BlogsOpinion

Swakdiens is nie aanvaarbaar nie

KLIPPE LANGS DIE PAD ’n Braaivleis is nie meer net ’n braaivleis nie. Of verbeel ek my dat mense vroeër meer ontspanne, kommervry en hartlik al om die vuur gestaan het en oor rugby gepraat het? Staan nou om die vuur en die dieselfde gesigte van vroeër is suurder. Hoekom? Die tjoppie wat jy braai in …

KLIPPE LANGS DIE PAD

’n Braaivleis is nie meer net ’n braaivleis nie. Of verbeel ek my dat mense vroeër meer ontspanne, kommervry en hartlik al om die vuur gestaan het en oor rugby gepraat het?

Staan nou om die vuur en die dieselfde gesigte van vroeër is suurder. Hoekom? Die tjoppie wat jy braai in plek van die Bloubul-biefstuk soos wat jy vroeër gewoond was om te doen is dun, omdat vleispryse met verhoogde brandstofpryse en die onnodige e-tol vervoerkoste dit te duur gemaak. Die manne drink ook baie minder want met die sondebelasting wat jaar na jaar op die voggies gesit word, word ’n drankie ’n rare ervaring.

Die gesprekke is ook anders. Piet sal vir jou vra: Daardie sinkgat waarvan jy gepraat het, het die munisipaliteit dit al toegegooi? Jou antwoord sal miskien so-iets wees; “Nee, ek weet nie, ek moet nou ekstra hard werk om die verhoogde munisipale belasting te betaal en daarom ry ek voor sonop van die huis af en kom ek na sononder huis toe, maar omdat die munisipaliteit al die straatligte in my gebied afgeskakel of nie reggemaak het nie, is ek in die duister wat die toestand van die sinkgat is”.

En so sien jy ’n ander vriend wat besig is om ’n baard te kweek. Jy maak ’n opmerking oor sy stoppels. “Nee, ek is nie besig om ?’n baard kweek nie, dis net dat die munisipaliteit al die afgelope maand nie reageer op ons oproepe om die waterverbinding na my huis te herstel nie. Ek kry nou my water uit ?’n pyp wat 300m van my huis wat in ’n dik stroom na nêrens uitvloei. Oproepe word nie beantwoord nie en as jy eendag deurkom kry jy net ’n verwysingsnommer en sela, hulle werk is afgehandel.”

Nog ’n vriend staan so eenkant en dit lyk asof hy nie erg aan die vleisbraai het nie, Jy nooi hom nader. “Man, jy moet my verskoon. Sien, ek het nou die afgelope maand elke aand ’n vleisbraai by my huis. Jy kla oor jou straatligte, maar na die onderonsie wat ek met die munisipaliteit gehad het oor krag wat ek wel betaal het en bewyse voor het en hulle nie saamstem nie, het hulle sommer my krag afgesny.

Niemand weet hoe hulle hul sommetjies maak nie. Ons is al net so moedeloos soos die mense by Zitobeni wat dieselfde probleem het en hulle na geweld gewend het.”

Hierdie scenario is nie vergesog nie. Hierdie week is verslae ontvang van al die straatligte in Umkomaasstraat tussen Matroosberg en Wildlaan, in Matroosberg van Garsfontein tot Clublaan en in Lilastraat wat al ’n geruime tyd nie werk nie. ’n Ander leser het ook gekla van straatligte wat nie gewerk het nie, maar eers na 42 dae se gesoebat, gesmeek en herhaalde onbeantwoorde oproepe reggemaak is. So ook het ’n leser gekla van ’n dik stroom helder water wat nege dae onafgebroke op die hoek van Rigel en Nossob gevloei het. Daarnaas was daar ook ’n verslag van rou riool wat in die Moreletaspruit vloei.

So hoor ’n mens een klag na ?die ander en met die enorme bedrae geld van die munisipaliteit met belasting kry en die uitgebreide tegniese infrastruktuur en mannekrag tot sy beskikking is dit moeilik om te glo dat die hoofstad van Suid-Afrika nie beter kan doen om dit vinnig reg te stel nie.

’n Mens sou reken met ’n verkiesing op hande, die munisipaliteit hul huis in orde sou kry en eerder doelbewus sou konsentreer op die instandhouding van basiese dienste. Die verskeie protesaksies wat in die Tshwane-metro se munisipale gebied die afgelope tyd plaasgevind het, moes tog immers vir die stadsvaders ’n duidelike boodskap gewees het dat Rome brand.

Dit is ’n kwessie van moue oprol, doen wat gedoen moet word, sien dat dit gedoen is en nie die verantwoordelikheid probeer ontduik met die aanstelling van diensverskaffers soos Peu Capital Partners nie of om gholfbane te probeer bedryf wat in die middel van nêrens is nie.

Die Nero’s van die munisipaliteit probeer gunste wen deur pres Jacob Zuma met ’n konvooi van metropolisie en munisipale vervoer (waarvoor die belastingbetaler betaal) te vergesel. Met ’n R500 000 rekening vir so ’n ekskursie het die belastingbetaler rede tot kommer en die reg om te vra dat polities geïnspireerde of geldgedrewe motiewe aan die ban gedoen word en die munisipaliteit hom eerder moet toespits op doodgewone en daadwerklike dienslewering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button