Smaaklike ete
Hoewel C. Louis Leipoldt veral vir sy gedigte en prosa bekendheid verwerf het, was hy ook ’n befaamde kok en sy kookboeke was ook baie populêr. In sy boek Polfyntjies vir die proe het sy speelse aanbiedingswyse van resepte tot essays uitgegroei, wat van die beste van sy prosa verteenwoordig en in ’n stuk soos …

Hoewel C. Louis Leipoldt veral vir sy gedigte en prosa bekendheid verwerf het, was hy ook ’n befaamde kok en sy kookboeke was ook baie populêr.
In sy boek Polfyntjies vir die proe het sy speelse aanbiedingswyse van resepte tot essays uitgegroei, wat van die beste van sy prosa verteenwoordig en in ’n stuk soos ‘n Speenvarkie ’n hoogtepunt bereik.
Nadat hy die voorbereiding van die speenvarkie stap vir stap beskrywe het, sê hy:
”Sit nou die skepseltjie in die braaipan, diep genoeg om hom te beskut teen die oormaat van hittegloed op een besondere plek. Voeg sagte vet of botter by. Strooi fyn sout en bietjie peper oor en sit die pan in die oond wat behoorlik warm moet wees, nou nie so warm as wat dit vir Sadrag en sy maats bestem was nie, maar tog warm genoeg om dadelik die sappe in daardie maagdelike velletjie dik te maak. Draai die diertjie gereeld om en hou aan om die gesmelte vet of botter daaroor te gooi. Wees nie ongeduldig nie, maar wees sekuur en altyd op jou hoede dat geen millimeter van die velletjie sonder druipsel bly nie. Net daardeur kry ons die heerlike mooi goudbruin en die tien maal heerliker kraak brosheid wat so bros-teer as ’n oblietjie (wafel) behoort te wees.”
”Die presiese oomblik om die juweeltjie na ’n koeler omgewing te skuif, is iets wat ’n kundige kok deur bittere ervaring opdoen.
“Veronderstel die oomblik is daar. Neem die varkie uit, sit hom op ’n servet in ’n vlak skottel. Versier hom met ’n suurlemoentjie in sy mond, pietersielie om sy stertjie en hou hom warm totdat hy na die tafel geneem word.”
