EntertainmentLocal news

Kristi Steyn debuteer met Karoo-kabaret

Die 24-jarige Pretoriase sanger en skrywer Kristi Steyn maak haar debuut as komponis by die KKNK in Oudtshoorn met 'As die mooi aan ons haak', ’n persoonlike kabaret wat jazz, big band en poësie in Afrikaans verweef.

Die 24-jarige Pretoria-sanger en liedjieskrywer Kristi Steyn maak vanjaar haar debuut as komponis en skrywer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn met haar kabaret As die mooi aan ons haak.

Sy beskryf die produksie as ’n persoonlike en artistieke keerpunt in haar loopbaan.

Die produksie, wat oorspronklike musiek en teks kombineer, word begelei deur klavier en tjello en verwerk en opgevoer saam met Christian van Zyl en Krayno Lategan.

Vir Steyn is dit meer as net nog ’n vertoning op ’n feesprogram. Dit is haar eerste volwaardige teaterwerk as skrywer én komponis.

“As die mooi aan ons haak is ’n ode aan alles wat my gevorm het as kunstenaar en ’n analise van kreatiwiteit en waar inspirasie vandaan kom,” verduidelik sy.

Die kabaret bestaan uit ’n versameling stories en gedigte wat sy oor jare geskryf het. Die teks en musiek verweef persoonlike ervarings met breër temas oor identiteit, geloof en nalatenskap.

“Ek glo elke mens is geroep tot ’n vorm van kreatiwiteit en in my produksie daag ek mense uit om hulle idee van wat dit is uitmekaar te haal en te ondersoek,” sê sy.

Volgens haar is die keuse van kabaret as genre doelbewus.

“Ek het kabaret gekies want dit is ’n teatergenre wat nie reëls het nie. Die gehoor het geen verwagtinge nie. Die kunstenaar is vry om te vermaak, verbaas en verryk.”

Steyn het die hoogste sangkwalifikasie in die Rock Schools-kurrikulum verwerf, maar het geen formele tersiêre musiekopleiding nie.

Sy is reeds 12 jaar deel van ’n orkes en het oor die afgelope dekade haar naam in alternatiewe Afrikaanse musiekkringe gevestig.

“Die belangrikste verandering oor die jare is dat ek myself sien as ’n skrywer en ’n ambassadeur van die Afrikaanse taal,” sê sy.

“Ek voel my identiteit is nou dié van ’n verkenner van al die genres wat nog nie regtig tot hulle volle reg gekom het in Afrikaans nie.”

Die musiek in As die mooi aan ons haak word beskryf as ’n nuwe samesmelting van jazz- en big band-elemente in ’n Afrikaanse konteks.

Sy noem kunstenaars soos Amanda Strydom en Nataniël as belangrike invloede.

“Hulle skep wêrelde met musiek en stories. Ek bewonder hoe hulle ’n ruimte kan bou waarin die gehoor kan lag, luister en nadink.”

Die titel van die kabaret verwys na ’n sentrale tema in die produksie: dat dit nie net swaarkry is wat ’n mens vorm nie.

“Die boodskap is dat dit nie net die lelike dinge is wat mens skaaf en vorm nie, maar dat die mooi dinge ook aan mens vashaak,” sê sy.

In een van die lirieklyne sing sy: “Toe voel ek of ek die sterre nie meer ken nie/en asof ons nie kan wen nie/maar ek kan nog met die Here praat/en op die hemel wag/want die son sal sak/en ek is seker dat die mooi in die lewe/ ook aan ons haak.”

Kristi Steyn by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch. Foto: Facebook/Kristi Steyn

Steyn beskryf haar kreatiewe proses as woordgedrewe.

“Ek is eintlik ’n digter wat kan sing. My liedjies begin altyd by die woorde en dan kom daar ’n wysie wat voel of dit nog altyd aan daardie woorde moes behoort het.”

Sy voeg by dat die lied dikwels reeds volledig in haar kop is voordat sy dit neerskryf.

Van haar bekendste liedjies sluit Agtergelaat en Tydmors in. Sy het ook onlangs haar eerste digbundel vrygestel, wat volgens haar die begin van haar formele skrywershoofstuk in haar lewe verteenwoordig.

In haar liedjie Omstrede spreek sy haar uit oor morele onsekerheid in die samelewing.

“In vandag se samelewing is alles kontroversieel. Ek glo dis meer kontroversieel en revolusionêr om vir iets te staan en daarby te bly ten spyte van die wêreld se opinies wat daagliks verander. Te staan vir iets mooi, iets opbouend, vir onvoorwaardelike liefde en vergifnis.”

Steyn is ook uitgesproke oor uitdagings wat vroue in die musiekbedryf ervaar.

“Ek dink die grootste uitdaging nou is dat vrouens nie op musiekfeeste verteenwoordig word nie. Meeste feeste het nie een vrouekunstenaar nie.”

Sy meen vroue kry minder geleenthede om ervaring op groot verhoë op te bou, wat ’n siklus van onderverteenwoordiging skep.

Oor die invloed van sosiale media sê sy dit plaas druk op kunstenaars om meer as net hul kuns te bemark.

“Ons ervaar die afsterwe van die rockster. Mense wil nou sien hoe jy jou ontbyt maak of jou uitrusting bymekaar sit. Jy moet vermaak om mense te lok na jou kuns.”

Benewens haar KKNK-debuut speel Steyn ook ’n hoofrol in die musiekblyspel Ons vir Jou! waarin sy die karakter Meisie vertolk, ’n jong vrou wat tydens die Anglo-Boereoorlog verlief raak op ’n Engelse soldaat.

Vir Steyn is 2026 “die jaar van teater”. Met haar debuut in Oudtshoorn betree sy nou ’n nuwe fase in haar loopbaan, een waarin sy haarself nie net as sanger nie, maar as storieverteller en komponis posisioneer.

“Mens kan nie kuns skeduleer nie,” sê sy. “Maar mens kan ’n lewe skep wat kreatiwiteit inspireer.”

– Steyn tree op op 29, 30 en 31 Maart by Die Windpomp in Cowleylaan, Oudtshoorn.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button