Sporthoogtepunte vir 7-8 Junie 2014
Hoewel daar nie hierdie naweek enige SupeRugby aksie sal wees nie, is daar tog genoeg rede om òf die jasse uit die kas te haal en ’n paar sportbyeenkomste in Pretoria by te woon, òf met ’n koppie sop voor die TV plaas te neem vir baie aksie vanoor die wêreld. Rugby * Die Beeldtrofee …

Hoewel daar nie hierdie naweek enige SupeRugby aksie sal wees nie, is daar tog genoeg rede om òf die jasse uit die kas te haal en ’n paar sportbyeenkomste in Pretoria by te woon, òf met ’n koppie sop voor die TV plaas te neem vir baie aksie vanoor die wêreld.
Rugby
* Die Beeldtrofee skolereeks word hierdie naweek voortgesit en ’n paar interessante tweestryde lê voor vir die liefhebbers van skolerugby. Daar is egter baie skole wat hierdie naweek nie aan enige wedstryde deelneem nie, weens die eksamentyd wat tans heers.
– Centurion het dit verlede naweek so byna wéér gedoen, toe hulle eers in die doodsnikke van hul wedstryd teen Waterkloof hul greep op die wedstryd verloor het. Waterkloof het die wenpunte ná die laaste sirene aangeteken. Centurion se tweestryd met Garsfontein, wat tot dusver nog alles voor hulle platgevee het in die Beeldtrofee toernooi, sal groot belangstelling lok.
– Affies sal probeer om hul verlore eer gedeeltelik te herstel wanneer hulle gasheer speel vir Eldoraigne.
– Pretoria Boys High ontvang die King Edward School (KES) op hulle velde vir nog ’n Gauteng skolederby.
* Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria se vyfde rondte breek hierdie naweek aan. Hoewel daar nie ’n wedstryd sal wees met enige van die sogenaamde “top vier” teen mekaar in aksie nie, sal die wedstryd tussen Tukkies en TUT tog baie belangstelling wek. TUT het verlede week vriend en vyand verras deur vanjaar se Gemeenskapsbeker kandidaat, Centurion, te klop en op hul tuisveld in Pretoria-Wes kan hulle dalk net vir Tukkies probleme gee.
– Polisie en Harlequins is deesdae bure, maar daar sal waarskynlik nie sprake wees van té veel vriendskap as hul eerstespanne eers op die veld gedraf het nie. Polisie behoort egter te sterk te wees vir die Blokkiestruie.
– In die derde wedstryd van die naweek reis Centurion na die Moot om die Naka Bulle te ontmoet. Laasgenoemde sal waarskynlik met ’n groot poging vorendag kom om te kyk op hulle ook ’n verrassing teen die sukkelende Centurion kan lewer.
– Oostelikes het hierdie naweek ’n loslootjie.
* Vanjaar se Curriebekerreeks lyk ’n bietjie anders as ander jare, omdat daar in Junie en Julie ’n kwalifiseringstoernooi plaasvind waarin die agtste deelnemer aan die premierliga-afdeling bepaal sal word. Daar sal oor die volgende sewe weke elke naweek drie wedstryde plaasvind, waarin die Valke, Luiperds, Griekwas, Griffons, Grens, SWD en Boland teen mekaar sal speel. Die uiteindelike wenner in dié reeks wedstryde sluit by die Premierliga aan wat in Augustus afskop, terwyl die oorblywende ses spanne dan die deelnemers aan die Eersteliga sal vorm. Hierdie naweek begin die kwalifiserende toernooi met wedstryde tussen Griekwas en Grens (Vrydagaand), terwyl die Luiperds teen SWD en die Griffons teen Boland Saterdagmiddag sal plaasvind. Die Valke het ’n loslootjie.
* Die naweek se groot rugby is natuurlik die begin van die Springbokke se seisoen, wanneer hulle Saterdagmiddag om 17:00 teen ’n baie gedugte Wêreldspan op Nuweland in Kaapstad uitdraf.
Hokkie
Hokkieliefhebbers sal kan uitsien na aksie deur Suid-Afrika se nasionale manshokkiespan hierdie naweek wanneer hulle teen Korea speel in die wêreldbeker toernooi. Hoewel die wedstryd reeds Vrydag plaasgevind het sal daar wel later in die naweek weer heruitsendings daarvan op TV wees. Die Suid-Afrikaanse vrouespan speel ook hierdie naweek by die wêreldbeker toernooi teen China.
Padwedlope
Na die moordende Comrades sal baie padwedloop atlete seker hierdie naweek rus, maar vir diegene wat nie die beroemde ultra marathon in KwaZulu Natal aangedurf het nie, is daar Saterdagoggend die geleentheid om aan die Race For Faith by die Silver Oaks Crossing winkelsentrum in die Ooste van Pretoria deel te neem.
Atletiek
Atletiek Gauteng Noord bied Saterdag die Interprovinsiale Landloopkampioenskappe by die Hoërskool Eldoraigne aan. Die program begin reeds om 10:00 met die mans se ope wedloop en die laaste wedloop van die dag sal om 15:20 plaasvind, wanneer die o.14 en o.15 seuns sal wegspring.
Netbal
Suid-Afrika se eerste ware professionele Netbaltoernooi, die Brutal Fruit Netball Cup, bereik hierdie naweek die uitspeelfase. Saterdag sal die aksie om 12:15 begin wanneer die eerste uitspeelwedstryde gespeel word. Teen Saterdagaand 19:00 sal die halfeindrondtes plaasvind. Sondag begin die aksie om 13:00 met die uitspeelwedstryde vir die derde en vierde plekke, terwyl die groot finaal om 15:00 sal begin. Die toernooi word beslis in die Rembrandtsaal op die sportkampus van Tukkies. Twaalf professionele spanne vorm deel van die reeks en die plaaslike span staan bekend as die Jaguars.
Tennis
Vir tennisliefhebbers is daar hierdie naweek die hoogtepunt van die Franse Ope op die Roland Gaross bane in Parys, wat op TV gevolg kan word. Na vele verrassings en top spelers wat vroeg in die toernooi reeds gesneuwel het, sal die vroue finaal oudergewoonte Saterdagmiddag plaasvind, terwyl die mansfinaal Sondag gespeel behoort te word.
Motorwedrenne
Vir die liefhebbers van motorwedrenne is daar hierdie naweek die Kanadese Formule Grand Prix wat Sondag in Montreal plaasvind.
