Tukkies onttroon as Varsitybeker kampioene
Ná twee jaar as Varsitybeker-kampioene is die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se rugbyspan vanjaar onttroon nog voor die aanbreek van die halfeindrondte van die huidige toernooi. Tukkies het Maandag in Stellenbosch hul derde agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se Varsitybeker-reeks gely toe die Universiteit van Stellenbosch (Maties) hulle oortuigend met 41-24 verslaan het. Met dié nederlaag …
Ná twee jaar as Varsitybeker-kampioene is die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se rugbyspan vanjaar onttroon nog voor die aanbreek van die halfeindrondte van die huidige toernooi. Tukkies het Maandag in Stellenbosch hul derde agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se Varsitybeker-reeks gely toe die Universiteit van Stellenbosch (Maties) hulle oortuigend met 41-24 verslaan het. Met dié nederlaag is die Pretorianers nie net summier uit die reeks geskakel sonder dat hulle kon kwalifiseer vir die halfeindrondte nie, maar Maties het ook verlede jaar se vernederende nederlaag wat hulle aan die hand van Tukkies in die Varsitybeker-eindstryd gely het, behoorlik gewreek. Die Varsitybeker-reeks het vanjaar weer voldoen aan die organiseerders en borge se verwagtinge toe spanning en afwagting deel was van Maandagaand se laaste ligawedstryde. Nie minder nie as ses van die agt spanne in die reeks kon voor die begin van Maandag se wedstryde nog vir die halfeindrondte kwalifiseer. Dit was basies net die twee deelnemers uit Johannesburg, die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Johannesburg (UJ) wat reeds uitgeskakel is, maar albei van hulle kon nog ‘n invloed hê op die rangorde van die top kandidate indien hulle in die laaste rondte sou wen. Nie een van die twee spanne kon dit regkry nie, wat beteken het dat hul teenstanders, die Universiteit van Noordwes (Pukke) en die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) onderskeidelik eerste en tweede op die puntelys geëindig het. Die ander twee plekke in die halfeindrondte sou dus uitgespook word in die ander twee kragmetings van die laaste rondte ligawedstryde. Maties het met hul oorwinning toe die derde plek ingeneem, terwyl die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit van Port Elizabeth, ook bekend as die Madibaz, die vierde plek ingeneem het ondanks hul nederlaag teen die Universiteit van die Vrystaat (Shimlas). Die manne van Port Elizabeth het die uitspeelrondtes gehaal danksy die twee bonuspunte wat hulle Maandagaand teen die Shimlas verdien het, nadat hulle vier drieë kon druk en boonop met minder as sewe punte verloor het. Die wedstryd in Stellenbosch was van die begin af in spanning gehul, omdat die Shimlas en die Madibaz se wedstryd vroeg reeds afgehandel is en albei spanne in Stellenbosch dus geweet het hulle speel vir oorlewing. Tukkies het puik begin en binne die eerste 20 minute het hulle reeds twee drieë gedruk vir ‘n voorsprong van 16 punte. Dit wou lyk of die Maties, wat regdeur die seisoen tot dusver gesukkel het om hul beste vorm te bereik, eenvoudig nie goed genoeg sou wees om Tukkies se aanslag af te weer nie. Wat ookal Maties se afrigter, die oud-Springbok losskakel, Chris Rossouw, teen rustyd vir sy manne gesê het, dit het gewerk. Die belangrikste feit is Maties hul aanslag verander het. In die eerste helfte het hulle Tukkies voorlangs probeer troef, maar in die tweede helfte het hulle skielik die bal lustig begin rondgooi. Met Maties se skitterende losskakel, Robert du Preez, aan die spits het hierdie taktiek gewerk en hulle kon vyf drieë – almal gedruk deur agterspelers – in 40 minute inryg om Tukkies met die kous oor die kop huis toe te stuur. Die Varsitybeker kry dus vanjaar ‘n nuwe kampioen en vir Tukkies is dit terug na die tekenbord. Volgende jaar verander die reëls van die kompetisie en slegs bona fide studente kan deelneem, wat waarskynlik die verhouding tussen Tukkies en die Blou Bulle ook sal beïnvloed. Dié soms omstrede samewerking kan in die toekoms afgeskaal word, hoewel daar tog baie professionele spelers van die Bulle is wat ook ernstige studente by Tukkies is.
* In Pretoria-Wes het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) Maandagaand hul vyfde agtereenvolgende nederlaag in die Varsity Skild reeks gely toe die Universiteit van Kwazulu-Natal hulle met 55-24 oorrompel het.
Dit beteken dat TUT vir die tweede jaar agtereenvolgens laaste op die puntelys van dié kompetisie eindig.
TUT se span het vanjaar goed begin, maar teen die einde van die reeks sleg uitgesak. Die heropbou proses van dié universiteit se rugbyklub sal waarskynlik moeiliker gaan as wat aanvanklik vermoed is.
