Sport

Bulle se jonges kan sorg vir silwerware in trofeekas

Alhoewel die Blou Bulle se senior Curriebekerspan nie die uitspeelrondtes kon haal nie, kan hul junior spanne moontlik nog die mas opkom.

Die Blou Bulle se ondersteuners moet nou wel die teleurstelling verwerk dat hul senior Curriebekerspan nie die uitspeelrondtes kon haal nie, maar hul junior spanne kan darem nog sorg dat die trofeekas op Loftus Versfeld nie heeltemal leegstaan tot volgende seisoen nie.

Albei hierdie spanne het hul onderskeie halfeindstryde Saterdagmiddag op Loftus Versfeld gewen om deur te dring na die finale, wat volgende week in Kaapstad beslis sal word.

* o.19’s klop Luiperds

Die Blou Bulle se o.19-span, wat die ligafase van die seisoen in ABSA se reeks vir o.19’s onoorwonne afgesluit het, het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld seker gemaak van ‘n plek in die finaal, toe hulle die jong Luiperds met 37-21 gekop het.

Paul Anthony se spannetjie wemel van toekomstige sterre en hoewel die jong Luiperds hul bes probeer het en nooit opgegee het nie, was hulle nooit opgewasse vir die jong Bloues nie.

Die Bulletjies se dryfwerk was verwoestend met die gewese SA skolekaptein, loskopstut Pierre Schoeman, heel voor. Die Bulletjies het ook die vaste fasette oorheers en agter die agttal wat vorentoe gespeel het, kon losskakel Kobus Marais na hartelus die spel dikteer.

Binnesenter Ruhan Janse van Rensburg was oudergewoonte vernietigend op die aanval en verdediging, terwyl heelagter Jesse Kriel ook elke keer gevaarlik was as hy op volspoed by die agterlyn aangesluit het.

* o.21’s te goed vir jong Haaie

Die versterkte o.21 span van die Blou Bulle was ook net te goed vir die jong Haaie in hul halfeindstryd, wat ook op Loftus Versfeld beslis is.

Hierdie span, wat met ‘n Springbok en ‘n paar Curriebekerspelers in hul geledere gespog het, het hul eweknieë van die Haaie uiteindelik met 36-13 verslaan om volgende week teen die WP in die finaal te kan speel.

Nadat die Bulle aanvanklik die spel oorheers het, was dit die jong Haaie wat rondom rustyd teruggeveg het en die spanning het opgelaai.

Met manne soos Paul Willemse, Hencus van Wyk en kaptein Wiaan Liebenberg aan die voorpunt het die Bulle uiteindelik voorlangs begin oorheers.

Dit was juis die manne met ondervindig van seniorrugby was na vore getree het om verantwoordelikheid te neem. Nadat heelagter Jacques Rossouw kort voor rustyd gedruk het, was dit Springbok Jan Serfontein en die Bulslot, Paul Willemse, wat in die tweede helfte oor is vir ‘n drie elk.

Serfontein en William Small-Smith het hul kombinasie in die middelveld hervat, nadat hulle verlede seisoen die land aan die gons gehad het met hul spel in die junior wêreldbeker. Hoewel hulle nie die wêreld aan die brand gespeel het nie, was hulle tog solied en veral op die verdediging was hulle goud werd vir die Bulle. Die ander lid van hierdie besondere 10-12-13 kombinasie, Handre Pollard, het ook die telling aan die rol gehou met ses strafdoele.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button