BlogsOpinion

moo4indring

Moet nie met ‘n slap riem gevang word as sogenaamde Microsoft tegnici jou op die landlyn skakel om aangemelde stelselfoute te herstel nie. Pastoor Kobus Viljoen, ‘n Rietfontein-inwoner, het net betyds sy rekenaar afgeskakel voordat dié beweerde tegnikus die persoonlike inligting op sy rekenaar bekom het. Dit is glo nie die eerste keer dat so …

Moet nie met ‘n slap riem gevang word as sogenaamde Microsoft tegnici jou op die landlyn skakel om aangemelde stelselfoute te herstel nie.

Pastoor Kobus Viljoen, ‘n Rietfontein-inwoner, het net betyds sy rekenaar afgeskakel voordat dié beweerde tegnikus die persoonlike inligting op sy rekenaar bekom het.

Dit is glo nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie. Volgens Jan Broodryk, eienaar van Computer Swop & Repair-winkel in Villieria, weet hy van verskeie kliënte wat derduisende rande verloor het.

“Die een vrou het R1,2 miljoen verloor terwyl die ander kliënt R34 000 verloor het. Indien inwoners ‘n oproep van mense, wat valslik beweer dat hulle Microsoft verteenwoordig ontvang, stel ek voor om eerder net af te lui,” het Broodryk gesê.

Viljoen het gesê hy is dankbaar dat hy sy rekenaar afgeskakel het net voordat die ‘tegnikus’ enige van sy inligting kon bekom het.

Hy het gesê ‘n ‘tegnikus’ met ‘n swaar Skotse aksent het hom verlede Dinsdag omstreeks 15:00 op sy landlyn gebel rakende stelselfoute wat Viljoen glo by Microsoft aangemeld het.

“Die tegnikus het homself as Peter McLane voorgestel en gesê hy werk vir Microsoft en dat hy stelselfoute ontvang het. Ek het aanvanklik niks daarvan gedink nie en gedoen wat hy vir my gesê het ek moet doen,” het Viljoen gesê.

Die tegnikus het hom gevra om sy rekenaar aan te skakel en die instruksies te volg soos wat hy dit vir hom gee. Viljoen het die stappe gevolg en het nog steeds niks vermoed nie omdat die man baie profesioneel oorgekom het, min wetende dat die ‘tegnikus’ besig was om sy rekenaar onwettig binne te dring.

“Na ‘n ruk se gesels vertel die tegnikus my dat my rekenaar onwettig ingedring is en dat ek ‘n program moet aflaai wat dit sal herstel. Dit is waar ek onraad begin vermoed het. Ek het gehoor hoe hy vir iemand anders ‘n vraag in ‘n ander taal vra, toe weet ek daar is fout.”

Viljoen en Broodryk waarsku alle inwoners om nie vir dié slenter te val nie. Broodryk het gesê as die indringers ‘n rekenaar se IP adres in die hande kry, neem dit hulle slegs sowat 30 sekondes om private inligting op die rekenaar te bekom.

Microsoft het teen druktyd geen terugvoer aan Rekord verskaf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button