OPINIE: Die oplossing is binne jou bereik
Die muur moes ongelukkig ook bely dat hy nie die sterkste is nie.
Lank, lank gelede het ’n groepie muise wat in ’n ou huis gebly het, besluit dat hulle ’n koning moet kry om al hulle probleme op te los.
Die koning moes die sterkste en wysste in die groot heelal wees.
Hulle gaan vra toe vir die wyse ou uil vir ’n naam en hy het hulle dadelik na die son verwys, maar die son het hulle egter na ’n wolk aangestuur.
’n Wolk was sterker want hy kon keer dat die son se strale die aarde bereik.
Die wolk weer, het hulle na die wind gestuur – die wind kan hom na hartelus rondwaai.
Toe hulle by die wind kom, was hy baie gevlei deur hulle versoek, maar het met ’n sug erken dat hy nie die sterkste is nie.
Onder op die grond was die muur van ’n ou huis wat hy nie kon omwaai nie. Die muur was verseker sterker.
Die wolk het aangebied om die muise op te tel en soontoe te dra. Hulle was heel verbaas toe hy by hulle eie woonplek stop.
Hulle het dadelik na die muur gestap en vir hom gevra of hy hulle koning sou wees.
Die muur moes ongelukkig ook bely dat hy nie die sterkste is nie.
In sy fondamente het klein bruin veldmuise gebly. Die muur kon dit in sy fondamente voel – hy gaan nie meer veel langer staande bly nie. Die muise het hom van binne af uitgehol.
Die muise was toe al die tyd die sterkstes. Die soektog het by hulle geëindig.
In Handelinge 1:8 is daar nog so verhaal. Dis net voor die Here sou opvaar na die hemel. Voor Hom staan ’n groepie swak en bang mense. Onbekwaam. Geen medaljes of bekers nie. Die eenvoudigstes van eenvoudiges.
Hulle vra vir die Here: “Wie gaan die wêreld verander? Wie dra die towerstaf? Here, gaan U?”
En dan verklaar die Here: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Letterlik staan daar: Julle sal dinamiet word.”
“Here, ek is maar ’n veldmuis.”
“Nee, my kind, jy is dinamiet. Jy het soveel potensiaal. Jy is in staat om mure af te breek en grense oor te steek.”
Die oplossing is binne jou bereik.
LEES OOK: OPINIE: Blom daar waar jy geplant is
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
