Reaksie op “People in the metro to pay more for several services”:
Geen mens sal omgee dat arm mense (wat onder ’n paar sinkplate moet bly en nie werk het nie) gratis krag en water kry nie.
Hoewel daar eerder sonkrag verskaf kan word en fabrieke gebou kan word sodat mense kan werk, onder sinkplate kan uitkom en wél betaal.
Ons is egter nie meer bereid om te betaal vir onbevoegde amptenare se foute en korrupsie, wat biljoene rande absorbeer nie.
Hierdie verlore geld, water en elektrisiteit moet dan gedra word deur die alewige, buitensporige verhogings van die betalers se rekeninge! Hierdie koeie is nou moeg gemelk!
Erfbelasting in Lynnwood Glen was R615 in 2012 en is nou al R1 532.
’n Tyd gelede is my buurman se groen “kennisgewing vir wanbetaling” brief op die sypaadjie opgetel … skuld R40 000.
Toe die raad gevra is hoe dit dan moontlik is, aangesien ander mense se vooruitbetaalde krag geblok word indien hul erfbelastingsrekening slegs laat betaal word, is hul antwoord: “It’s not your problem”.
Onlangs het vriende se huurders soos slegte skelms weggeloop en ’n uitstaande munisipale rekening van R50 000 agtergelaat.
Toe die raad gevra word hoe dit dan moontlik is, aangesien hulle die krag moet sny, is hul antwoord “It’s your problem”.
Binnekring-inligting verklap toe hoe dit werk: Mnr A gaan uit om te sny en aanvaar omkoopgeld.
Ná twee weke gaan hy weer uit … kamma om te kyk of die krag wat hy “gesny” het nog af is en neem wéér omkoopgeld.
Daarna gaan inspekteur B uit om te kyk of A sy werk gedoen het en aanvaar ook omkoopgeld. En so loop die rekeninge op tot selfs R70 000 en meer.
Die skuld lê nie by die omkoper nie, maar by die kontrakteur wat die omkoopgeld aanvaar.
Die raad skuif hierdie verantwoordelikheid egter totaal en al op die huiseienaar af, terwyl die rekening in die huurder se naam geopen is.
Hierdie rekening was wel na VIER jaar se wanbetaling aan prokureurs oorhandig … met kantore in Johannesburg?!
Ná vyf maande was daar nog niks aan die saak gedoen nie.
By navrae is gesê hul aanstelling was deur “politiek” in die gedrang, maar hulle is nou weer aan die gang.
Toe ek sê dat ek in besit is van die betalingsgeskiedenis, vra die prokureur of ek dit sal aanstuur … rêrig!
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
