Sport

Druk bou op vir Blou Bulle se spanbestuur

Die Blou Bulle se Curriebeker veldtog van 2014 kon nie op ’n slegter noot begin het nie. Hul vernederende nederlaag van 41-13 teen die Leeus sal egter dalk eers later in die reeks in perspektief gestel word. Daar was verlede week twee strome te bespeur onder die Bulle se ondersteuners. Die een, waarskynlik bestaande uit …

Die Blou Bulle se Curriebeker veldtog van 2014 kon nie op ’n slegter noot begin het nie. Hul vernederende nederlaag van 41-13 teen die Leeus sal egter dalk eers later in die reeks in perspektief gestel word. Daar was verlede week twee strome te bespeur onder die Bulle se ondersteuners. Die een, waarskynlik bestaande uit die meeste Bloubul ondersteuners, was negatief. Hulle vertrou eenvoudig nie meer vir Frans Ludeke nie en dié beleërde afrigter van die Bulle het ook nie veel gedoen om hul opinie te verander nie. Veral toe hy verlede week gepols is oor sy span se speelstyl en hy steeds nie die sogenaamde “hoogskop-en-storm” taktiek wou afsweer nie. Die Leeus se aanvallende spel was boonop voorspelbaar, maar die Blou Bulle was steeds nie gereed daarvoor of in staat om dit te hanteer nie. Tradisionele Bloubul rugby is eenvoudig nie moontlik sonder ’n pak voorspelers wat voorlangs oorheers nie. Die wyse waarop die Leeus, met ’n klompie “weggooikinders” van ander provinsies onder hul vaste vyf, die spel Saterdag oorheers het, laat ernstige vrae ontstaan oor die manier waarop spelers die afgelope paar seisoene by Loftus Versfeld gekeur en laat gaan is. Die Leeus se 22-tal het immers gekrioel van spelers wat op Loftus geweeg en te lig bevind is. Hierdie situasie laat ook vrae ontstaan oor die vermoëns van die Bulle se spanbestuur. Dit kan eenvoudig nie langer verswyg word nie. Waarom kan Johann Ackerman en Swys de Bruin letterlik die “oorskot” van ander provinsies saam met ’n paar jong spelers gebruik en hulle binne een seisoen saamsnoer in ’n span wat kookwater rugby speel, terwyl die Bulle se spanbestuur niks uitrig met die keur van spelers wat hulle versamel het nie? Die ander stroom van Bloubul ondersteuners, weliswaar in die minderheid, glo dat daar tog tekens was in Saterdag se wedstryd dat die Bulle op pad is om weer ’n krag te wees en selfs soveel kan verbeter dat hulle teen Oktober ernstige aanspraakmakers op die titel kan wees in die Curriebeker. Hierdie ondersteuners glo dat die Bulle se vertoning teen die Leeus gesien moet word teen die agtergrond dat die Leeus die gunsteling is om vanjaar die Curriebeker te wen en dat hulle basies met ’n SupeRugby span in die Curriebekerreeks speel. Hulle het baie momentum opgebou in vanjaar se SupeRugby toernooi, wat nou aan hulle ’n reuse voordeel gee. Volgens hierdie denkrigting sal die Blou Bulle eers hier teen einde Augustus werklik na waarde geskat kan word as al die nuwe kombinasies eers begin werk en die Bloubul masjien op al sy silinders begin vuur. Net die tyd sal leer watter een van die twee denkrigtings sal teen einde Oktober rede hê om òf te glimlag òf weer te eis dat daar huis skoongemaak moet word op Loftus Versfeld.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button