Klippe langs die pad: Parlementêre sirkus die voorland in die aftakeling van waardes
As kind het die geskiedenislesse van hoe die Griekse beskawing gebloei het, maar later deur die Romeinse beskawing oorgeneem is en waarde daaraan toegevoeg is, groot indruk op my jong gemoed gemaak. Eweneens was ek geboei deur ons geskiedenisonderwyser se opvolgende lesse van hoe die magtige Romeinse beskawing uiteindelik tot ‘n val gekom het. Met …

As kind het die geskiedenislesse van hoe die Griekse beskawing gebloei het, maar later deur die Romeinse beskawing oorgeneem is en waarde daaraan toegevoeg is, groot indruk op my jong gemoed gemaak. Eweneens was ek geboei deur ons geskiedenisonderwyser se opvolgende lesse van hoe die magtige Romeinse beskawing uiteindelik tot ‘n val gekom het.
Met die sirkus van die staatsrede – want dit is wat dit was – het mnr. Taute se geskiedenislesse opnuut nuwe betekenis gekry toe hy vertel het hoe die ikonoklaste van die agste eeu alle bewyse van kulturele vordering en denke wou afbreek.
So ook kan ek onthou toe ons as jong manne voor die universiteit se gradeplegtigheid gedink het ons is onaantasbaar. Toe die plegtigheid plaasvind, is ons egter diep onder die waardigheid van die geleentheid gebring. Die kanselier en die rektor op die verhoog en agter hulle die rye professore in hul akademiese togas en kepse het vir ons as jong graduandi diep onder die indruk van ‘n waardesisteem gebring waarin orde, waardigheid en die agting vir kulturele waardes en gebruike vir die res van ons lewens sou by bly.
Onlangs het ek weer ‘n gradeplegtigheid bygewoon. Maar wat ‘n verskil! ‘n Mens kan sê dat dit inderwaarheid twee wêrelde uitmekaar was. In die galery het mense aanhoudend geklets. Talle teenwoordiges was in straatklere of slenterdrag gekleed. Vroue het gelu-lu-lu as hulle dogters op die verhoog hul graad ontvang. Die enigste waardigheid was die dekaan en kanselier en professore in hul akademiese drag. Om die waarheid te sê, dit het van die universiteit se brawe poging om ou-wêreldse waardigheid aan die geleentheid te verleen, ‘n bespotting gemaak.
Op die tema van die aftakeling van ‘n bestaande en beproefde ou-waardestelsel en ‘n beskawing se waardes en normes wat daarmee gepaard gaan, kan ‘n mens aangaan en aangaan. Voorbeelde van vervlakking is legio. Vroeër jare het mense getof en getaai kerk toe gegaan. Die tannies het breë hoede gehad, lang rokke, (definitief net rokke) en hulle het almal na Eau De Cologne geruik. Die omies het pakke klere gedra wat weer na motbolle geruik het. Die hele idee was, as jy met jou Skepper gesels, doen jy dit met die nodige eerbetoon. Deesdae is ‘n slenterbroek en tekkies en ‘n ‘rockband’ in die kerk skynbaar aanvaarbaar.
Self die howe het gesê: Nee, jy kom ordentlik gekleed hof toe.
Hierdie ikonoklastiese lewensiening van disrespek en die afbreek van gevestigde waardes het ‘n lang aanloop. Tydens die ‘struggle’-jare en die onluste van die tagtiger-jare wat daarop gevolg het, is aan jongmense verduidelik, maak die land onregeerbaar, want net daardeur kan ‘n nuwe orde kom. As dit moet, doen dit met geweld. Die brandende buiteband om iemand se nek het duidelik die boodskap versprei dat geen teenstand van redelikheid geduld sou word nie – selfs al sou dit van jou eie ouers af kom.
In die tyd is ‘n geslag gebore vir wie die idee om teen enige gesanksioneerde instellings te skop en af te breek, ‘n natuurlike lewenswyse geword het. Met ‘n minagting en disrespek teen stelsels en gebruike wat oor jare opgebou is, kan daar met ‘n credo van anargie geen sprake wees van positiewe waarde-toevoeging nie.
