Gratis toegang om natuur en bewaring te besigtig tydens Nasionale Tuineweek
Suid-Afrikaners kry in Maart die kans om gratis die land se botaniese tuine en dieretuine te besoek tydens Nasionale Tuineweek. Van Pretoria tot Kaapstad wag unieke biodiversiteit, opvoedkundige aktiwiteite en bewaringsinisiatiewe wat jong en oud nader aan die natuur bring en ’n nuwe waardering vir ons natuurlike erfenis kweek.
Volgende maand het Suid-Afrikaanse burgers en inwoners die geleentheid om gratis toegang tot die land se nasionale botaniese tuine en dieretuine te geniet.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se Nasionale Tuineweek bied van 9 tot 13 Maart gratis toegang tot onder andere die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin en die Pretoria Dieretuin.
Die tema vanjaar, “Jou gratis paspoort na die natuur: vier, herstel en beskerm alle lewe,” nooi almal uit om biodiversiteit van nader te beleef en ’n aktiewe rol in bewaring te speel.
Volgens Shonisani Munzhedzi, hoof uitvoerende beampte van Sanbi: “Laas jaar het die reaksie getoon dat Suid-Afrikaners honger is vir hierdie verbintenis met die natuur, en ons is opgewonde om weer ons hekke oop te maak. Ons tuine is lewende klaskamers, plekke van herstel, en ruimtes waar mense hul verbintenis met die natuurlike wêreld kan herontdek. Hierdie inisiatief verseker dat meer Suid-Afrikaners daardie waarde kan ervaar, veral vir diegene wat vir die eerste keer besoek.”

Die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin is ’n internasionaal erkende sentrum van navorsing en bewaring. In Mei 2025 het die tuin een van slegs 46 botaniese tuine wêreldwyd geword wat die hoogste Vlak 4-akkreditasie van die ArbNet Arboretum Accreditation Program ontvang het, in samewerking met The Morton Arboretum.
Hierdie erkenning bevestig die tuin se professionele standaarde in versamelingsontwikkeling, opvoeding en ekosisteemherstel.
Volgens Nontsikelelo Mpulo, Sanbi se direkteur van bemarking, kommunikasie en kommersialisering: “Die tuin bewaar nie net plante agter die skerms nie, maar dra aktief by tot nasionale herstelprioriteite.”
Die tuin huisves die Sanbi-herbarium met meer as 21 000 plantspesies en funksioneer as ’n lewendige laboratorium waar leerders, studente en navorsers veldwerk kan doen.
Gedurende Nasionale Tuineweek kan besoekers deelneem aan begeleide staptoere, voëlwaarneming, plantuitstallings en praktiese demonstrasies oor inheemse plante en waterwys-tuinmaak.
Mpulo beklemtoon: “Wanneer mense biodiversiteit van nader ervaar, of dit nou ’n seldsame plant, ’n arend hoog aan die draai in die lug of ’n bedreigde dierspesie is, word bewaring persoonlik. Daardie emosionele verbintenis dryf langtermynversorging van ons natuurlike erfenis.”

Tydens die naweek van 14 en 15 Maart is toegang tot die dieretuin R26 vir Suid-Afrikaanse burgers om die 126ste-verjaarsdag van die dieretuin te vier.
Tracey Rehse, direkteur van Diereversamelings en Bewaring by die dieretuin, sê: “Met die afhandeling van die opknapping by Stormy Bay, ’n omheinde area met robbe en pikkewyne, bied ons besoekers nou beperkte tye waar hulle ’n rob se vinne kan skud en selfs ’n soen op die snoet kan gee. Twee robbe is spesiaal hiervoor gekies.”
Die robbe ondergaan gereelde mediese ondersoeke om hul gesondheid te verseker en word na die dieretuin se hospitaal op die terrein gestuur sou hulle gesondheid aandag nodig het.
Die dieretuin se sorg strek verder as robbe. Gorillas en ander groot diere ontvang spesialisbehandeling in ooreenstemming met ’n memorandum van samewerking met Onderstepoort se veterinêre kliniek.
Rehse is ook trots op die aasvoëlbewaringsprogram wat in samewerking met die reddingsorganisasie Vulpro uitgevoer word om veral Kaapse aasvoëls te beskerm. Nog ’n fokus is die bewaringsprogram rondom die bedreigde oranjerand-kurpervis, ’n varswater-vis in die Komati-rivierstelsel.

Teen die ikoniese oostelike hange van Tafelberg, bied Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin ook gratis toegang vir weekdagbesoekers tydens sionale Tuineweek. Besoekers kan die Boomslang-paadjie, proteas en wêreldbekende fynbosuitstallings sonder kostes verken.
Mpulo sê Nasionale Tuineweek bied elke besoeker die kans om ’n persoonlike verbintenis met die natuur te vorm, by te dra tot ekosisteemherstel, en die lewe van Suid-Afrika se unieke plante en diere te vier.
Om gratis toegang te verkry, moet Suid-Afrikaanse burgers hul identiteitskaart, ’n gesertifiseerde afskrif daarvan of ’n elektroniese afskrif van hul identiteitskaart of hul bestuurslisensie wys.
Vir meer inligting, besoek www.sanbi.org. Die Pretoria Dieretuin is ’n kontantlose omgewing waar ander dienste en verversing met ’n kaart of digitale betaalmiddele betaal moet word.
LEES MEER: Kristi Steyn debuteer met Karoo-kabaret
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
