
Na ’n breuk van een week keer die aksie van die Castle Rugby Kampioenskappe hierdie naweek terug met twee deurslaggewende toetse wat moet plaasvind. Dié aksie, saam met ’n paar interessante Curriebeker rugbywedstryde, behoort die hoogtepunte van die naweek te wees.
Rugby
Curriebeker: Ongeveer by die halfpadmerk van die Curriebekerreeks begin die punteleer nou stadig maar seker vorm aanneem en vir ’n paar spanne raak nederlae al hoe meer onbekostigbaar. Die Pumas spring hierdie week die Vrydagaand-wedstryd vry, want dis die twee Kaapse spanne (WP vs OP Kings) wat mekaar reeds Vrydagaand op Nuweland gepak het.
Die Pumas reis wel na Bloemfontein om te kyk of hulle hul tuis-sukses ook in weg wedstryde kan herhaal. Dié wedstryd begin om 15:00.
Om 17:00 verskuif die aandag na Durban, waar die Haaie en Griekwas slaags sal raak. Die Haaie sal verseker meer op hul hoede wees as verlede week teen die Pumas om nog ’n nederlaag teen ’n “klein unie” te vermy.
In Pretoria word die Jukskei derby van die eerste rondte herhaal, met dié verskil dat die Blou Bulle hierdie keer op hul tuisveld uitdraf. Die Leeus sal egter steeds die gunstelinge wees om hierdie wedstryd te wen. Die wedstryd begin eers om 19:00, maar die aksie op Loftus Versfeld begin reeds om 15:00 met die o.19’s se wedstryd, terwyl die o.21’s daarna aan die beurt kom.
Padwedlope
Lente is in die lug en baie meer drawwers word hierdie tyd van die jaar om verskeie redes op die pad waargeneem. Die eerste wedloop van die lente vind Saterdag-oggend by die Swartkop Lugmagbasis plaas. Die “Spirit of Flight” wedloop is ’n 10km wedloop vir drawwers of stappers en die wegspring is by die Swartkop Lugmagbasis.
Die wegspringtyd is om 06:30.
Krieket
Suid-Afrika se nasionale krieketspan, die Proteas, het die finaal gehaal van die huidige driehoekige reeks in Harare, waaraan Zimbabwe en Australië ook deelneem. Die finaal vind op Saterdag 6 September in Harare plaas en Suid-Afrika sal teen Australië speel om dié trofee as ’n eerste van hul nuwe seisoen te probeer inpalm.
Sondag speel die Suid-Afrikaanse vrouespan hul derde Pro20 wedstryd teen Engeland in Birmingham.
Saterdag en Sondag vind die hoogtepunt van die Global Softech Sesse toernooi plaas by SuperSport Park. Die internasionale deel van die toernooi kom dan aan die beurt, waaraan spanne van oral uit Afrika ook sal deelneem.
Tennis
Die Amerikaanse Ope tennistoernooi, die laaste sogenaamde “Grand Slam” toernooi van die jaar, bereik hierdie naweek sy hoogtepunt met die onderskeie enkelspel eindstryde wat Saterdag en Sondag sal plaasvind.
