Sport

Sport hoogtepunte, 30-31 Augustus 2014

Vir die naweek se sport hoogtepunte, lees meer.

Hoewel Suid-Afrikaanse sportliefhebbers hierdie naweek ‘n ruskans kry ten opsigte van internasionale rugby, is die sportkalender steeds propvol aksie en niemand sal kan kla dat verveeldheid deel van die naweek gaan wees nie.

Rugby

Klubrugby: Die skole-seisoen is nou verby en selfs die senior klubs in Pretoria het reeds hul seisoen afgesluit, maar daar is nog een belangrike verpligting wat afgehandel moet word. Die Blou Bulle se Eersteliga klubs speel Saterdag op Loftus Versfeld se B-, C- en D-velde in hul verskillende eindstryde. Veral vir ‘n klub soos die Dragons is hierdie eindstryde baie belangrik, want hulle kan moontlik kwalifiseer om volgende jaar Carltonbekerrugby te speel.

Curriebeker: Die druk op die Blou Bulle sal Saterdag op Loftus Versfeld groter wees as ooit tevore, wanneer hulle om 17:00 teen die WP uitdraf. Die Kapenaars is onoorwonne tot dusver in die reeks, terwyl die Bulle dringend op soek is na hul tweede oorwinning.

Die aksie op Loftus Versfeld begin reeds om 13:00 met die o.19’s se wedstryd, terwyl die o.21’s daarna aan die beurt kom.

Padwedlope

Die tyd het uiteindelik aangebreek vir die grootste padwedloop was jaarliks in Pretoria aangebied word. Sowat 25000 atlete en kwazi-atlete sal Saterdag om 14:00 by SuperSport Park in Centurion wegspring in vanjaar se SPAR woman’s race. Die wedloop sal vanjaar op twee verskillende roetes plaasvind om die organiseerders se taak makliker te maak om diegene in die 10km wedloop en diegene in die 5km uitmekaar te hou. Albei wedlope sal egter steeds op die krieketveld in die stadion klaarmaak.

Krieket

Suid-Afrika se nasionale krieketspan, die Proteas, is nog in Zimbabwe, waar die driehoekige reeks tussen dié twee lande en Australië in Harare plaasvind. Suid-Afrika het reeds die afgelope week met Australië afgereken en hul wedstryd teen Zimbabwe vind op Donderdag 4 September plaas.

Intussen het die Suid-Afrikaanse vrouespan ook in Engeland aangekom vir hul toer in dié land. Hul eerste Pro20 wedstryd sal op Maandag 1 September in Chelmsford gespeel word. SuperSport sal al hul wedstryde in Engeland uitsaai.

Eerskomende Donderdag en Vrydag vind die eerste The Global Softech Sesse toernooi plaas by SuperSport Park. Provinsiale spanne van oor die hele land, sal deelneem. Saterdag en Sondag kom die internasionale deel van die toernooi aan die beurt, wanneer spanne van oral uit Afrika ook deel sal neem. Meer hieroor volgende week.

Atletiek

Die bekende en gewilde Diamantliga atletiekreeks, wat wêreldwyd met sowat 15 byeenkomste beslis word, het die afgelope week in Zurich, Switserland, puik prestasies opgelewer en dit stuur af op ‘n puik finale byeenkoms, wat Vrydag in Brussels sal plaasvind. Verskeie Suid-Afrikaners het reeds gesorg dat die atletiekwêreld van hulle kennis neem.

Die Tukkie, Cornel Fredericks (400m hekkies), het byvoorbeeld puik presteer in hierdie week se byeenkoms in Zurich. Alle oë uit Suid-Afrika sal dus Vrydag op hom en ander Suid-Afrikaanse atlete soos André Olivier (800m) en Wayde van Niekerk (400m) wees.

Tennis

Die laaste sogenaamde “Grand Slam” toernooi van die jaar bereik hierdie naweek reeds die halfpadmerk. Die Amerikaanse Ope tennistoernooi is die laaste kans vir die wêreld se top spelers om hierdie jaar een van die vier groottes te wen. Die Arthur Ashe Stadion in New York sal in die komende week weer volgepak word.

Tot op hede is daar nie baie top sterre uitgeskakel nie en tennisliefhebbers kan hul lippe aflek vir puik aksie in die laaste week van hierdie toernooi.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button