses gemeentes waar haar man gedien het.
“Oral waar sy gaan, maak sy vriende,” sê familielede.
Sy staan ook bekend as iemand wat nooit kla nie, altyd positief bly en ander ondersteun.
Sy is ook merkwaardig gesond vir haar ouderdom. Sy gebruik wel enkele chroniese medikasiemiddels en eet ’n gebalanseerde dieet sonder fiemies. In haar kombuiskaste staan die flessies koekies en beskuitjies wat sy nog self bak.
Buite haar keurige tuiste vol van haar eie geraamde borduurwerk teen die mure, sorg sy steeds vir ’n netjiese tuin vol kleur en geskenksteggies – ’n klein, maar kosbare verlengstuk van haar plaasjare.
“Om ’n hoë ouderdom te kan bereik is net die Here se genade,” sê sy met ’n lieflike glimlag vol lewenswysheid terwyl sy na al die orgideë kyk wat sy as geskenke vir haar 100ste verjaarsdag gekry het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
