
In Haarlem staan daar ‘n standbeeld vir ’n merkwaardige jongman Hans Brinker, die held van Haarlem.
Dis ’n wonderlike storie.
‘n Groot deel van Holland is onder die seevlak gebou en daarom is daar op baie plekke groot dyke (damwalle) om die see uit te hou. Een laatmiddag het jong Hans op ’n stil paadjie by so ‘n dyk verby gestap en gehoor hoe water drup. Toe hy naderstap, sien hy ’n klein gaatjie in die dyk waardeur water sypel. Hy het dadelik besef dat dit ‘n krisis is. Stap hy net aan, gaan die water die gat al hoe groter maak. Die stroompie kan ’n groot rivier word wat die dyk verniel en later alles in die dorp wegspoel.
Sonder om twee maal te dink het hy nadergestap en sy vinger in die gaatjie gedruk. Terwyl hy so staan het hy om hulp begin roep, maar niemand het hom gehoor nie en toe word dit donker. Hy het die hele nag daar bly staan en eers die volgende oggend het iemand hom gehoor en hulp gebring. Daardie nag het Hans tussen Haarlem en ’n groot katastofe gestaan.
En dit alles met sy een vinger.
Wat mens laat dink aan die boodskap van Kerstyd.
Die wêreld was 2000 jaar gelede só stukkend, arm, verniel deur die sonde. Daar was nie net ’n klein gaatjie in die muur nie – van Adam en Eva se tyd af het die krake al hoe groter geword en het sonde die lewens van soveel mense verwoes.
Op Kersdag het God egter gekom om sy mense te red (Lukas 2:11, Johannes 1:12, Johannes 3:16). Nie met groot goed nie. Hy het nie sy leërs gestuur om die aarde van ‘n kant af skoon te maak nie. Hy het nie al die hemelse magte opgekommandeer nie. Nee hy gebruik ’n ongetroude mamma met ’n onindrukwekkende stamboom. ’n Baba in ’n krip. ’n Paar herders. Eenvoudiges. Kleindorpie-mense.
Net ’n vinger.
Om vir ons ook te laat verstaan dat die grootste verskil wat jy in Kerstyd kan maak dalk ook net een woord, klein daad, kort gesprek oor die toonbank kan wees.
Opwindend. Ons, God se vinger in Kerstyd.
LEES OOK: OPINIE: Geniet jou koffie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
