Sport

Daar is weer hoop op Loftus

Ná hul rampspoedige toer, waarin hulle tot die tiende plek op die puntelys in die SuperRugby-toernooi teruggesak het, het die Bulls se oorwinning oor die Cheetahs die afgelope naweek weer hoop gebring dat hulle dalk tog die uitspeelrondtes in dié moeilike toernooi kan haal.

Die Bulls is terug op die wenpad. En ná hul oorwinning van 26-21 oor die Cheetahs op Loftus Versfeld is daar steeds hoop dat ondersteuners hul span in die uitspeelrondtes sal sien speel.

Die Bulls-kamp was onder enorme druk sedert hul uit Australasië teruggekeer het. Dit is geen geheim nie dat hulle elke oorblywende wedstryd in die ligafase van vanjaar se Super Rugby-toernooi sal móét wen om ’n kans te staan om wel onder die boonste ses spanne op die punteleer te eindig.

Hierdie toedrag van sake is egter glad nie onmoontlik nie. Die kompetisie het ’n baie delikate fase bereik waar ’n goeie wen ’n span oor ’n aantal teenstanders se koppe op die punteleer kan laat spring. Die teenoorgestelde is ook waar – een nederlaag kan ’n span (soos bv. die Bulls) buite bereik van die opposisie bo hulle plaas, en dan is hul lot dalk nie meer in hul eie hande nie.

Geen span wil graag in die situasie beland waar hulle moet hoop die spanne bo hulle op die punteleer verloor op die ‘regte tye’ nie, want dan word dit ’n dobbelspel waar hulle voor die uitspeelrondtes op geluk moet hoop.

Op hierdie stadium is daar egter net elf punte verskil tussen die Bulls en die voorlopers op die punteleer, die Sharks.

Die Sharks is tans op toer en hulle het verlede Vrydag geswoeg om die Rebels, wat tans elfde op die puntelys is, te klop.

Dinge gaan egter moeilik raak vir die manne van Durban want hulle moet nog teen die Brumbies, Crusaders en Blues speel. Hierdie drie spanne is steeds aanspraakmakers op plekke in die uitspeelfase. Die Sharks sal gevolglik baie beter rugby moet speel as dit wat hulle verlede week in Melbourne opgedis het as hulle hulle voorsprong wil behou.

Die Bulls se toer is agter die rug en dis geen geheim dat hulle op hul tuisveld gewoonlik ’n baie gevaarlike span is nie. Hulle het egter self ’n aantal moeilike neute om te kraak want hulle moet nog twee keer teen die Stormers (tuis en weg) én oor drie weke teen die Brumbies speel.

Dit is egter nie onmoontlik dat die Bulls die Sharks voor die einde van die ligafase kan inhaal nie want hul pad vorentoe is beslis makliker as dié van die Durbaniete. As die Bulls daarin kan slaag om aan te hou wen op hul tuisveld en die Sharks val ’n paar keer op toer vas, kan die ligafase – ná die breuk in Juniemaand vir internasionale rugby – ’n toutrekstryd tussen die Bulls en die Sharks word vir die gereserveerde plek vir ’n Suid-Afrikaanse span onder die top drie op die punteleer.

* Intussen het die Blou Bulle ook deurgedring na die halfeindrondte van die Vodacombekerreeks nadat hulle die Cheetahs se Vodacombekerspan Saterdag in Bloemfontein in ’n spannende stryd met 22-21 geklop het. Hoewel die Blou Bulle een drie minder as hul teenstanders gedruk het, was dit die akkurate skopskoene van Tian Schoeman en Tony Jantjies wat vir hulle die wa deur die drif getrek het.

Daar was egter ’n paar twyfelagtige beslissings waarvan ten minste een die Blou Bulle van ’n waarskynlike drie beroof het.

Die Blou Bulle speel eerskomende Vrydagaand teen die Lions op Ellispark in die halfeindrondte van hierdie reeks.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button