
Na aanleiding van die berig in die Rekord van 24 Januarie.
Ek het my vorige motor geregistreer met my eie privaat registrasienommerplaat en het die motor intussen verkoop. Ek het daarna ‘n tweedehandse motor by die handelaar gekoop en het die vorige eienaar se registrasienommer saam oorgeneem. Dus het ek na Woodlands se e-tol inligtingshokkie gegaan en hulle gevra om my ou registrasie op my e-tol kaart te kanselleer en die nuwe motors s’n daarop te registreer.
Hul kom toe agter dat die motor reeds vir e-tol geregistreer is deur vorige eienaar. Na ‘n groot gesukkel om dit te kanselleer het hul my gevra of ek nie maar die vorige eienaar kan vra om so vriendelik te wees en sy kaart vir my te gee nie. Ek kon dit nie glo nie. Ek sê toe vir hulle dat ek nie weet wie dit is en waar die persoon hom/haar bevind nie. Hy/sy kan dalk nie eers meer in Pretoria of SA bly nie. Asook dat die E-tol oor ‘n week inwerking tree en die persoon kan dalk ook al weg is op vakansie. Ek wil ook nie so iets doen nie. Buitendien kan die hele Suid-Afrika nie na vorige eienaars gaan soek en hul kaarte te vra nie. Hul moet liewer dit kanselleer en my kaart verander.
Ek het intussen agtergekom dat hulle niks aan my kaart verander het nie, dit nadat hul my daardie dag belowe het dat hul dit wel gedoen het. Dus kan ek u verseker dat die vorige eienaar al die rekeninge ontvang.
