
Hoewel die spanne in die Castle Rugby Kampioenskap hierdie naweek weer ’n ruskans gegun word, is daar steeds baie sport op die spyskaart om elkeen se smaak te pas.
Rugby
Curriebeker: In die Curriebekerreeks is die eerste rondte nou verby en die enkelrondte van sogenaamde ‘oorkruis’ wedstryde begin hierdie naweek. Die twee top spanne op die puntelys was albei in dieselfde groep en sal nou teen die ander spanne getoets word om te kyk of hulle bo-aan dié tabel kan vasbyt.
Die Leeus is die eerste van die twee top spanne wat Vrydagaand reeds teen die verrassingspakket van die seisoen, die Pumas van Nelspruit getoets is.
Die WP, wat heel bo an die puntelys is, kan hul teenstander ook nie onderskat nie. Griekwas het reeds vanjaar met die Sharks afgereken, terwyl hulle verlede week ook die Pumas se segetog gestuit het.
In Port Elizabeth sal die OP Kings hard probeer om hul eerste oorwinning van die jaar teen die Cheetahs te behaal, maar laasgenoemde weet hulle kan nie bekostig om weer te verloor nie.
Nog twee spanne wat nie kan bekostig om te verloor nie is die Blou Bulle en die Sharks, wat Saterdagmiddag op Loftus Versfeld slaags raak. Sonder hul geskorste kaptein, Deon Stegmann, sal die Blou Bulle kwesbaar wees, maar aan die ander kant sukkel die Sharks ook tans met hul vorm.
Krieket
Die Kampioeneliga krieketreeks se ligafase het aangebreek en die Cape Cobras het Vrydag reeds hul eerste wedstryd gespeel. Saterdag kom die Dolphins aan die beurt en Suid-Afrikaners sal hoop dat een van dié twee spanne vanjaar ’n deurbraak sal maak en deur sal dring na die finaal.
Intussen begin die plaaslike krieketseisoen hierdie komende week amptelik met die eerste wedstryde in die Sunfoil vierdag reeks wat aanbreek. Die eerste wedstryde word vanaf eerskomende Donderdag gespeel en die Titans se eerste teenstander is hul bure, die Highveld Lions. Dié twee spanne speel vanaf Donderdag op die Wanderers teen mekaar.
Stoei
Gauteng-Noord stoei se skoleliga vind Saterdag plaas by dié stoeivereniging se hoofkwartier in Menlopark. Dit is in 26ste straat, Menlopark. In dié unieke konsep neem stoeiers namens hul skole deel, net sos wat atlete en ander sportmanne ook vir hul skole in verskillende ligas sal deelneem.
Die aksie begin om 08:15 en die dag se verrigtinge maak om 14:30 klaar met ’n prysuitdelingsgeleentheid.
Jukskei
Gauteng-Noord Junior Jukskei bied Saterdagoggend weer hul jaarlikse interprovinsiale toernooi vir juniors spelers in Pretoria aan.
Dié toernooi, wat ook bekendstaan as die jaarlikse Bondedag, word aangebied by Cooper Park in 18de laan, Rietfontein. Dié toernooi is een van die grootste junior jukskeibyeenkomste in Suid-Afrika.
