Hoërskool Gerrit Maritz vereer Danie Venter
Pretoria se junior swaargewig wêreld bokskampioen, Danie Venter, is onlangs deur die Hoërskool Gerrit Maritz, waar hy skoolgegaan het, met 'n spesiale toekenning vereer. Venter verdedig sy titel op 6 Junie in Pretoria.
Die groot dag van die Electric Storm-bokstoernooi, waarin vier wêreldtitelgevegte deel van die aksie gaan wees, kom vinnig nader.
In die hoofgeveg van hierdie toernooi gaan Pretoria se eie wêreldkampioen, Danie Venter, sy titel as die junior swaargewigkampioen van die Wêreldboksfederasie (WBF) teen Santander Silgado van Colombië verdedig.
Venter se gewildheid neem by die dag toe en die respek wat hy die afgelope maande met sy prestasies by Pretorianers afgedwing het, is die afgelope week bewys toe hy ‘n spesiale toekenning van Hoërskool Gerrit Maritz ontvang het. Venter was vanaf 1993 tot 1997 ‘n leerling aan dié skool en in daardie tyd het hy reeds as amateurbokser top prestasies behaal. Hy het as junior bokser verskeie nasionale amateurtitels ingepalm.
Kort voordat Martin Botha, hoof van Hoërskool Gerrit Maritz, aan Venter ‘n spesiale toekenning oorhandig het, het die bokskampioen die kans gehad om die leerlinge van die skool tydens hul algehele opening toe te spreek. Sy boodskap aan die leerlinge was dat hulle eerstens nooit moet ophou om groot drome te droom nie. Terselfdertyd moet hulle ook besef dat niks in die lewe bereik word sonder harde werk nie. Venter het die leerlinge aangemoedig om hierdie twee aspekte te kombineer en terselfdertyd aan hul eie vermoëns te glo. Hy het hulle verseker dat niemand se agtergrond teen hom sal tel as hy deur harde werk en dissipline sy drome bly nastreef nie.
Venter het aan Rekord gesê dat dit geen geheim is dat daar in ‘n skool soos Gerrit Maritz ‘n samestelling van leerlinge uit alle vlakke van die samelewing kom nie. Uiteraard is daar ook leerlinge wat baie moeilike persoonlike omstandighede ervaar, maar hy wou deur sy boodskap graag ook aan hulle die versekering gee dat hulle met die regte ingesteldheid wel ‘n sukses van hul lewens kan maak en ver bo hul omstandighede kan uitstyg.
Intussen sê ‘n woordvoerder van Real Steel Promotors, Pieter de Wet, dat kaartjies vir die Electric Storm-bokstoernooi tans besonder goed verkoop en dat hulle verheug is oor die belangstelling wat boksliefhebbers van Pretoria in die toernooi toon.
Ander gevegte wat by hierdie toernooi te sien sal wees is die WBF interkontinentale junior swaargewigtitelgeveg tussen twee Suid-Afrikaners, Daniël Bruwer en Kevin Lerena, die IBF se internasionale junior swaargewigtitelgeveg tussen Thabiso Mchunu van Suid-Afrika en Julio Cesaer Dos Santos van Brasilië en die IBF internasionale super veergewigtitel tussen nog twee plaaslike boksers, Malcolm Klassen en Jasper Seroka.
Twee opwindende jong opkomende plaaslike boksers, Fikile Nyalunga en Sibusiso Zingange, sal ook in voorgevegte in aksie wees teen teenstanders wat nog bekendgemaak sal word.
Die toernooi vind op 6 Junie in die Rembrandtsaal op die sportkampus van die Universiteit van Pretoria plaas en kaartjies is nog beskikbaar.
Navrae: Pieter de Wet by 076-760-3883.
