Ons lees gereeld van slegte ondervindinge of negatiewe kommentaar oor die Tshwane DBV, maar ons wil ’n positiewe ervaring deel.
Ons het as ’n gesin van vier onlangs in Valhalla ingetrek en ek het vir my seuns, Tertius en Wihan, belowe om vir hulle ’n hondjie te gee.
Nadat ons ook deurgeloop het onder diefstal het ons besluit om ’n hond te kry wat bietjie lawaai kan maak en die kinders se troeteldier kan wees.
Op 16 November het ons ’n draai by die DBV in Centurion gemaak om te sien wat hulle daar het. In die tweede gang wat ons afloop, sien ons ’n hondjie waarop ons dadelik verlief geword het – ’n kruising tussen ’n Pug en ’n Jack Russel. Die seuns wou haar net vryf. Sy was skaam maar ook so vriendelik.
Ons het dadelik na die kantoor gestap en die vorms ingevul om haar aan te neem. Hulle het ons in kennis gestel dat iemand eers na ons erf moet kom kyk (wat ek 100% verstaan). Dit was nie 30min later nie toe stop Job van die DBV voor ons hek. Die man was baie vriendelik en het saam met ons deur die erf gestap. Ons is goedgekeur en op 19 November het ons ons nuwe hondjie gaan haal.
Ons wil graag vir die DBV dankie sê vir die diens wat hulle gelewer het en dat ons die voorreg gekry het om vir Bella by hulle aan te neem. Hou aan met julle goeie diens in die gemeenskap.
