Local news

Moot-inwoners staan saam ná wrede aanval in park

Te midde van skok en woede ná ’n wrede aanval in Pieter Humanpark, het inwoners hande gevat om planne te beraam vir veiligheid, omheining en beter instandhouding sodat dié eens geliefde groen ruimte weer veilig en toeganklik vir almal kan wees.

Die gemeenskap rondom die Pieter Humanpark in 32ste Laan in die Moot het op 20 Februarie bymekaar gekom om moontlikhede vorentoe te bespreek om die park weer toeganklik en veilig te maak vir die buurt se inwoners en besoekers.

Die vergadering wat deur die Tshwane DA-koukusleier, Cilliers Brink en DA-raadslid Adriana Randall sowel as talle inwoners bygewoon is, volg op ’n buurtvergadering op 17 Februarie ná ’n wrede aanval op ’n inwoner in die park.

Wat vir jare lank ’n geliefde groen gemeenskapsruimte vir inwoners van Villieria was, het op 15 Februarie die toneel geword van ’n skokkende en byna noodlottige aanval op ’n inwoner.

Die aanvaller is in hegtenis geneem en is tans in aanhouding volgens adjudant-offisier Marinda Austin. Volgens haar duur die ondersoek rondom die voorval voort en is daar ook by die Departement van Binnelandse Sake na die man se inwonerstatus, al dan nie, verneem.

Brink het tydens die vergadering klem gelê op hoe vasbeslote die gemeenskap is “om eienaarskap van hulle parkie te neem en dit terug te neem vir hul eie gebruik. Dis nou die een ding van die Moot. Mense ken nog hul bure en wil verantwoordelik wees vir hul buurmense en die buurt se welsyn. Ek dink die vergadering se voorgestelde inisiatiewe hou belofte in”.

’n Nuwe slot moes aan ’n hek by die een omheinde dam aangebring word na die aanval. Gemeenskapslede glo dat beheerde toegang deur die park volledig te omhein, saam met gereelde patrollies, ’n praktiese stap is om veiligheid te verbeter. Foto: Elize Parker

Volgens hom sal stappe wel tyd neem om in werking gestel te word, veral ten opsigte van die voorgestelde aansoek vir ’n gemeenskapsopheffingsprojek.

Moontlike interimplanne is volgens hom ook bespreek waartydens die gemeenskap hande sal vat met die metro, SAPD, die GPF en privaat sekuriteitsmaatskappye om die park te beveilig.

Randall het aan Rekord bevestig dat die gemeenskap se voorstelle “tans nog in die beplanningsfase is maar ek glo saam sal ons suksesvol wees om die omgewing te beveilig. Dit was goed om almal se inkoop te kry al gaan die geskiedkundige parkie se voorkoms moet verander. Een van die belangrikste planne is die omheining van die park en toegangskontrole sowel as die aanstelling van ’n wag”.

Sy sal wil sien dat gereelde patrollies gestap word waartydens ongerymdhede aan die SAPD en metro gemeld kan word.

Randall het ná die aanval en die vergadering op 17 Februarie reeds ’n dringende versoek aan die metro gerig.

In haar aansoek om hulp verduidelik sy dat die ongebruikte eenddamme en swak onderhoud van die park ’n ernstige veiligheidsrisiko inhou wat deur die voorval bewys word.

Sy het gevra of die damme moontlik met grond gevul en met gras beplant kan word om te keer dat dit as wegkruipplek vir booswigte en kwaaddoeners gebruik word.

GPF-voorsitter Susan Andrews verduidelik dat die voorstelle insluit om moontlik kameras op te sit wat deur ’n sekuriteitsmaatskappy gemonitor kan word, ligte wat reeds daar is reg te maak sodat die park verlig kan wees in die aand en om die gras kort te hou.

Die anonieme inwoner wat aangeval is, herstel tans ná ’n noodoperasie. Die inwoner verkies om nie by naam genoem te word nie.

“’n Man het weer ’n slot by die park se omheining rondom die een eenddam afgebreek. Ek het hom daaroor genader, toe dreig hy my met ’n staalstaaf wat ek afgeneem het. Hy het my toe met ’n ander voorwerp op die linkerkant van my kop bewusteloos geslaan. Daarna het hy bo-op my kom sit en my in my gesig bly slaan. Ek het my bewussyn herwin en het met my arms my gesig beskerm,” vertel die inwoner.

“Familielede en ander ooggetuies het daar aangekom en hom gestop. Ek dink hy sou my doodgeslaan het.”

Die aanvaller is daarna deur die polisie in hegtenis geneem. Hy is van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer aangekla.

Die inwoner is dieselfde aand geopereer. Volgens die inwoner moes dokters beentjies in die neus heg en die oogbank herstel met rekonstruksie.

Die inwoner sukkel steeds met die pyn en die trauma van die voorval.

Die voorval het skokgolwe deur die buurt gestuur, maar vir baie inwoners was dit nie onverwags nie.

Hulle voer aan dat daar al jare lank gewaarsku word oor misdaad, vandalisme en dwelmgebruik in die park, sonder volhoubare ingryping deur owerhede.

Volgens gemeenskapslede is die vermeende aanvaller reeds tydens verskeie vorige voorvalle deur die polisie in hegtenis geneem, maar weer laat gaan.

Hy is glo voorheen gevang toe hy houtpale aan die brand gesteek het en houtdeure van die toilette afgebreek en verbrand het.

Tog, sê inwoners, is hy telkens vrygelaat en dan keer hy terug na dieselfde park.

“Ek het al gewaarsku iets gaan in die park gebeur,” sê die beseerde inwoner. “Elke keer word daar by die polisie en metropolisie voorvalle gerapporteer, maar dit kom tot niks.”

Die gemeenskap het oor jare self eienaarskap geneem van die instandhouding van die parkie. Hulle het gras laat sny en hulp hiervoor by Afrit-maatskappy gekry, ’n heining en ’n hekkie met ’n slot is om ’n dam en ’n besonderse groep bome in die parkie aangebring en selfs pompe is gekoop en geïnstalleer om water in die eenddamme te hou. Die pompe is later gesteel.

Selfs ’n besproeiingstelsel is aangebring, maar die stelsel se onderdele is ook gesteel.

Onlangs het inwoners vier groot bakkievragte vullis en tuinvullis uit die park verwyder.

Die metro se ligte is deur die gemeenskap aangevul met spreiligte, maar die bykomende ligte is weer gebreek. ’n Tuinslang wat geskenk is om die plante nat te hou, is ook gesteel.

“Ons probeer ons bes, maar ons het nou byna boedel oorgegee,” sê een inwoner.

Parkligte wat behoorlik funksioneer, word as ’n kernoplossing beskou om sigbaarheid saans te verbeter. Inwoners stel voor dat addisionele beligting (die spreiligte wat bo die parkie uittroon) wat deur hulle geïnstalleer is, herstel moet word om weer die park snags helder te belig. Foto: Elize Parker

Volgens hulle het die park ’n skuilplek geword vir dwelmgebruikers en sluipslapers wat hul tente in die leë eenddamme opslaan. Omdat die damme laer as padvlak is, kan mense van buite nie sien wat binne die park aangaan nie.

Gemeenskapslede voel ook dat gesprekke aangeknoop moet word met groepe herwinnaars wat in die parkie kom wag op Sondagaande om weekliks tydens vullisverwyderingsbeurte herwinning in die buurt te doen.

Een van die metro se afdelingshoofde, Abel Malaka, het bevestig dat die saak opgeneem sal word en dat moontlike oplossings saam met relevante rolspelers ondersoek sal word. Hy het aangedui dat daar terugvoering aan die gemeenskap gegee sal word.

Lees: Sinoville security officer now fighting Leukemia after years of protecting his community

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button