LettersOpinion

Vuurwerke ontstel diereliefhebber

Diereliefhebber briesend oor vuurwerke tydens Nuwejaar.

Terwyl vriende en familie op Oujaar saam gekuier het, moes ons weereens noodgewonge tuis bly om ons troeteldiere te versorg en kalm te hou.

Dit is elke jaar se storie. Ons woon naby aan die Pioniers-museum en besoekers by dié museum asook inwoners van ons buurt maak elke jaar amok met vuurwerke en klappers.

My twee Skotse skaaphonde het met elke knal onrustig begin wegskarrel en weggekruip, heeltemal verbouereerd en angsbevange.

Ek is ’n pensioenaris en ek gun almal hul plesier op Oujaar, maar hou asseblief ons troeteldiere in gedagte wanneer julle ’n geraas maak. Diere, en veral honde, is ongelooflik sensitief vir die geknal van klappers.

Net wanneer ’n mens dink dit is verby, dan skiet mense nog die oorblyfsels van hul voorraad een-een by hul huise of in die strate af.

Ag nee man, genoeg is genoeg. Ek dog daar is wetgewing teen die koop en verkoop en afskiet van hierdie kleinskaalse bomme in residensiële gebiede?

Dan is daar die klappermalles wat eenvoudig diereliefhebbers na hul veeartse toe verwys om ten duurste kalmeermiddels vir hul troeteldiere te bekom. Nou moet mense, soos ek, betaal omdat ander net geen respek het vir ons honde nie.

Soveel diere eindig by die DBV op of word doodgery as hulle verskrik die strate inhardloop om van die geraas af te vlug.

Elke jaar word dit net erger. Die wetteloosheid van ons mense is verbeisterend.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button