Centurion haal uitspeelrondtes in Gemeenskapsbeker
Centurion-rugbyklub se spogspan het Saterdag op hul tuisveld daarin geslaag om die ligafase van die gemeenskapsbekerreeks onoorwonne af te sluit toe hulle met 32-elk gelykop gespeel het teen die sterk span van Brakpan, wat voor die begin van die toernooi een van die gunstelinge was. Die manne van Centurion het voor die begin van die …

Foto: Gordon Arons
Centurion-rugbyklub se spogspan het Saterdag op hul tuisveld daarin geslaag om die ligafase van die gemeenskapsbekerreeks onoorwonne af te sluit toe hulle met 32-elk gelykop gespeel het teen die sterk span van Brakpan, wat voor die begin van die toernooi een van die gunstelinge was. Die manne van Centurion het voor die begin van die toernooi geweet dat hulle harde bene gaan kou, nadat hulle in ‘n baie moeilike groep geloot is. Hoewel hulle in twee van hul ligawedstryde gelykop gespeel het, was die span van Christo Bezuidenhout steeds onoorwonne in dié fase. Hulle het na Saterdag se laaste wedstryd boonop met net soveel punte as Brakpan op die ligatabel geëindig, maar hul gunstiger punteverskil het veroorsaak dat hulle bo die manne van die Oosrand op die puntelys kon eindig. Dit sal waarskynlik onregverdig wees om name uit te sonder, maar die harde werk van Centurion se kaptein en losvoorspeler, Ryno Coetzee, moet tog vermelding kry. Hy is ook welverdiend met ‘n drie beloon. In die agterlyn was Gerhard van der Merwe ook weer op sy stukke en hy het die verdediging oudergewoonte goed beproef met sy krag en vaart. Hoewel Brakpan vyf drieë kon druk teenoor die tuisspan se vier, het Centurion se twee skoppers Steven Moir en Stanley Twiname onder hul span se helde getel as gevolg van die verskil wat hulle met die skopskoen kon maak. Centurion sal nou teen Hamiltons van die Kaap te staan kom in die kwarteindrondte van die toernooi, wat oor die Paasnaweek op Outeniqua Park-stadion in George gespeel sal word. Hamiltons is ‘n gewese nasionale klubkampioen wat hul afdeling met volpunte gewen het. Hulle het meer as 40 punte in al vier hul ligawedstryde aangeteken, wat ‘n aanduiding is van dié klub se krag. Centurion sal dus op hul heel beste moet wees as hulle hierdie hoë hekkie wil oorkom en vir die halfeindrondte wil kwalifiseer. Die wenner tussen Centurion en Hamilton sal in die halfeindrondte te staan kom teen die wenner van die kwarteindstryd tussen Despatch (OP) en Roodepoort (Leeus).
